Twee Weg Ry & Sleep-lesers, Andrien en Christo Meyer van Morgenzon, sê hulle het op die harde manier geleer ’n mens moet voorbereid wees op sterk rukwinde en stormweer wanneer jy kamp. Hulle het by die Forever-oord by Swadini gekamp toe ’n storm hulle tref, en volgens Andrien-hulle was hulle glad nie toegerus vir dié moeilikheid nie.

Hulle vra raad oor wat ’n mens alles kan doen om seker te maak jou kamphuis bly staande as die elemente effens omgekrap raak. Hoe gemaak om jou tent staande te hou as die wind erger as Elvis begin ruk en rol?

Eerstens is daar ’n reeks produkte wat jy kan aanskaf wat jy gewoonlik nie standaard saam met jou tent, woonwa of boswa kry nie. Hier praat ons van goed soos stormpenne, stormbande en ’n stormnet.

Die stormpenne is groter en sterker as die standaardpenne wat jy saam met jou wa kry en word ook dieper in die grond ingekap. Van hulle het selfs ’n soort veringstelsel om voorsiening te maak vir rukwinde.

Maar selfs al het jy al die jongste produkte, baat dit jou steeds nie veel as jy nie weet hoe om dit in te span nie. Gelukkig is die forumiete gereed met raad. Die stormbande en/of stormnet word oor jou tent se dak gespan en dan met stormpenne geanker. Jy kan veiligheidshalwe sommer van die begin af stormpenne gebruik om die res van jou tent ook te anker.

Deurmekaar gewaai!
Deurmekaar gewaai!

Gooi anker

Sorg dat jou tentpenne naby genoeg aan die stutpale geanker is. Tente waai nie om nie; die wind lig dit eerder op. Met die opligslag val die stutpale uit en dan wapper en skeur die tent in die wind. Span jou tent se toue omtrent reguit af grond toe en anker hulle so naby as moontlik aan die stutpaal. Van die moderne tente staan egter vanself met behulp van teleskooppale; dus het hulle nie trekspanning nodig om hulle te laat staan nie.

Nog ’n voordeel as die toue feitlik teenaan die pale geanker is, is dat jy nie in die donker oor jou tenttoue val nie.

Hou voet by stuk

Die beginsel is om seker te maak jou paal bly staan op sy plek. Om dít reg te kry moet jy ’n voetstukpen hê waarin die stutpaal staan.

Dis ook belangrik om ag te slaan op jou ankerpen, die hoek waarteen dié pen ingeslaan word, en die afstand wat hy van jou paal af staan. Ons stel voor jy gebruik groot, dik driehoekpenne wat minstens 300 mm lank is en slaan hulle niks verder as ’n meter van jou stutpaal af in nie. Dit is dan belangrik om te sorg dat jou tou loodreg getrek word met die deel wat in die grond ingeslaan is, anders gaan die pen uittrek as die rukwind jou tref.

Vir kampeerders met boswaens wat nie ’n tent het wat met ’n raamwerk teen die wa gebou word nie, is dit effens moeiliker omdat die tent met toue styfgespan moet word. Jou penne moet dus ’n bietjie verder van die pale af staan, en ons stel voor jy gebruik ’n hoek van 45º vir jou tenttoue. Dit beteken effektief as jou paal 1,8 m hoog is, moet jou pen 1,8 m van jou paal af wees.