Die wet oor ligte op voertuie is nie so eenvoudig as wat ’n mens dalk dink nie – daar’s ’n hele paar regulasies ter sprake. .Regulasie 159 van die nasionale verkeerswetgewing lui ’n voertuig se hooflig mag nie hoër as 1,4 m bo die padoppervlak wees nie en nie laer as 450 mm nie. ’n Hooflig moet ook binne 400 mm van die kant van die voertuig af wees. (Dit sluit natuurlik motorfietse en driewielvoertuie uit).

4x4-professor
4x4-professor

’n Voertuig mag aan elke kant van die voorkant een hooflig hê wat kan wissel tussen ’n hoofstraal (brights) en ’n gedempte straal (dim). (Sien illustrasie 1.)

’n Voertuig mag aan elke kant van die voorkant een hooflig hê wat slegs ’n hoofstraal kan werp plus een lig wat slegs ’n gedempte straal kan werp. (Sien illustrasie 2.) ’n Voertuig mag aan elke kant van die voorkant een hooflig hê wat slegs ’n gedempte straal kan werp plus twee hoofligte wat slegs ’n hoofstraal kan werp. (Sien illustrasie 3.)

’n Voertuig mag aan elke kant van die voorkant een hooflig hê wat kan wissel tussen hoof en gedemp, plus een lig wat slegs ’n hoofstraal kan werp. (Sien illustrasie 4.)

4x4-professor
4x4-professor

Die bewoording van die wetgewing kan geïnterpreteer word dat jy ’n maksimum van ses hoofligte (sien illustrasie 3 en 4) aan die voorkant van jou voertuig hê. Regulasie 160 van dieselfde wetgewing lui ’n hooflig se hoofstraal moet die bestuurder in staat stel om ’n ander voertuig of persoon minstens 100 m ver in die donker te kan sien.

’n Hooflig moet ook ’n skakelaar hê waarmee jy die hoofstraal kan aan- en afskakel of demp. Regulasie 161 bespreek die eienskap van ’n gedempte lig deur die volgende formule te gebruik: {{(h_1~-~h_2)} oor L}~x~100, maar ook wáár die straal op die padoppervlak val, volgens die formule 200 x h1.

Ons gaan eerder nie die berekening hier bespreek nie – glo maar net as daar ’n SANS-, SABS- of E-waarmerk op jou voertuig se hooflig is, voldoen dit aan die vereistes van regulasie 161.

Maar wat van kolligte?

Dit is hier waar dinge, wel, duister raak. Die wetgewing se beskouing van wat die woord “kollig” beteken, verskil waarskynlik van joune.

Die wetgewing is in Engels geskryf en praat van ’n spot lamp. Volgens regulasie 177 mag ’n kollig nie verstelbaar wees om in enige rigting te skyn nie, tensy dit op ’n ambulans, reddingsvoertuig, brandweerwa, polisie- of verkeersvoertuig aangebring is.

’n Kollig wat van rigting kan verander, mag ook deur ’n lewensredder en veearts gebruik word, asook ’n insleep- of hersteldiens wat noodsaaklike dienste verrig (soos elektrisiteitstoevoer) – en dan mag die ligte slegs gebruik word op die toneel van die diens.

Die wetgewing oor kolligte is oënskynlik gekant teen die verstelbare ligte wat deur veldwagters gebruik word, en in ’n stadium ook deur 4x4-entoesiaste. Regulasie 185 sluit af dat slegs ligte wat hierbo bespreek is, op jou voertuig aangebring mag word.

Die slotsom is dat jy wel een paar kolligte (soos ons dit ken) op jou trokkie mag aanbring mits dit aan die voorwaardes van regulasie 159 voldoen. Met ander woorde ’n voertuig mag aan elke kant van die voorkant een hooflig hê wat kan wissel tussen hoof en gedemp, plus een wat slegs ’n hoofstraal kan werp (jou kollig).

Dit moet binne 400 mm van die kant en niks hoër as 1,4 m en niks laer as 450 mm van die padoppervlak af wees nie. Uitsonderings is daardie klein oranje (soms groen) liggies op vragmotors se dak, en die vorige Nissan X-Trail wat met kolligte op die dak uit die fabriek gekom het. Die wetgewing se bewoording is ongelukkig lomp en hou nie by met die tegnologie nie.

Die regulasies verwys byvoorbeeld na ’n lig as ’n lamp, in enkelvoud, wat deur verkeersowerhede vertolk word as een gloeilamp. Dit is ’n vertolking wat dikwels ook deur landdroste ondersteun word, en daarom mag ’n spietkop jou beboet omdat jy LED-kolligte gebruik wat tegnies uit tientalle lampe bestaan – ongeag of dit die E-, SABS- of SANS-waarmerk het. Tog word LED-dagryligte – op ieder en elke moderne voertuig – nie as ’n oortreding beskou nie.

