Daar’s ’n paar goue reëls vir praatjies om die kampvuur: Jy sê byvoorbeeld nie vir ’n man watter rugbyspan hy moet ondersteun nie en ook nie watter kar hy moet koop nie. En as jy hou van jou vriende (en jou voortande), dan roer jy ook nie die debat oor outomatiese ratkaste teenoor handratkaste aan nie – ook nie die kwessie van sleep in vyfde rat nie.

DIE WRINGKRAGKURWE

Sleep is nie net ’n kwessie van voet in die hoek sit om op dreef te kom nie. Nog voor jy in die kar spring, is dit eers tyd vir huiswerk: Kyk hoe lyk die wringkragkurwe van jousleepvoertuig. (As jy nie ’n grafiese voorstelling van die kurwe in jou motor se handleiding kry nie, gaan loer op die internet.)

As jy praat van wringkrag, moet jy weet teen watter toere (r.p.m.) jou kar se enjin optimaal funksioneer. Daarvoor kry jy ’n generiese wringkragkurwe wat lyk soos ’n koepel met die twee bene na onder.

Probeer om altyd só te sleep sodat jou enjin se werkverrigting in die boonste 20% van dié kurwe val. Dit is ook in dié persentasiedeel waar die enjin koeler loop en ekonomieser is. In die ander 80% van die kurwe kry die enjin op een of ander manier swaar; hetsy in die versnelling of omdat die toere te hoog of te laag is. (Terloops, as jy nie sleep nie, moet jy kyk na die boonste 30% van die kurwe.)

WAT VAN VYFDE?

Wanneer ’n mens kyk na ’n vyfspoedratkas (skets), is die vierde rat gewoonlik die rat wat ’n 1:1-ratverhouding het (of die naaste daaraan). Met ander woorde, die ratkas kon net sowel nie daar gewees het nie, want die enjin se omwentelinge en dié van die dryfas is dieselfde.
Om die een of ander rede bestaan die mite dat dit nie goed is vir die ratkas om in vyfde te sleep nie.  Daar is egter geen rede om so te dink nie. Die vyfde rat kan nie sommer net breek nie. ’n Rat breek wanneer hy sonder olie werk en warm word.

Die vyfderatstorie kom waarskynlik van die dae in die jare sewentig en vroeë tagtig toe gewone  gesinsmotors net met vier ratte gebou is. Die vierde rat was toe ook die 1:1-rat en die rat waarin jy gesleep het. Daarna het ’n vyfde rat bygekom wat bekend gestaan het as overdrive. (Van eerste tot derde rat is die enjin se omwentelinge meer as die dryfas s’n. In vierde is dit dieselfde, maar in vyfde rat draai die dryfas vinniger as die enjin – vandaar die benaming.)

Vyfde rat was nie bedoel as ’n kragrat nie, maar eerder om jou voertuig ekonomies te laat ry. Vandag se enjins is egter so ver gevorder en so kragtig dat jou kar sonder moeite in vyfde sal kan sleep. 

In van die sesgangratkaste kan die vyfde die 1:1-rat wees; maar dis ook nie meer noodwendig dat ’n ratkas ’n 1:1-rat het nie. Dit kan wees dat dié rat se verhouding net-net groter of kleiner is.

WISSEL EGALIG

Jy hoef nie ’n meganiese ingenieur te wees om te weet jy moet so egalig as moontlik deur die ratte gaan om by jou uiteindelike ryspoed uit te kom nie. Onthou, Lewis Hamilton se brandstof word geborg.

Om soos hy te ry maak dalk van jou ’n goeie bestuurder, maar dit gaan nie baie ekonomies wees nie.

Dis dus belangrik om te weet teen watter toere jy van rat moet verander voor jy die ratkas beskadig. Dis hier waar jou huiswerk ter sprake kom. Neem byvoorbeeld ’n dieselenjin waarvan die optimale wringkraglewering argumentsonthalwe by 1 900 r.p.m. lê. Die boonste 20% van die wringkragkurwe val derhalwe tussen 1 520 r.p.m. en 2 280 r.p.m.

Jy moet dus die ratkierie wikkel om die toere binne hierdie spektrum te hou. Wanneer die toere tot by 1 520 r.p.m. val, is dit tyd om af te rat, en wanneer hulle 2 280 r.p.m. bereik, moet jy na ’n hoër rat oorskakel. Só hou jy aan tot jy jou gekose spoed bereik, ongeag in watter rat jy is.

OUTOMATIESE RATKASTE

In beginsel werk ’n outomatiese en ’n handratkas presies dieselfde. Buiten dat jy by die handratkas die koppelaar moet trap (’n outomatiese ratkas het ’n meganisme binne-in wat presies dieselfde doen), is die ratte presies dieselfde. Van die vervaardigers beveel wel ’n outomatiese ratkas aan wanneer jy iets swaars wil sleep. ’n Outomatiese ratkas help ook onervare slepers om te konsentreer op hoe hulle bestuur, want hulle hoef hulle nie oor ratte te bekommer nie.

AFDRAANDES

’n Afdraande is vrylooptyd, maar in rat. Mense maak die fout om teen steil afdraandes teen die ratte te ry. Die slytasie op die ratkas is dan net soveel as wanneer jy versnel. Gebruik eerder die remme om die spoed te beheer, want dis immers waarvoor hulle daar is. Hou die enjin se toere steeds in die 20%-sone as jy afdraande ry, en as dit baie steil raak, verminder spoed deur rem te trap en stelselmatig af te rat. Moet onder geen omstandighede teen ’n afdraande die kar uit rat haal nie. ’n Voertuig van 2 ton versnel oor 100 m teen ’n 30º-helling vinniger ’n renmotor.

As daar ’n opdraande ná ’n afdraande is, wil jy op die regte tyd oorskakel na die laer rat om teen die bult uit te kom. Skakel aan die onderpunt van die knik oor sodat jy in die laer rat die maksimumtoere in die 20%-sone van die wringkragkurwe bereik (byvoorbeeld 2 280 r.p.m. in die vorige voorbeeld).

Soos jy spoed verloor teen die bult, kan jy aanhou afrat op die 20%-beginsel.

KIES DIESELFDE BANDE

Die grootte van jou kar se bande het ’n regstreekse invloed op die ratverhouding van die ratkas relatief tot die spoed wat jy ry. As jy bande verander, is dit belangrik om die bandomtrek binne 10% van die oorspronklike mate te hou. (Maar verkieslik dieselfde.)

As jy byvoorbeeld van ’n 17”-velling verander na ’n 18”, en die 17”-band het ’n 75 mm profiel op, moet jy nou ’n 60 mmprofiel-band op die 18”-velling sit. Party vervaardigers se waarborg verval as jy bande opsit wat nie aan hulle spesifikasies voldoen nie, en sommige versekeringsmaatskappye sal ook nie uitbetaal as iets as gevolg hiervan skeef loop nie.

BLY KOEL

Onthou, ’n kar word nie noodwendig ontwerp om te sleep nie. Wanneer jy sleep, is daar ’n ekstra las op die ratkas wat hom warmer kan laat word. Dit is goed vir die olie én ratkas as die olie koel bly. As jy reken jou ratkas word te warm, kan jy altyd ’n olieverkoeler op die ratkas laat installeer.

Dis ook belangrik om te onthou olie kan oud word. As jy dikwels jou wa haak, behoort jy ná elke 5 000 km die olie in jou ratkas te vervang.