Doen ’n reëndans

Foto’s James Garaghty

Ons het ’n lys van draagbare en bekostigbare kampstorte saamgestel vir mense wat soos ’n roos wil ruik terwyl hulle Moeder Natuur se skoonheid beleef. Die storte wissel van eenvoudige watersakke wat jy in ’n boom ophang tot storte wat met sonkrag werk tot dompelpompe wat jy in jou voertuig se sigaretaanstekersok inprop.

LEISURE QUIP DC-TURBOSTORT

Goedkoop en gaaf

Dis ’n kompakte krat wat ’n elektriese dompelpompie, ’n 2 m lange pyp en ’n stortkop met ’n suigdop bevat. Die krat hou 5 l water en jy prop die dompelpomp se koord by jou voertuig se 12 V-sok in. Die koord is nie baie lank nie – jy gaan teenaan jou Hilux moet stort.

Prys R400 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
Dit is ’n goedkoop plan wat ’n taamlike sterk straal water uitpomp voordat jy hom weer in sy krat bêre.


KAMPA- OPVOUBARE EMMER

Staan by

As jou kampstort nie sy eie sak het nie (of die sak is nie groot genoeg nie), gaan jy bly wees oor hierdie opvoubare 10 l-emmer waarin jy ’n dompelpomp kan gooi. Draai die pyp een maal om die emmer se handvatsel as jy bang is dit val uit.

Prys R240 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
As hy weggevou is, is die emmer slegs 5 cm hoog. Jy kan hom dus sommer onder ’n sitplek bêre.


COGHLANS-SONKRAGKAMPSTORT

Put krag uit die son

As jy nes ’n Kapenaar met slegs 5 l water kan skoonkom, kan jy byna vier storte uit hierdie sak kry. Nadat jy die sak in direkte sonlig neergelê het, moet jy omtrent drie uur wag dat die water warm bak – maar dit word ongelukkig slegs louwarm. Coghlans sê dit draai by 48 ºC.

Daar is ’n plastiekpyp binne die handvatsel wat help om die sak regop te hou. Jy kan ook die stroom beheer met ’n klep wat ses vloeiverstellings het.

Prys R200 by Cape Union Mart.

Weg Ry & Sleep sê
Die verpakkingsmateriaal waarsku dat jy die sak weens die chemikalie waarvan dit gemaak is, nie vir drinkwater moet gebruik nie. 


UST-SONKRAGSTORT

Skoon eenvoud

Met 18 l gaan jy vier of vyf keer kan stort, maar jy gaan moet wikkel. Dit is die ligste stortsak op hierdie blaaie en daarom gee ons hom volpunte vir draagbaarheid. Die stortkop is ook eenvoudig om aan of af te skakel. Jy hou bloot die pyp tussen jou middel- en wysvinger vas en druk die stortkop met jou duim.

Prys R275 by Cape Union Mart.

Weg Ry & Sleep sê
Dis die ligste stort in ons toets en die stortkop skakel maklik af.


OZTRAIL PRIVACY ENSUITE

Behou jou privaatheid

Nee, dit is nié ’n tent vir ouens wat daarvan hou om te staan en slaap nie. Jy kan dié tent langs jou bakkie opslaan sodat jy die 12 V-kragtoevoer kan gebruik. Óf jy kan hom doer eenkant onder ’n boom staanmaak as jy hom vir ’n toilethokkie wil gebruik.

Hy’s 110 cm breed en diep, en 210 cm hoog. Hy’s ook uitgevoer met ’n silwer film sodat nuuskierige agies jou nie saans kan dophou as dit van binne deur jou kopliggie verlig word nie. Die tent vou in twee sekondes uit, en as jy hom opvou, vorm hy ’n skyf van 65 cm.

Prys R700 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan hom ook as ’n aantrekhokkie gebruik.


RINSEKIT PLUS

’n Stort in ’n trommel

Hier’s ’n hoërgraad-kampstort. Dié weergawe van die RinseKit hou 8 l water en pomp dit binne 4 minute uit. Dis amper soos om ’n draagbare hoëdrukspuit op vakansie te neem wanneer jy die modder van jou hond of seesand van jou kinders wil afspuit.

Jy kan dit uiteraard ook vir jou motor gebruik. ’n Elektriese element is ingesluit as jy salige warm storte wil geniet.

Prys R1 595 by Outdoor Warehouse.

Weg Ry & Sleep sê
Dit is ’n puik produk waarvan die gehalte merkbaar is.


TENTCO BUNDU-OPVOUSTORT

Stortsak

Tentco se opvoubare stort lyk behoorlik tuis in die bos met sy groen seilsak. Die stort kan gehaak word aan Tentco se spinnerakraam (R305) vir ’n storttent (R1 110). Dis ook maar goed so, want dié sak hou ’n allemintige 25 l water.

Daar is ook ’n tou en katrol sodat jy die swaar sak kan ophys. Selfs die kraantjie lyk of dit vir ewig sal hou.

Prys R295 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
Dié stort hou meer water as ’n verfblik, maar hy vou klein weg en jy kan hom oral saamneem.


OZTRAIL HI-FLOW-12 V- DRAAGBARE STORT

Australiese spuitpyp

Die Oztrail-stort het ’n verstelbare stortkop wat jou in staat stel om die stroomsterkte te beheer – tot 4 l per minuut. As jy die drasak (5 l) as ’n waterbak gebruik, het jy 75 sekondes se storttyd danksy jou trokkie se 12 V-kragtoevoer. Die koord is 5 m lank, wat beteken jy hoef nie teenaan jou voertuig te stort nie.

Prys R300 by Camp & Climb.

Weg Ry & Sleep sê
’n Suigkop en ’n paar hake is ingesluit en jy kan hom amper enige plek ophang.


KRY DIE PRODUKTE HIER

Camp & Climb campandclimb.co.za

Cape Union Mart capeunionmart.co.za

Outdoor Warehouse outdoorwarehouse.co.za