Dit is om dié rede dat verkeersbeamptes nie konsekwent is met die toepassing van die wet nie. Die feit is daar ís nie duidelikheid oor kolligte nie. ’n Redelike verkeersbeampte sal een paar LED-kolligte op jou bosbreker oorsien, maar nie ’n ligstaaf met ewe veel LED’s toelaat nie. 

4x4-professor
XENON
4x4-professor
LED
4x4-professor
HALOGEEN

Koel, neutraal of warm?

Daar is drie hoofkategorieë vir hoofligte: filament, xenon en LED. Dié ligte skyn teen verskillende kleurtemperature (nee, dit het niks met hitte uit te waai nie) wat wissel tussen geel en turkoois.

Ons meet die kleurtemperatuur in ’n eenheid wat Kelvin (K) genoem word. Filamentligte is die oudste en gebruik ’n tungsten-filament en halogeengas om ’n warmkleurige lig (4 000 K) te werp.

Xenonligte, ook bekend as HID-ligte, skyn ’n helder, koel lig (6 000 K) wat wissel tussen wit en effens turkoois.

LED-ligte is die jongste op die mark en jy kry hulle in ’n verskillende grade van helderheid en verskillende kleurtemperature. Die warm lig wat deur tungsten en halogeen geskep word, is dalk nie uitermate skerp nie, maar dit skep meer kontras in die donker sodat jy makliker ’n koedoe langs die pad kan raaksien. Dit gee ook beter dieptevisie en is minder geneig om jou oë moeg te maak.

Die koue lig van xenonligte skyn ’n barshou en jy kan baie verder met hierdie soort ligte sien as met halogeenligte.

4x4-professor

Ongelukkig verlaag dit ook die kontras én kleurversadiging, wat dit soms moeiliker maak om ’n bok langs die pad te gewaar. Hulle is ook ’n pes vir aankomende verkeer omdat hulle so helder is – en daarom dikwels ook onwettig.

LED-ligte as amper so helder soos xenon, maar hulle gebruik minder elektrisiteit, het ’n langer lewensduur as halogeen én xenon, en jy kry hulle in ’n verskeidenheid van kleurtemperature wat wissel tussen warm en koud.

Kies ’n LED met ’n neutrale kleurtemperatuur (5 000 K) vir die beste van albei wêrelde. As jy in die donker op ’n stofpad in konvooi ry – iets wat jy tot elke prys moet vermy – is dit raadsaam dat die ou met die skerpste ligte voor ry terwyl dié wat volg, hulle ligte gedemp hou en mislampe aanskakel.

’n Vyftigrandjie vir jou as jou mislampe oranje plastiekdoppe het, want die lang golflengte van amber lig skyn beter deur stofwolke as die helder wit lig van jou hoofligte – ook deur reën en mis.

Wat kom waar?

Kol- en spreiligte kan dieselfde helderheid hê, maar ’n kollig se weerkaatser is só gevorm dat die lig in ’n dunner straal oor ’n langer afstand gewerp word. Dit is dus die een as jy ver wil sien.

4x4-professor
4x4-professor

’n Spreilig se weerkaatser werp ’n wye straal wat ’n groter deel verlig, maar hy skyn nie so ver as ’n kollig nie. Kolligte word tipies vasgebout sodat hulle reguit vorentoe wys, terwyl spreiligte dikwels effens na die kant toe gedraai is om die veld rondom jou te verlig. In ’n ideale wêreld waar verkeerswette jou nie kniehalter nie, sou ons amber mislampe so laag as moontlik op ’n bosbreker wou aanbring, kolligte bo die voorruit in die middel van die dak wat vorentoe skyn, en spreiligte langs die kolligte – ook op die dak – wat die veld langs die pad ophelder. Én dan ’n verstelbare kollig wat ons met die hand ronddraai sodat jy ’n foto kan neem van ’n luiperd met sy prooi hoog in ’n boom.

Dit is helaas verbode, selfs al hou dit jou veilig.

’n Bietjie geskiedenis

William Thomson was ’n Britse wiskundige aan die Universiteit van Glasgow wat bekendheid verwerf het met sy eerste en tweede wet van termodinamika asook die vasstelling van die absolute vriespunt teen -273,15 ºC.

Nadat koningin Victoria hom in 1866 tot ridder geslaan het, is hy die titel baron Kelvin gegee – na die Kelvinrivier naby Glasgow.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook