As jy dink jy kan na ’n winkel toe ry, jou heel eerste tent gryp en lekker saam met ervare kampeerders gaan kamp, wag daar dalk ’n paar slegte wedervaringe op jou. Ons het oor die jare heen by gesoute kampeerders geleer hoe om ’n tent stewig op te slaan.

Ons het ook ons tentpensak nagegaan om te kyk of al die regte penne steeds daarin is, en dan dink ons terug aan die duur lesse wat ons al geleer het as dit kom by waar jy nié jou tent moet opslaan nie.

Soort tentpenne

Jou splinternuwe tent het gewoonlik een soort tentpen, dalk twee, maar het jy geweet daar is verskeie soorte vir verskillende kamptoestande? Hier is die 12 gewildste penne uit ’n ellelange lys.

Reguit pen

Die nadeel van die reguit draadpen is dat hy buig as die grond hard is. Jy moet hom teen ’n hoek van 30º of 45º in die grond moker met sy haak wat weg wys van jou tent af, anders word hy uitgepluk as die wind waai. Dit is raadsaam om twee penne per tou te gebruik en hulle in teenoorgestelde rigtings in die grond te slaan.

Aluminiumpen

’n Aluminiumpen is wat gewig betref, beter as die draadpen. Om dié rede is dit ’n gewilde keuse onder stappers wat hulle tent in ’n rugsak dra en elke gram dus saak maak. Sommige aluminiumpenne buig té maklik, terwyl ander in skerwe breek as jy ’n klip raakslaan. Hou liefs verby, tensy jy ’n stapper is.

Plastiekpen

Dié soort pen weeg óók ligter as ’n draadpen, maar hier gaan dit dikwels meer oor ’n vervaardiger wat geld wil bespaar. Jy slaan ’n plastiekpen in ’n japtrap flenters as jy in die bosveld kamp opslaan. Hy lewer egter aanvaarbare resultate as jy op ’n welige KwaZulu-Natalse grasperk met sagte grond kamp.

Geveerde pen

Die geveerde pen (oftewel Max-Peg) is die uitvindsel van die Suid-Afrikaner Connie Kruger van Maxcons, en is basies ’n reguit draadpen met ’n kronkelveer tussen die pen se haak en ’n tent se ankertou. Die veer dien as ’n skokbreker wat keer dat die wind ’n tentpen uit die grond pluk of jou tentseile skeur.

Ankerpen

Na dié een word ook verwys as ’n L- of 7-pen, en soos die naam aandui, is hy besonder geskik om die hoekpale van jou tent te anker. Slaan hom teen ’n 30º-hoek in die grond sodat sy boonste deel waterpas lê en jou nie sal pootjie nie. Naas die geveerde pen is dit die sekerste manier om ’n tent te anker.

Spykerpen

Soms is grond net té hard vir ’n draadpen, en dan is ’n spykerpen van hoëtreksterktestaal, tungsten of titanium al antwoord. Anders as met die voorgenome penne kan jy dié pen reguit afwaarts inmoker, want die grond is immers hard genoeg om hom vas te hou. Sterkte, wel, as dit by die uittrekslag kom...

Wydsbeenpen

’n Wydsbeenpen werk soos twee reguit penne wat teen teenoorgestelde hoeke van mekaar in die grond geslaan word. Druk die twee punte nader aan mekaar met jou hand (maar nie teenaan mekaar nie) sodat die punte verder uitmekaar beweeg wanneer jy hom teen ’n 30º-hoek in die grond slaan.

Spiraalpen

Geeneen van die penne op dié blaaie werk besonder goed in los sand nie. Hier het jy eerder iets soos ’n kurktrekker met ’n breë spiraal nodig. Dié pen is so een: Jy skroef hom reguit afwaarts in, so diep as wat jy kan, en hou duim vas hy kry nat sand om aan te klou. Dit werk beter as tou wat om ’n ronde rivierklip gedraai is. >

Skroefpen

Dit is ’n gewilde tentpen onder byvoorbeeld Amerikaners wat katoeter-betotteld is. Die pen word gemaak van harde polipropileen en jy skroef hom met ’n koordlose boor in die grond in. As die grond hard is en jou boor ’n barshou kan draai, gaan jy die pen se kop dalk afbreek, maar hy werk lekker in sagte grond.

Grondseilpen

’n Grondseilpen keer dat jou grondseil deur die wind opgewaai word of tieners wat voete sleep, die seil skuif. Nes die spyker- en skroefpen slaan jy ’n grondseilpen reguit afwaarts in sodat sy kop jou nie sal pootjie nie. Jy kan ook doodgewone dakskroewe gebruik, wat natuurlik ’n fraksie van die prys kos.

Paalpen

As die wind sterk waai, gaan jou tent se dak oplig, wat weer veroorsaak dat die pale sywaarts skuif en mettertyd uitval. Dán stort jou hele tent in duie en jy moet uit die bed spring om die situasie te beredder. ’n Paalpen moet ’n paar sentimeter bo die grond uitsteek sodat sy hoepel ’n paal in plek kan hou.

Sneeupen

Die gemiddelde Suid-Afrikaner het dié pen nie nodig nie, maar dalk weet jy van ’n kampplek waar die sneeu meer as ’n meter diep lê. ’n Sneeupen is ’n platterige spaan met ’n lussie na aan sy onderpunt sodat ’n tenttou nie wringkrag op die bopunt van die pen uitoefen nie, maar eerder die onderkant.

