Foto’s James Garaghty

In ’n ideale wêreld sou dit nie nodig wees om snags jou huis se voordeur te sluit of jou erf te omhein nie, maar ongelukkig vereis die werklikheid dat ons dit wel doen.

In sekere kampplekke moet jy ewe paraat wees.

Bly ’n paar treë voor die skobbejakke wat jou goed wil vaslê – en nee, ons praat nie van die blouapies in die bome nie.

1. AXON TASER PULSE

Gladde kalant

Die piepklein Axon Pulse het ’n gladde afwerking sodat hy nie aan jou klere vashaak wanneer jy hom uit jou broeksak pluk nie. Dis ook maklik om hom te dra, want hy weeg slegs 228 g.

Jy mik met ’n laservisier en jy kan kies uit twee modusse: Enkelskoot of die multisiklusfunksie, ingeval jy meer as 30 s nodig het om weg te kom of dit geniet om die skurk op die grond te sien rondruk soos ’n marlyn in ’n hengelboot.

Prys R9 895 by Just Like Papa.

Weg Ry & Sleep sê
Vir ekstra gemoedsrus kan jy die Pulse- dubbelbatterypak (R2 035) aanskaf – dan kan jy ’n hele bende op hulle knieë dwing.



2. ROUGH & TOUGH-KOPPELSTUKSLOT

Haak, haak

Was jy al ooit bekommerd om jou bos- of woonwa op jou staanplek te los terwyl jy en jou gesin op ’n wildkykrit vertrek of net gou dorp toe glip vir proviand?

Hierdie toestel pas in die holte van die koppelstuk sodat skurke nie jou splintenuwe Sprite kan haak en met hom die pad vat nie.

Prys R190 by Camp & Climb. 

Weg Ry & Sleep sê
Diewe gaan ’n klomp skroewedraaiers en lopers in hulle sak moet ronddra as hulle dié toestel wil loskry.



3. ULTRAPIR

Alarm op ’n stokkie

Dink aan die UltraPIR as ’n draagbare ADT vir jou kampplek. Jy aktiveer hom met ’n afstandbeheer en die toestel hou dan ’n wakende oog oor jou tent. Wanneer die alarm afgaan en die 130 desibel in die kampplek opklink, gaan almal weet daar’s fout én hy gaan boonop ’n stemboodskap na jou selfoon toe stuur. Hy gebruik ’n infrarooi sensor om kwajongens te fnuik.

Prys R2 850 by Out There Secure.

Weg Ry & Sleep sê
Jy moet ’n selfoon-SIM-kaart aanskaf as jy wil hê hy moet jou per selfoon verwittig van ’n inbraak.



4. SMITH & WESSON-PEPERSPROEI

Pik ’n traantjie

Dié outjie lyk dalk onskadelik, maar boeta, dis nie lekker om ’n skoot Oleoresin capsicum in die gesig te kry nie. Dié chemikalie word van rissies gemaak en die gaskannetjie kan dit 3 m ver spuit.

Teen 2 miljoen Scoville-punte (die brandgradering van rissies – ’n jalapeño is 2 500 Scovilles) gaan hy beslis jou aanvaller in trane laat uitbars en sy keel laat toetrek. Die vervaardigers sê hy kan iemand vir 10 minute lank laat krul van die pyn.

Prys R145 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan hom in jou broeksak of handsak dra.



5. YALE-51 MM- WEERBESTANDE SLOT

Ongeag die weer

Aangesien dié slot se dop met rubber behandel is, werk hy lekker op plekke soos woonwa- en sleepwadeure waar die slot aanhoudend teen die bakwerk gaan kap.

Die slot het dubbele koeëllaers en die kant met die sleutelgat word met ’n doppie verseël sodat die meganisme nie deur stof en water beskadig kan word nie.

Prys R230 by Takealot.

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie slot kom handig te pas as jy jou op paaie begewe waar jou boswa ’n dik laag stof kry.



6. TIPPMANN TIPX-VERFBALPISTOOL

Stopkrag

Jy kan jou aanvaller merk met pienk blertse as jy wil, óf jy kan die verfballe met soliede nylonballe vervang en die swerkater vol blou kolle skiet. Daar is ook balle wat oopbars in ’n wolk pepergas. Jy gaan jou aanvaller dus nie bloot seermaak nie, maar hom tydelik verblind en laat snak na sy asem. Nee, jy het nie ’n vuurwapenlisensie nodig vir dié outjie nie.

Prys R4 850 by Blades & Triggers.

Weg Ry & Sleep sê
Hy het ernstige stopkrag. Onthou, sodra jy die gasbotteltjie inskroef, begin hy stadigaan gas verloor. 



7. SOL SHARX-FLUITJIE

Skril op die oor

Sukkel jy om so hard te fluit soos ’n plaaskind? Hierdie fluitjie laat ’n ongelooflike 120 desibel vry as jy op hom blaas.

As jy hóm gebruik, gaan jou aanvaller nie net sy jis afskrik nie, maar die hele oord gaan weet daar’s fout. ’n Basiese maar doeltreffrende hulpmiddel.

Prys R200 by Just Like Papa.

Weg Ry & Sleep sê
Jannie met twee vingers in sy mondhoeke gaan nooit so hard soos jy kan fluit nie.



8. ASP FRICTION LOC 21”-SLAANSTOK

’n Huppel in jou knuppel

Dié toestel is ontwerp vir professionele sekerheidsfirmas. Hy is feitlik onbreekbaar en bestaan uit ’n rubberhandvatsel, ’n 4130-staalskag en ’n knoets op die punt. Die sielkundige uitwerking as jy hom swaai en hy skiet met ’n metaalklank langer is, om die minste te sê, vreesaanjaend.

Prys R2 650 by Just Like Papa.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kry hom ook in korter (40 cm) of langer (66 cm) modelle.



9. 800 TYPE-SKOKSTOK

Eskom in ’n boksie

Gebruik dié toestel as ’n laaste uitweg, want jou aanvaller moet letterlik bo-op jou wees voordat jy hom daarmee kan bykom. Die 5 500 V wat deur jou senustelsel bruis, is genoeg om enige ou op sy agterent te laat sit. Die batterye is herlaaibaar en die koord word verskaf.

Prys R250 by Blades & Triggers.

Weg Ry & Sleep sê
5 500 V is omtrent die helfte van die krag wat deur ’n tipiese wildheining loop. Praat van skok...



10. COGHLANS-LUGTOETER

Mishoring in jou sak

Jy dink dalk jy kan om hulp roep as ’n dief in jou tent staan, maar dikwels skrik ’n mens jou stem heeltemal weg.

Gryp dié toeter en trompetter dan 115 desibel reg in jou ongenooide gas se ore. As dít hom nie verjaag nie, weet jy ten minste jou bure het jou gehoor.

Prys R250 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
Die geluid wat hierdie outjie maak, kan tot 1,6 km ver gehoor word.



11. ASP PROTECTOR 21”-SLAANSTOK

Molesmaker

Hierdie knuppel is smal en het ’n nuttige knyper sodat jy hom aan jou gordel kan hang.

Hy weeg nie soveel soos die slaanstok hierbo nie, maar juis daarom kan jy hom vinniger swaai én meer houe inkry. Nou weet jy hoekom laat spaander enige skare voor ’n lot knuppels.

Prys R1 700 by Just Like Papa.

Weg Ry & Sleep sê
Die knyper kan verstel word sodat jy hom aan amper enige kledingstuk kan haak.


12. 0GUARDIAN ANGEL 3

Mooi maar geniepsig

Hierdie pienk toestel lyk soos ’n onskuldige waterpistooltjie, maar hy skiet pepergas in jou aanvaller se gesig. Die straal trek teen 40 m/s en bevat kleursel wat jou aanvaller se vel en klere vlek sodat die polisie hom later kan uitken nadat hy die hasepad gekies het.

Prys R750 by Blades & Triggers.

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie peperpistool word gewaarborg vir drie jaar.



13. BUSHNELL TROPHY CAM HD

Die jagter se keuse

Hierdie kamera neem hoëdefinisiebeeldmateriaal van 1 080 p op. Buiten die video kan hy ook foto’s van tot 8 megaspikkels neem. Hy is hoofsaaklik bedoel vir jagters en navorsers, maar jy kan hom ook gebruik om bewyse in te samel dat iemand sonder toestemming in jou kamp was.

Prys R6 000 by Blades & Triggers.

Weg Ry & Sleep sê
Hy’s gekamoefleer sodat kwajongens hom nie in ’n boom sal gewaar nie.


14. GIANT SURELOCK FLEX COMBO COIL 15

Kinkel in die kabel

Dit maak sin dat ’n fietsmaker sal weet hoe om ’n goeie fietsslot te maak.

Die 1 800 mm-Surelock het ’n amper ondeurdringbare koolstof-en-staalkabel en die slot sluit met ’n viersleutelkode. Die kabel is lank genoeg om al die kinders se fietse aan die Venter se dakrak vas te sluit.

Prys R250 by Giant.

Weg Ry & Sleep sê
Die viersyferkode gee jou 10 000 moontlike kombinasies.

KRY DIE PRODUKTE HIER

Blades & Triggers bntonline.co.za

Camp & Climb campandclimb.co.za

Giant giant-bicycles.com

Just Like Papa justlikepapa.com

Out There Secure outtheresecure.co.za