Foto's: Esma Marnewick

Shakila-tentkamp, Modimolle

Moenie dat die Shakila- private natuurreservaat se afgeleefde en onbemande ontvangskantoor jou van stryk bring nie. Laat jouself in by die hek en volg die bordjies tot by jou safaritent.

Kyk, ’n mens kan sien die tentkamp se gloriedae is aan ’t kwyn, maar dinge is skoon, netjies en huislik. Trouens, dit voel soos ’n safaritent wat jou ouma versier het: Hier’s matte wat nie pas nie, gehekelde lappies op die bedkassies, bal-en-klou-stoele... Maar hier is alles wat ’n mens nodig het en selfs ’n paar onverwagte luukshede soos ’n buitelugstort (warm) en ’n borrelbad met ’n uitsig oor die bosveld! En vir die minder avontuurlustiges is hier ’n badkamer met ’n bad.

Die blyplek is gebou van klip en seil met ’n houtdek wat hoog teen ’n hang sit. Die tente is privaat en het slaapplek vir ses tot agt mense. Oorweeg dit vir ’n naweekkuier saam met vriende – om die vuurput in die lapa is immers die beste plek om tot laataand wêreldprobleme op te los.

Die vriendelike eienaar, Theunis Kruger, sal ’n draai kom maak – hy bly al 31 jaar in die kontrei en het ’n lekker storie of twee: Die Voortrekkers het glo die Kranskop hier naby vir die piramides aangesien en gedink hulle is in Egipte – die dat die rivier wat ’n halwe kilometer noordwes verbyvloei, die Groot-Nylrivier genoem word.

Wat pla? Hier is erwe te koop in die reservaat; dus hoor ’n mens soms ’n geboor en getimmer.

Koste Vanaf R760 p.n. vir 2 mense, R240 per ekstra persoon en R130 per ekstra kind (slaapplek vir 6 mense). En ’n eenmalige R50-besprekingsheffing.

Waar? Die tentkamp is sowat 18 km suidwes van Modimolle. Jy draai van die R101 af.

Kontak 014 161 0724; shakila.co.za


AfriCamps, Robertson

Rondom jou staan die groen heuwels van die Langeberg so dig teen mekaar dat dit lyk asof hulle mekaar uit die pad uit druk sodat jy elkeen kan sien. Jy sit hulle en dophou met ’n koppie koffie in die hand op die houtdek van ’n safaritent tussen die fynbos.

AfriCamps het ’n koel konsep beet. Die maatskappy bou byderwetse selfsorgtentkampe in gevestigde reservate en gasteplase. Dié een is in die Pat Busch-natuurreservaat.

Op jou bed is wit linne en hier is vars veldblomme op die tafel. Vir snikheet somerdae is hier lugverkoeling en vir koeler aande ’n kaggel (en elektriese komberse!).

Sodra jy die dag gegroet het, trek jy jou stapstewels aan en verken die hange van die berge op een van drie roetes – kyk in die boekie in jou tent watter een se gradiënt ooreenstem met jou fiksheidsvlak.

Terug in die vallei kan jy op die plaasdam roei, of gryp gou jou baaibroek en ’n leesboek en stap na die swembad. Gooi jou handdoek oop op die groen grasperk en verwyl die res van die dag hier.

Hou die son dop soos hy oor die lugruim klim en sorg dat jy op jou houtdek is voor die son agter die berg verdwyn.

Wat pla? Die werkoppervlak in die kombuis is piepklein – daar is byvoorbeeld nie plek vir ’n skottelgoedrak nie – dié moet jy op die etenstafel staanmaak.

Koste Vanaf R1 140 p.n. vir 2 mense, R200 per ekstra persoon, R100 per ekstra kind (slaapplek vir 5).

Waar? Die tentkamp is sowat 17 km noordoos van Robertson op die Klaasvoogds-Wes-pad.

Kontak 063 170 4222; africamps.com

Wat nog? AfriCamps het soortgelyke tentkampe naby Oudtshoorn, Stanford, Hazyview, Swellendam, Plettenbergbaai en Wildernis.


Spekboom-tentkamp, Addo-olifant- nasionale park

Foto: Suzaan Hall

As ’n mens by die Spekboom-tentkamp stilhou en die hek agter jou toemaak, voel dit byna soos Kersfees: Net tien mense mag vanaand hiér slaap, diep in die Addo-olifant- nasionale park (toemaar, hier is ’n heining wat die diere uithou). En jy hoef nie tent op te slaan nie!

Dra julle goed al met die voetpaadjie tot by jou tent. Sit die ketel op die stoof in die gemeenskaplike kombuis vir koffie en gaan loer gou of daar iets aangaan by die Spekboom-skuiling. (Ander gaste het glo al snags olifante, hiënas en selfs renosters hier gesien, maar met ons besoek is die watergat verlate.) Of sit op die stoep voor jou tent met iets kouds, geniet die stilte en kyk of ’n rooikeelfisant julle kom groet.

Die vyf tente is uitgesprei en word omring deur spekbome – jy weet dus nie juis van enige bure nie.

Elkeen het twee beddens, ’n bedkassie met ’n sonkragliggie, ’n klerekas, twee kampstoele, ’n kamptafeltjie en ’n braaiplek. Beddegoed en handdoeke word verskaf. Die gemeenskaplike ablusiegeriewe het twee warm storte en twee spoeltoilette, en die kombuis ’n gasstoof, -yskas en -vrieskas.

Dis nie ’n luukse tentkamp nie. Maar die lekkerte van Spekboom lê nie in die geriewe nie. Wanneer almal anders by die Hapoordam (2 km van die tentkamp af) laatmiddag die motors moet aansluit om betyds by die parkhek uit te wees, kan jy nóg ’n rukkie sit en kyk hoe drink die olifante. Jy bly immers net hier anderkant!

Pak die volgende oggend ’n koffiefles in en ry ’n draai deur die park. Hou stil by die Jack’s-piekniekplek (1,5 km van Spekboom af). Hier is 20 netjiese piekniekplekke, elkeen met sy eie tafel en braaiplek. Of gaan rek laatmiddag bene by die Kadouw-uitkykpunt terwyl julle kyk hoe die son sak.

Wat pla? Hier is basiese eetgerei, maar bring jou eie bottel- en blikoopmaker, snyplank, skerp messie en afdroogdoek. En braaihout! ’n Kopliggie werk goed vir die paadjie badkamer toe.

Koste R1 019 p.n. vir 2 mense. Onthou: Jy moet ook die bewaringstarief betaal: volwassenes: R69 p.p.p.d.; kinders: R35 p.d. Gratis met ’n Wild Card.

Kontak 042 233 8600; sanparks.org

Wat nog? Tent 5 is die verste van die ingangshek af, maar die naaste aan die watergat – jy moet jou koelboks verder dra, maar kan dan gereeld loer of daar aksie is.

– Suzaan Hall


Oewerzicht-gasteplaas, Greyton

Krap julle kop oor ’n venue vir Pa se 70ste waar die héle familie lekker kan saam kuier? ’n Plek wat elkeen se voorkeur en begroting pas? Oorweeg gerus die Oewerzicht-gasteplaas.

Aan die noordekant van die Sonderendrivier is twee bekostigbare safaritente en vier eenhede van klip met ’n gemeenskaplike kuierplek én stookbad onder ’n staning bloekombome. Vir die geharde kampeerders is hier ook ’n kampterrein ’n entjie stroomop.

Die safaritente met wit linne en springbokvelletjies voor die dubbelbed kan jou vir ’n oomblik laat dink jy’s iewers in ’n lodge in Afrika. Die tente is en suite met ’n braaiplek, yskas en elektrisiteit. Die twee tente het elkeen het ’n stel trappe tot in die water.

Nee kyk, jy gaan jou kinders heeldag nie sien nie. Oewerzicht is oord gemeng met plaas: Hier is groot groen grasperke, klimrame, ’n tennisbaan, Tarzantoue, ’n hangbrug en ’n soort vlot wat die kinders oor die rivier kan trek én ’n vriendelike skaaphond!

Dus kan die grootmense rustig langs die vuur ’n glasie klink op Oupa.

Wat pla? Met ons kuier het daar soms ’n klankie van ’n septiese tenk verbygetrek.

Koste Kamp: R360 p.n. vir 4 mense, R90 per ekstra persoon (slaapplek vir 6) Safaritent: R770 p.n. vir 2 mense. Klipeenhede: R990 p.n. (die eenhede is nuut en het ’n kaggel). Hier’s netjiese selfsorgkothuise aan die ander kant van die rivier – vanaf R1 155 p.n. vir vier mense.

Waar? Oewerzicht is sowat 10 km wes van Greyton. Die plaas is bereikbaar met ’n gewone motor, maar jy gaan jou sakke oor ’n hangbrug moet dra na die tente toe. Voertuie met ’n hoë grondvryhoogte kan tot by die tente ry.

Kontak 028 254 9831; oewerzicht.co.za

Wat nog? Greyton se Roosfees is die naweek van 27-28 Oktober, dan kan besoekers gratis deur van die plaaslike mense se tuine stap, soms selfs met ’n gratis glasie vonkelwyn. Bespreek sommer nou.


Tamboti-tentkamp, Krugerwildtuin

Laat ek oop kaarte speel: Die Tamboti-tentkamp is my gunsteling-kamp in die wildtuin. Trouens, dis my gunsteling-tentkamp in die wêreld! Maar kom ons kyk na die feite: Dis in uitstekende wildkykgebied – nes jy uitry by die kamp, is ’n stuk grasveld waar wildebeeste, sebras, rooibokke en soms ’n renoster of twee wei. Die aasvoëls sit in die bome in die tentkamp en wag vir aksie!

Tweedens – byna al die tente het ’n uitsig oor die droë rivierbedding van die Timbavatirivier. Klokslag laatmiddag draf ’n hiëna verby terwyl die bobbejane vir die nag skarrel na die hoë bome aan die oorkantste wal. En laatnag begin die saaghuil van ’n luiperd... en dis net buite die kamp.

Binne die kamp is net so baie aksie – jy moet paraat wees by die braai of ’n ratel gaps jou tjoppie. Nagapies en skopsuile kyk wie kan die hardste raas terwyl ’n muskeljaatkat onder jou tent se houtdek in verdwyn.

Hou die volgende in gedagte: Die meeste van die tente in die Kruger is nie toegerus is nie – jy deel ablusies en ’n kombuis. Jou geriewe bestaan uit beddens, ’n yskas, tafel en stoele, en ’n braaiplek – jy moet dus jou eie breekware en dinge saambring asof jy kamp. Jy kan wel die breekware huur by ontvangs teen R50 per nag. As gerief vir jou ononderhandelbaar is, bly in een van die luukser, volledig toegeruste en suite-tente. Die kamp het ook rolstoelvriendelike tente.

Wat pla? Die stap na die ablusieblok in die donkernag kan nogal angswekkend wees, veral vir die met ’n ooraktiewe verbeelding... No. 8, 9, 25 en 26 is naby die ablusieblok.

Koste R646 p.n. vir 2 mense, R172 per ekstra persoon en R86 per ekstra kind (slaapplek vir 4) tot R1 488 p.n, vir 2 mense, R263 per ekstra persoon en R132 per ekstra kind (slaapplek vir 4) vir die en suite-tente. Die bewaringstarief is R83 p.p.p.d. Pryse styg op 1 November.

Waar? Die Tamboti-tentkamp is langs die Orpen-ruskamp by die Orpenhek. Die naaste dorp is Hoedspruit, sowat 30 km ver.

Kontak 012 428 9111; sanparks.org

Watter ander ruskampe het safaritente? Skukuza, Krokodilbrug, Onder-Sabie, Letaba en Punda Maria