Foto’s Kyle Kock en Verskaf

ALVA-BUTAANSTOOF

Nes by die huis

Dit lyk dalk soos ’n mikrogolfoond, maar hy is beslis nié een nie. Hierdie is ’n ordentlike en veelsydige klein oondjie, hoewel jy effens beperk word met sy grootte. Maar dit wat jy hier kan inpas, kan jy ordentlik gaarmaak, net soos by die huis. Die oond gebruik ’n 220 g-butaansilinder.

Prys: R2 695 by Camp & Climb.

Ry & Sleep sê
Jy kry ’n nuttige drasak by. Hoewel die stofie nie besonder swaar is nie – net 9 kg – is dit ’n effense lomp ding om in te pak.


WONDERBAG

Innoverend

Die tydskrif Time het die maatskappy wat die Wonderbag vervaardig, in 2018 vereer as een van die 50 innoverendste maatskappye ter wêreld. Dit is inderdaad ’n groot eer vir dié KwaZulu-Natalse firma.

Die Wonderbag was in 2017 op ons Kersfeeswenslys en nou kon ons uiteindelik met een kosmaak. Die sak het ’n laag poliuretaan in sy kante wat vir ordentlike isolasie sorg. Dit beteken jy kan daardie beesstertbredie vir tot 12 uur nadat jy hom van die hittebron verwyder het, stadig laat prut. Jy begin bloot jou gereg op die kole of stoof, en wanneer die besigheid kook, haal jy dit af en sit dit in die sak. Probeer dit volgende keer as jy ver moet ry. Teen die tyd dat jou kamp opgeslaan is, gaan die vleis doeksag wees.

Prys: R160-R455, afhangend van die model en grootte, by Takealot.

Ry & Sleep sê
Die Wonderbag werk nie net vir kook nie. Met ’n paar ysblokkies word hy ook ’n gawe koelhouer.


GECKO GRILL

Wie’s lus vir pizza?

Min mense gaan ’n warm pizza van die hand wys wat op die kampvuur gaargemaak is. Tot nou toe was dit egter nie so maklik nie – as die lus vir pizza jou beetgekry het, moes jy gewoonlik die Italiaanse restaurant op die naaste dorp gaan opsoek. Nou kan jy pizza op jou staanplek maak, mét al die bestanddele waarvan jy jou.

Die Gecko Grill word plaaslik vervaardig van vlekvrye staal – en dit kan skaars makliker wees om pizza te maak. Jy kan selfs ’n app in die Google Play Store aflaai waar jy ’n verskeidenheid wenke en resepte kan kry. Die app wys jou selfs hoe om die pizzabasis gereed te kry.

Prys: R1 200 by Gecko Grill.

Ry & Sleep sê
Jy kan ’n tweede pizzabord teen R150 aanskaf wat jou in staat stel om twee pizzas op een slag gaar te kry. 


COBB
COBB
COBB
COBB

COBB PREMIER PLUS

Alles-in-een

Jy gaan ver moet soek vir iemand wat ’n skewe woord oor die Cobb te sê het. Met dié meneer kan jy braai, rooster, rook, kook én gisteraand se oorskiet opwarm – praat van veelsydig.

Hy is liggewig en só maklik om te gebruik dat die kos al aan die kook kan wees vóór jy nog jou kampstoel uitgehaal het.

Prys: R2 560 by Cobb.

Ry & Sleep sê
Die jongste model sluit die nuwe braairak en Cobb se Griddle+-rooster in– nou is hy selfs nóg veelsydiger.


COBB PREMIER GAS

Maar dis nie al nie…

As jy ’n Cobb-aanhanger is, maar ook daarvan hou om met gas te braai, kry jy nou die keuse om ’n gasmodel aan te skaf, die Cobb Premier Gas. Jy begin dus met die druk van ’n knoppie kook en die outjie het selfs temperatuurbeheer. Hy werk met ’n weggooibare gassilinder.

Prys: R2 570 by Cobb.

WEBER Q1200-GASBRAAI

Maklik en moeiteloos

Elke ou hou van sy Weber, maar die waarheid is dat dit nie die maklikste ding is om met jou saam te piekel wanneer jy gaan kamp nie.

Met dié outjie verander sake aansienlik. Hy is klein, draagbaar en werk met gas, wat beteken jy kry jou ete in ’n japtrap gereed sonder om enigsins die smaak van jou kosbare vleis prys te gee. Hy maak ook maklik skoon, want hy het ’n verwyderbare bord onder die gietysterrooster wat vet opvang.

Prys: R5 210 by Weber.

Ry & Sleep sê
Hy het ’n ingeboude termometer op die deksel, wat beteken jy weet deurgaans wat onder aangaan.


BRAAI BIRD-DUBBELROOSTER

Vingerleklekker

Dit is ’n heel eenvoudige manier om jou hoender gaar te kry, maar die resultaat is verstommend smaaklik.

En omdat jy twee heel hoenders op dié outjie kan staanmaak, kan jy met verskillende geure – en biere – eksperimenteer. Bedek die hoender met ’n laag foelie om die hitte die beste te benut en seker te maak die bier kook behoorlik. Dit werk selfs beter in ’n ketelbraai met die deksel op.

Prys: R230 by Cape Union Mart.

Ry & Sleep sê
Volgens die aanwysings moet die bierblik minstens twee derdes vol wees, maar ons het gevind dit werk beter met ’n bietjie meer as half. Wag tot die hoender se interne temperatuur 75 ºC bereik (ná sowat 90 minute) en lê dan weg aan die smaaklike en sappige vleis.


Inligting

Camp & Climb: campandclimb.co.za

Cape Union Mart: capeunionmart.co.za

Cobb: cobbonline.co.za

Takealot: takealot.com

Weber: weber.co.za