Kom ons sê eers vir jou wat jy wíl hoor... die Padverkeerswet laat dit wel toe. En jy kan dit boonop met jou EB-rybewys doen.

Nou vir die slegte nuus... die wet is egter só verwoord om voorsiening te maak vir vragmotors en trekkers wat meer as een sleepwa sleep. Wanneer die padverkeersregulasies ten opsigte van die brutokombinasiegewig en die remstelsel van die sleepkombinasie in ag geneem word, raak dit tegnies baie meer gekompliseerd om so ’n treintjie wettig te bestuur. 

Om, sê maar, ’n Sprite Swing (brutovoertuigmassa van 1240 kg) én ’n sleepwa met ’n BVM van byvoorbeeld 750 kg saam te sleep, geld die volgende vereistes:

  • Die trein: Die kombinasie van jou motor se voorbuffer tot agter jou sleepwa se nommerplaat mag nie langer as 22 m wees nie. Die kanse dat jou treintjie egter langer as 22 m gaan wees is so te sê onmoontlik. 
  • Sleepvoertuig: Die tarra van die sleepvoertuig moet meer as twee ton wees. ’n Toyota Prado, ’n Mitsubushi Pajero of ’n Nissan Patrol kwalifiseer onder meer in dié swaargewig-kategorie. Slepers met dubbelkajuitbakkies moet egter dubbelseker maak, want die nuwe Hilux 4x4 weeg byvoorbeeld net-net genoeg. Isuzu se 2.5-dubbelkajuitbakkie (ook 4x4) weeg 1 941 kg. Jy kan dus nie met hom dié treintjie sleep nie. Nie tensy jy iets aan jou sleepwa se remme doen nie.
  • Sleepwa: Jou sleepwa gaan spesiale remme moet kry. In die algemeen word dié tipe sleepwaens sonder remme vrygestel omdat die wet dit nie vereis nie. Maar regulasie 151 bepaal die twee sleepwaens word as een gesien as dit kom by die remme. Sodra jy dus jou sleepwa agter jou woonwa haak, moet die Ventertjie minstens inloopremme hê. Sodra die kombinasiegewig van die woonwa en die sleepwa (dit is totaal van die twee BVMs) jou sleepvoertuig se tarragewig oorskry, moet albei jou sleepgoed diensremme kry.  

Alta Swanepoel, ’n padvervoerkonsultant, sê om dié rede is die meerderheid treintjies op ons paaie onwettig. Moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie!