Hi-Tec se nuwe Altitude VI het vroeër in Oktober op die rak verskyn, en Gerda Engelbrecht het eerste ’n paar in die hande gekry. Hier is haar indrukke.

Dis Oktober en die somer is om die draai, wat beteken die “verkeer” op Leeukop hier in Kaapstad gaan binnekort verdubbel en dat die staproetes weer weke en maande vooruit bespreek gaan wees. Hier is vandag se (gratis!) brokkie raad: As Hanlie Slim berg wil klim, het hy stéwels nodig. Hansie Dóm dra sommer sy draftekkies.

Ek het agt jaar gelede ’n vorige weergawe van die Altitudes gekoop. Dit was voor ’n vakansie in Rusland waar ek lang ente moes stap en erge koue verwag het. Die Altitudes was gemaklik, waterdig in sneeu en stewig, en het my selfs uit ’n paar grillerige toiletsituasies gered. (As jy al in lande met “spleettoilette” was, sal jy verstaan.) Sedertdien het ek waarskynlik duisend kilometer met daardie stewels afgelê. Die leerbostukke het goed gehou, maar ’n stout baba-worshondjie het ongelukkig sy tande op die een hak gesny en ’n stukkie afgeknaag. 

Onlangs het ons ’n lelike inbraak gehad – een van daardie waar hulle jou hele huis leegdra – en is die Altitudes met bytmerke en al weggedra. Ek was dus baie opgewonde toe Hi-Tec ons vra om die nuwe Altitudes op die proef te stel.

Die Altitudes is tuis in die berg.

As jy aan Hi-Tec-stewels dink, sien jy waarskynlik die Altitudes in jou geestesoog. Trouens, as jy aan die woord “stapstewel” dink, duik hierdie paar sjokoladebruin stewels dalk in jou gedagtes op. Sedert Hi-Tec sy eerste Altitudes in 1990 verkoop het, het dit een van die gewildste paar stapstewels in Suid-Afrika geword. (Ons het ’n leser wat brag dat hy sy Hi-Tecs al 20 jaar lank dra.)

Jy sien hulle óral. As jy nie self so ’n paar in jou kas het nie, is die kans goed dat jy iemand ken wat ’n paar het. Jy sien hulle in bakkies, in die Bosveld, en agter die basaartafel – en hulle is tuis daar omdat hulle ’n klassieke voorkoms het en so gemaklik is. Maar die Altitudes is in sy element op ’n bérgpad, want hierdie is ’n ernstige stapstewel met tegnologie wat spesifiek op die stapper gemik is.
Ek het die stewels die afgelope twee weke gedra en hier is my notas.

Eerste indrukke

Ek het die stewels op kantoor uit die skoenboks gehaal en my een kollega het dadelik opgemerk: “Sjoe, dis lig...” Hulle is inderdaad veer-veerlig, baie ligter as die weergawe wat ek gehad het. Hulle voel al lig in jou hand, en aan jou voete voel hulle soos pantoffels. (Gaan pas ’n paar aan as jy dink ek oordryf.) 

Nuut uit die boks. Dis hoe hulle langs die Hi-Tec Equilibrio lyk.

Voorkoms

Ek was bly dat Hi-Tec nie gekarring het aan die leervoorkoms nie.

Dit is steeds die klassieke sjokoladebruin wat ons leer ken het en liefhet, en wat maak dat jy hulle ook fliek en Nuweland toe wil dra. Die veterhakies bied daardie ekstra detail wat die stewel afgerond en stylvol laat lyk. As jy na die stewel kyk, voel jy “dit is mos hoe ’n stapstewel behoort te lyk”.

Die enkels 

Ek het die stewels vir ’n “spin” gaan vat op Leeukop.

Dis nie ’n baie tegniese roete nie, maar dit gee jou darem ’n indruk van hoe die Altitudes in die berge sal vaar. Die stewels was supergemaklik van die eerste dag af. Voor ’n meerdagstap sal ek hulle steeds beter probeer inloop, maar ek het nie blase gehad of ongemak gevoel nie. Die stewel sit stewig om die enkels, maar is steeds sag omdat die tong en enkel ordentlik gewatteer is.

Ek kan my net voorstel hoe heerlik dit in die winter gaan wees! Jy voet skuif ook nie rond binne die skoen nie.

Behoorlike sole, vir behoorlike vastrap.

Die buitesole

Dit was egter veral op die afdraand waar ek baie beïndruk was met die Altitudes. Ek het onlangs op ’n la-a-a-ang stap my bobeenspier op ’n afdraand seergemaak (van gly-gly loop vir kilometers ver) en dis steeds gevoelig.

Selfs waar ek nou op Leeukop moedswillig by steiltes afgeneuk het, het die Altitudes behoorlike vastrap gebied, wat soortgelyke beserings in die toekoms sal voorkom. Die stewel skop vas soos ’n 4x4-op Van Zylspas, want die sole is van Michelin®-rubber. Jou stewels het dus letterlik ’n paar “tyres” op. Dit maak die wêreld se verskil. 

Binnesole

Die Altitudes voel so gemaklik soos ’n paar duur veldloopskoene (“trail running shoes”), en dis waarskynlik omdat dit dieselfde OrthoLite® Impressions-tegnologie as duur veldloopskoene gebruik. Ek vermoed dit is ook wat die verskil aan die stewel se gewig maak.  

Die Hi-Tec Altitude VI

Tegniese aspekte

Die Altitude is ongetwyfeld ’n baie bekwame bergklimstewel. Hier is ’n opsomming van sy vernaamste kenmerke: 

• Die bostuk van egte leer is nie net duursaam en netjies nie, dit bevat ook Hi-Tec se i-Shield-tegnologie om dit water- en vlekbestand te maak.

• ’n Waterdigte membraan van Dri-Tec-materiaal hou die voet binne die skoen droog.

• Die OrthoLite® Impressions-tegnologie binne die skoen bevat skuimrubber wat stadig sy vorm herwin sodat jou stewels gemaklik bly op ’n meerdaagse stap.

• ’n Sool van Michelin®-rubber laat jou nie net soos ’n wafferse 4x4 op ’n afdraand vastrap nie, maar bied die nodige duursaamheid sodat jóú paar ook vir 20 jaar hou. 

Prys

Jy kan die Altitudes by Cape Union Mart koop teen R1899. As jy dink dis buitensporig, gaan kyk ’n slag weer wat kos ’n paar draftekkies nou. 

Laaste opmerkings

Die Altitudes het met weergawe VI nog ’n tree vorentoe gegee. Ek was vroeër lief vir die stewels, maar nou is ek versot op hulle. Wee die een wat hierdie paar by my probeer steel.