Sonder die regte gereedskap het daai kissie omtrent net soveel nut soos ’n kar sonder ’n enjin. Tensy jou bynaam van laerskool se dae af al Spanner is, sal jy waarskynlik ’n paar kampvakansies neem om ’n gereedskapkis vol te maak, maar met ’n paar basiese stukke toerusting kan jy byna enige taak baas raak, en enige krisis in die kampterrein oplos.

’n Fris gereedskapkis

Dis nie lekker om langer te soek na ’n skroewedraaier as wat dit sou neem om vas te draai wat losgekom het nie.

In ’n gereedskapkis kan jy van jou hamer en tange tot die kleinste skroefies netjies orden.

Maak seker jy koop een van ’n duursame plastiek soos dié van ’n ammokis. Dis ligter as soortgelyke staaltrommels. Selfs met al die gereedskap binne-in moet jy die kis sonder moeite met een hand kan dra – kies dus een met ’n gerieflike handvatsel.

Een met ’n deursigtige deksel – dis vir dinge soos skroefies, spykers, proppies en boute – werk goed. Binne-in is daar gewoonlik ’n los rakkie met klein kompartemente vir skroewe en ’n dieper afskorting vir skroewedraaiers. Jy kan dié rakkie aan sy handvatsel uitlig. Onder die laai is plek vir groter stukke, onder meer ’n hamer, saag en boor.

WENK
Sommige kiste se los rak het afmetings in millimetre en duim aan die kante.

Waterpomptang: Moenie watertrap nie

Bartel Pieterse sê: “Ek gebruik ’n waterpomptang om my tentpenne uit te trek.” ’n Waterpomptang help natuurlik baie wanneer jy pype moet vasvat, en in ’n noodgeval kan dit sommer die werk van ’n klomp verskillende moersleutels doen. En dis beslis kragtiger as jou vingers wanneer jy tentpenne uit harde grond moet trek!

WENK
Jy kan selfs enige vorm bout of moer – sirkelvormig of seskantig – met dié tang se getande bek draai.

Stopverf: Klei van staal

Billy van Schalkwyk sê: “Ek het áltyd Pratley Putty in my gereedskapkis.” Die vervaardigers van Met Pratley-stopverf – jip, dis Afrikaans vir putty – spog op hulle webwerf dis die enigste Suid-Afrikaanse produk wat al saam met ruimtevaarders maan toe is.

Jou woonwa is weliswaar nie ’n ruimteskip nie, maar jy kan bykans enigiets daarin met stopverf heelmaak of toestop – van die gebreekte tentpaal tot die oor van ’n koppie wat in die ry afgebreek het. 

Die Pratley-boksie bevat twee stafies. Jy sny ’n stuk van elke stafie af en rol dit in ’n bol, wat jy om die twee gebreekte dele vorm of in die gat stop. Dit word dan binne 20 minute hard.

En as ’n mens die vervaardigers kan glo, is dit dán so sterk soos staal.

WENK
Onthou net, as die putty eers hard is, kry jy dit nie weer af nie.

Slangklamp: Kry hom in ’n greep

Neels Joubert sê: “Daar is altyd slangklampe in my kissie.” Die meeste gereedskap is daar om dinge wat op hulle dag heel was, weer aan mekaar te sit. Jy kan ’n slangklamp vir dié doel gebruik, maar jy het dit natuurlik ook nodig wanneer ’n klamp om jou kar se waterpyp die gees gee.

WENK
Jy sal die groter klampe nie so gereeld nodig kry nie.

Q2-Spuitstof: Gee ’n bietjie ghries

Dewald Hattingh sê: “’n Blikkie Q20 werk vir elke taak waar jy dalk ’n smeermiddel nodig het. Dis waterdig en mors nie as jy dit aanspuit nie. Ek kamp nie daarsonder nie.”

As jou kampstoel soos ’n kriekekoor klink wanneer jy gaan sit, spuit jy Q20 in die skarniere. As ’n geroeste tentpaal sukkel om in sy maat te pas, spuit jy hom met Q20, en as ’n halstarrige slot sukkel om oop en toe te gaan, spuit jy hom ook – vra maar enigiemand wat aan die kus bly.

Dié smeermiddel, in aërosolvorm, smeer enige ding. Jy sal dit in amper elke motorhuis sien, juis omdat dit so gebruiksvriendelik is. Die beste van alles is: Jy sit nie met hande vol ghries agterna nie.

WENK
Jy kry ’n dun vingerlengte tuit saam met die blik. Dit pas in die spuitkop en vorm ’n dun punt sodat jy die smeermiddel by klein plekkies kan inspuit, soos in ’n slot.

Handwerkmessie: Soos ’n mes deur botter

Gert Venter sê: “Jy kry handwerkmessies met ’n paar ekstra lemmetjies in die handvatsel sodat jy altyd ’n vlymskerp lem het. Ek sny ook kleefband en kabels daarmee.”

Jy wil nie nog sukkel om die stuk tou, kabel of kleefband te sny as jy dit met een hand op sy plek hou nie. Met so ’n vlymskerp messie kan jy dit met een vinnige beweging sny. ’n Matmessie is ook nuttig vir die merkwerk op metaal of hout voordat jy met jou saag inklim.

WENK
Moenie die lem te ver uitdruk as jy iets sny nie; die mes se lemmetjie is baie dun en kan maklik knak en breek.

Kabelstroppe: Trek hom styf vas

Stephanie en Dawson sê: “Die een onontbeerlike stuk gereedskap wat altyd saamgaan, is kabelstroppe – daarmee kan jy alles regmaak.”

’n Kabelstrop sal jy deesdae in elke kampeerder se magasyn aantref. Jy kan dit gebruik om tentpale reg te maak, kragdrade netjies of uit die pad te hou of om jou tentpenne volgens grootte bymekaar te hou.

WENK
Anders as met kleefband of stopverf, wat onooglike merke laat of glad nie afgetrek kan word nie, sny jy bloot die kabelstrop af as jy iets weer wil los kry.

Veeldoelige boereband: Pret met plak

S.W. Burger sê: “Met duct tape kan jy ’n stukkende ryding én ’n mens aanmekaar hou!” Breë boereband, alombekend as duct tape, hou bykans enigiets aan mekaar. Jy kan dit selfs oor ’n kraak in ’n paneel plak wat water lek, of ’n tentpaal tydelik regmaak as dit geknak het.

’n Mens kry nog heelwat ander soorte plakband: Isoleerband is dunner as duct tape en nie so sterk nie; maskeerband skeur maklik af én trek maklik los; rubberkleefband sit sonder gom as jy dit ’n paar draaie om ’n paal gee.

WENK
Jy kan duct tape weer aftrek nadat jy dit geplak het, maar dit los gewoonlik ’n dik laag gom.

Elektriese draad: Krag, asseblief!

Andre Rossouw sê: “Ek ry gewoonlik ’n rol elektriese draad saam, want op ’n dag moet ’n mens êrens ’n kragprop regmaak of ’n draad langer maak.”

Met ’n rol elektriese draad en basiese kennis kan jy vinnig-vinnig ’n nuwe kragprop maak of selfs ’n draad verleng. Maak net doodseker jy weet wat jy doen – voordat jy die ganse buurt se krag op die laat uitskop.

WENK
Hou ’n drie- en tweepuntkragprop in jou gereedskapkis. Jy moet ook isoleerband, ’n stel skroewedraaiers en ’n draadknipper byderhand hê.