Daar is mense wat nogal soos die Grensvegter lyk wanneer hulle gaan kamp. Nee, dis nie omdat hulle met ammunisiegordels, magasyne en granate toegerus is nie, maar eerder voorbereid is vir die oorlog teen goggas.

Ons praat hier van elke denkbare insekweerder waaraan jy kan dink: Spuitblikkies, smeerroom, kerse, olie en ’n buisserp – enige moontlike maatreël om muskiet se kind van jou lyf af te hou, veral terwyl jy slaap.

Min dinge maak ’n mens so vies soos die kenmerkende gezoem van ’n muskiet in die middernagtelike ure. Enigiemand wat sê dit pla hulle nie, is óf ’n leuenaar óf ’n snorker óf iemand wat die bottel leeggemaak het voor hulle ingekruip het.

Dis erg genoeg om tuis met steurende muskiete opgeskeep te wees, maar wanneer ons wegbreek om te kamp maak dit sin om alles in ons vermoë te doen om dit te vermy.

Ken die gevare

As jy jou naby water bevind, is die kans goed jy is op die plaaslike muskietbevolking se spyskaart. Daar is ook sekere tye van die jaar wanneer die risiko hoër is – soos ná die reënseisoen. Dit is wanneer poele stilstaande water ’n heerlike plek is waar wyfies hulle eiers kan lê.

Mannetjies én wyfies vreet plantstowwe, maar die wyfies het bloed nodig om hulle eiers te voed. Die kans is dus goed die muskiet wat op jou voorarm kom land, is ’n wyfie.

Die probleem strek egter verder as net ’n steurnis vir mense wat lig slaap. Muskiete hou ’n enorme gesondheidsrisiko in omdat hulle in sommige gebiede malaria kan oordra.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is sowat 445 000 mense in 2016 weens malaria dood. ’n Geraamde 90% van dié gevalle is in Afrika aangemeld en 91% van sterftes was in dieselfde streek.

Die Anopheles-genus van muskiete is gewoonlik die draer van die vyf Plasmodium-parasietspesies wat verantwoordelik is vir malaria in mense. Wanneer die muskiet byt, word die parasiete van die insek se bek tot in ’n mens se bloedstroom oorgedra, van waar dit na die lewer reis waar dit uitgroei en voortplant.

Simptome sluit naarheid en hoofpyn in, met ernstiger gevalle wat tot geelsug, stuipe en later die dood kan lei.

Weg Ry & Sleep sê

Moenie jou tent naby bedenklike waterpoele opslaan nie en maak seker jou waterhouers is dig geseël.



Hoekom word ék altyd gebyt?

Daar is heelwat faktore wat daartoe kan lei dat sommige mense aanlokliker is vir muskiete as ander.

Party mense is vir muskiete so gekamoefleer soos ’n verkleurmannetjie, terwyl ander soos ’n helder neonlig uitstaan. Mense met O-tipe bloed kan volgens navorsing tot dubbel soveel gebyt word as mense in die A-bloedgroep. Die B-tipe lê in die middel rond.

Sommige mense skei ook ’n chemikalie deur hulle vel af wat hulle bloedtipe aandui. Dit kan ’n muskiet met sy sensitiewe voelhorings vinnig in jou rigting stuur.

Daardie voelhorings stel muskiete ook in staat om die koolstofdioksied wat ons uitasem, tot op ’n afstand van 60 m op te merk. In sommige gevalle kan dit tot so ver as 100 m wees.

Jou lyfreuk is nog iets wat ’n honger muskiet se mond laat water, en daardie sweet wat met die bakterieë op jou vel meng, is vir die insek onweerstaanbaar. ’n Mens word hoofsaaklik op die hande, polsgewrigte, voete en enkels gebyt omdat die sweet op dié plekke opgaar en die vel uitsteek.

Party mense is vir muskiete so gekamoefleer soos ’n verkleurmannetjie, terwyl ander soos ’n helder neonlig uitstaan.

Die melksuur wat deur aktiewe mense (soos bergfietsryers en stappers) vrygestel word, asook sommige voedselsoorte wat ’n hoë persentasie kalium en sout bevat (soos piesangs en avokadopere), veroorsaak dat ’n mens meer sweet. Gevolglik is jy ’n groter teiken vir muskiete.

As jy byvoorbeeld ’n swak plek het vir limburgerkaas (met sy kenmerkende reuk danksy die bakterieë in die kaas) loop jy die gevaar om gebyt te word.

Die bakterieë wat gebruik word om die kaas te laat gis is so te sê dieselfde as die soort bakterieë op jou voet wanneer jy jou stapskoene uittrek. (Probeer om nie te veel hieraan te dink wanneer jy weer ’n kaasbord bestel nie. – Red.)

Die reuke van sekere lyfroom en parfuum, veral dié wat soos blomme ruik, lok ook musiekte. As jou bedmaat dus soos ’n trouruiker ruik wanneer julle inkruip en die muskiete sak op jou toe, weet jy wie om die skuld te gee.

Weg Ry & Sleep sê

Swanger vroue sweet meer as ander mense, stel meer koolstofdioksied vry en het ’n hoër liggaamstemperatuur as die gemiddelde – en daarom loop hulle ’n groter gevaar om gebyt te word.



Beskerm jouself

Gereelde reisigers weet al daar is sommige lande wat jy nie sonder ’n teenmalariainspuiting kan besoek nie.

Muskiete se voertyd is hoofsaaklik tussen sononder en sonsopkoms, en die kans is goed die wyfies gaan jou in dié tyd begin teiken daar op jou staanplek. Dis egter nie altyd die geval nie... party van hulle byt jou sommer enige tyd van die dag.

Dis ’n goeie plan om ’n langbroek en langmouhemp te dra as jy onseker is oor die malariarisiko. Vermy sterk kleure soos rooi, blou en selfs swart; gaan eerder vir neutrale kleure of wit.

Saam met hulle reuksintuig en voelhorings gebruik die muskiete ook hulle sig om te sien waar hulle gaan toeslaan.

Nog ’n opsie is die betroubare ou muskietnet. Maak net eers seker die muskiete is nie saam met jou onder die net nie.

Dis ’n goeie plan om ’n langbroek en langmouhemp te dra as jy onseker is oor die malariarisiko.

Dan is daar natuurlik ’n verskeidenheid insekweerders beskikbaar vir voorsorg én nasorg. Enigiets van sitronellaolie en -kerse, suurlemoen-en-bloekomblaar-ekstrak, smeerrome, sproei en armbande wat ook oor jou enkels pas. ’n Mens kry selfs seep wat muskiete weghou.

Sommige van hulle bevat diëtieltoluamied en ikaritien, wat inmeng met die muskiet se vermoë om jou chemiese vrystelling op te spoor.

As jy ’n kragpunt by jou staanplek het, kan jy ’n inproptoestel oorweeg. Dié toestel (met die glasbotteltjie wat inskroef) gebruik piretroïed as ’n sleutelbestandeel. Of koop gewone inseksproei soos Doom of Raid in die supermark. Daardie spiraalvormige insekweerders wat ’n mens aan die brand steek, gebruik ook piretroïed en jy het nie krag nodig vir hulle nie.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat piretroïed nie net vir muskiete giftig is nie; insekte soos miere, kakkerlakke en spinnekoppe kan ook in die slag bly. Dit klink dalk soos ’n wen-wen-situasie vir die kampeerder, maar piretroïed is ook dodelik vir voordelige insekte soos heuningbye – wat reeds ’n bedreigde spesie is.

Volgens dr. Pia Addison, ’n navorser en senior lektor aan die Universiteit van Stellenbosch se departement van bewaringsekologie en entomologie, is daar nie beslissende bewyse dat piretroïed gevaarlik is wanneer mense op langtermyn daaraan blootgestel word nie.

“Daar is ’n goeie rede hoekom piretroïed in die meeste huishoudelike insekweerders is. Dit is omdat hulle ’n lae giftigheid vir soogdiere en mense het. Dit is baie moeilik om die langtermynuitwerking daarvan op mense te meet.

“Die veiligste opsie bly egter om enige vel wat uitsteek, vir die muskiet weg te steek. Dan is daar nie ’n plek om te byt nie. Teenmalariamiddels is egter ononderhandelbaar wanneer jy ’n hoërisikogebied besoek,” sê sy.

Jy kan natuurlik ook jou eie insekweerder met huishoudelike middels maak – met bestanddele soos appelasyn, salie, laventel en roosmaryn. Muskiete is ook nie gaande oor die reuk van gousblomme nie. Plant ’n paar in ’n pot en ry dit saam wanneer jy gaan kamp.

Weg Ry & Sleep sê

Daar is nie onweerlegbare bewys dat kinawater (die T in G&T) ’n doeltreffende muskietweerder is nie. Jy sal waarskynlik meer sukses behaal om ’n rou knoffelhuisie te eet.


Bronnelys

Faithful to Nature  faithful-to-nature.co.za

Food Republic  foodrepublic.com

Livestrong  livestrong.com

Osana  https//:osanabar.com

Smithsonian  smithsonianmag.com

Stodels  stodels.com

Travelsafe-kliniek  travelsafeclinic.co.za

Wêreldgesondheidsorganisasie  who.int/en/