Ons het agt koffieflesse getoets om te kyk watter een jou koffie die langste sal warm hou. Hier is die uitslag.

SÓ HET ONS GETOETS

Ons het elke fles met vuurwarm water (95 °C) volgemaak en plat neergesit. Elke vier uur het ons 300 ml in ’n blikbeker geskink en die watertemperatuur met ’n digitale termometer gemeet. Die flesse (almal 1 liter) en blikbeker is nie vooraf verhit nie en die toets is teen kamertemperatuur gedoen.

LET WEL: Die nommer langs die naam is sodat jy hom op die foto kan uitken. Ons top-drie is onderaan die artikel!

Foto's: Cyril Klopper

1. Natural Instincts

Hierdie fles het ’n billike prys, maar ongelukkig het hy die swakste gevaar in ons toets. Sommer dadelik nadat die prop toegedraai is, kon jy voel hoe die wand effens warm raak.

Dis nie ’n swak fles nie, want hy sal jou koffie darem agt uur lank warm hou. Maar drink dit liefs deur die dag op – teen vanaand smaak dit soos lou badwater.

Bekervolume 170 ml
Temperatuurtoets 79,9 °C (4 uur); 66,7 °C (8 uur); 47,8 °C (12 uur) 
R215 by Outdoor Warehouse 

2. Cape Union-1 l-fles
Gegewe die prys het hierdie fles se vermoë ons beïndruk – en dan lyk hy boonop ook mooi. Die water was ná vier uur kokend, en selfs teen die twaalfde uur was dit warm genoeg vir koffiemaak.

Ons het veral van die opwiptuit gehou wat nooit mors nie, hoewel dit ’n bietjie langer vat om te skink. Jy kan dié outjie gerus oorweeg as ’n Kersgeskenk vir pa.

Bekervolume 200 ml
Temperatuurtoets 82,8 °C (4 uur); 73 °C (8 uur); 62,9 °C (12 uur)
R150 by Cape Union Mart

3. Isosteel MIL Green
Dié fles lyk asof hy ’n kernoorlog sal oorleef en hy hou genoeg koffie om selfs Rambo se dors te les. Die fles is swaar en die militêre voorkoms gaan dalk die ongewenste aandag trek van ’n grensposbeampte.

Teen meer as vier keer die prys van die Cape Union Mart-fles is dit jammer dat hy nie beter presteer nie, maar hy lyk nogal indrukwekkend.

Bekervolume 360 ml
Temperatuurtoets 81,9 °C (4 uur); 74,7 °C (8 uur); 66,4 °C (12 uur)
R700 by liteoptec

4. Stanley Classic
Wat is ’n artikel oor koffieflesse sonder ’n Stanley? Dié legendariese fles met sy groen huls is ongetwyfeld duursaam, maar sy vermoë om water warm te hou is niks om oor huis toe te skryf nie.

Waarom ekstra betaal vir ’n Stanley? Dis ’n handelsnaam waarop jy kan staatmaak en die lewenslange waarborg is nie te versmaai nie.

Bekervolume 200 ml
Temperatuurtoets 84,2 °C (4 uur); 75,5 °C (8 uur); 64,5 °C (12 uur)
R750 by buitelewewinkels; outdoorwarehouse.co.za

5. GSI Outdoors
Hierdie is ’n stewige en mooi fles en hy het goed gevaar in ons toets. Ons hou van die rubberlaag op die boom wat keer dat dit teen ’n bakkie se enjinkap sal afgly, en die beker se goeie isolasie keer dat jou koffie vinnig koud raak.

’n Mens hoef die prop net halfpad uit te draai om koffie te skink – dit mors as jy die prop te ver uitdraai.

Bekervolume 250 ml
Temperatuurtoets 83,8 °C (4 uur); 76,9 °C (8 uur); 65,2 °C (12 uur)
R670 by rammountain.co.za

Derde plek

6. Isosteel Duo

Hierdie fles het twee bekers (een aan elke kant) en hy het uitstekend gevaar in ons toets.

Die uitvouhandvatsel is nuttig, maar waarvan ons die meeste hou, is die klep in die prop wat skink maklik maak. Hoewel hy hom goed van sy taak kwyt en ’n ekstra beker bied, is ons nie gaande oor sy voorkoms en grootte nie – vandaar die derde plek op die podium.

Bekervolume 300 ml
Temperatuurtoets 84,7 °C (4 uur); 77,5 °C (8 uur); 66,9 °C (12 uur)
R740 by liteoptec.co.za

Tweede plek

7. Atlasware-1 l-bottel

Moenie dat sy ligte gewig en afmetings jou in sy vermoë laat twyfel nie, want dié bottel het ’n uitstekende finale temperatuurlesing behaal in ons toets.

Dit was naelskraaps of die Atlasware-bottel was die algehele wenner, maar ongelukkig het hy nie ’n beker nie. Dis ’n ernstige gebrek, want ’n mens kan darem nie sommer so uit ’n warmwaterbottel drink nie!

Temperatuurtoets 84,2 °C (4 uur); 77,6 °C (8 uur); 67,7 °C (12 uur)
R550 by Trappers

Ons keuse

8. Thermos- drywende fles
Ons het vermoed dié fles gaan goed vaar in ons toets. Die buitewand is taai en jy hoef nie die prop heeltemal uit te draai voordat jy skink nie.

Die fles dryf op water – selfs al is hy vol – en derhalwe is dit ’n goeie geskenk vir jou vriend wat uit ’n kajak visvang. Die bekerwand is dun en raak warm, maar dis steeds ’n goeie beker.

Bekervolume 370 ml
Temperatuurtoets 85,8 °C (4 uur); 78,9 °C (8 uur); 67,8 °C (12 uur)
R600 by Outdoor Warehouse