Kies jou staanplek só

Jy weet nou watter tentpen jy nodig het, maar weet jy waar om jou tent op te slaan en wat om te vermy? Vakansieoorde het die kopkrapwerk reeds namens jou gedoen en ’n geskikte staanplek afgebaken, maar as jy elders kamp, is daar ’n paar dinge waarop jy moet let.

Kyk die kat uit die boom

Baie van Afrika se bome het dorings, en jy moet die grond onder jou boom fynkam voor jy tent opslaan – juis om dié rede gebruik ons nie meer opblaasmatrasse nie. Kyk of daar boomgom op jou tent sal drup, want dit is heel dikwels moeilik om skoon te maak, en kyk ook of jy voëlneste sien, want hulle lok boomslange.

Jare gelede in Chobe het ons onder ’n maroelaboom gekamp en moes omtrent laat spaander toe ’n olifant ontstig was omdat ons tent onder sy gunstelingvrugte staan.

Laastens moet jy twee keer dink of jy onder ’n bloekomboom wil kamp, want hy word nie verniet in Australië die windowmaker genoem nie. Ons het ons boeglam geskrik toe ’n swaar bloekomtak een aand in die Karoo langs ons kampplek neerstort.

Lekker langs die water

Dit is wonderlik dat ’n mens langs ’n rivier mag kamp – ons het selfs onlangs ín die loop van die Oranjerivier op ’n sandbank gekamp en dit was heerlik verby! (Cyril vertel ons in die volgende uitgawe meer hieroor. – Red.)

Doen net eers navraag oor die weerstoestande in die rivier se boloop. As dit byvoorbeeld kliphard in die Vrystaat reën, gaan die vloedwaters die Richtersveld eers die volgende nag tref terwyl jy niksvermoedend onder ’n wolklose sterrehemel slaap.

Riviere wat suid en weswaarts vloei, is gewoonlik sonder ongediertes terwyl ooswaartse riviere, veral in KwaZulu-Natal, dikwels krokodille en selfs seekoeie huisves. Het jy al gesien hoe vinnig mense ’n rivier ontruim wanneer ’n “boomstomp” van koers verander en nader swem? Ons het...

Kies plat grond

Dit klink dalk voor die handliggend, maar skuins grond kan jou slaap lelik beduiwel. Buiten dat dit heeltyd voel of jy uit jou bed gaan rol, kan jy met ’n kopseer ontwaak as jou lyf hoër as jou kop gelê het.

As jy geen ander keuse het as om op skuins grond te kamp nie, moet jy eerder met jou kop na bo slaap. Daar is wel uitsonderings: Ons het een slag op Verneukpan in die Noord-Kaap op sponsmatrassies geslaap, sonder ’n tent, slaapsak of kussing, en dit was aardig om so plat te lê. Blykbaar soek ’n mens se lyf wel so ’n effense skuinstetjie.

Sosiale afstand

Moenie ’n nool wees en jou tent teenaan ander kampeerders opslaan as jy ’n ent weg kan kamp nie. Hulle snork dalk dat die biesies bewe (óf dalk is jy die skuldige!). Gun ’n ander ou sy ruimte, tensy die kampplek propvol vakansiegangers is en daar geen ander uitweg is nie.

Ons het in die Kalahari gekamp en was die enigste besoekers aan ’n wildreservaat – of só het ons gedink. Teen skemer het ’n groep raasbekke reg langs ons ingetrek terwyl daar tientalle ander staanplekke verder weg was. Die petalje wat gevolg het, is té lelik om oor te vertel.

Span ’n ankertou só

Een van die sterkste vorms in ingenieurswese is die gelyksydige driehoek. ’n Naaswenner wat stewigheid betref, is die reghoekige driehoek. As jy terugdink aan die wiskundeklas, sal jy seker vir Pythagoras onthou: “In enige reghoekige driehoek is die kwadraat van die lengte van die skuinssy gelyk aan die som van die kwadrate van die lengtes van die reghoekige sye.”

Wat Pythagoras in terme van kamp sê, is indien ’n tentpaal 1,8 m lank is, moet die tentpen 1,8 m van die voet van die paal af ingekap word om die stewigste ankerpunt te skep.

Kampboffin
Kampboffin

Dit los egter net een probleem van tentopslaan op, want ’n tent bestaan nie net uit rigiede metaalpale nie, maar ook uit seile en toue wat effens meegee en die meetkunde befomfaai.

As die wind sterk waai, sal jou tent se dak dikwels oplig en dan val die pale uit. Deur die ankertou eers om die paal te draai voordat jy dit aan die ankerpen vasmaak, maak jy in der waarheid die paal aan die tent vas sodat hy nié kan uitval nie. Draai die paal aan sy bopunt vas sodat jy steeds ’n groot reghoekige driehoek het vir die beste ondersteuning. As jy die paal laer af – of in die middel – vasdraai, kan die paal deur erge wind gebuig word, en ’n kleiner regkantige driehoek is nie so stewig soos ’n groot een nie.

Jy kry volpunte as jy jou tent soos volg opslaan: Druk die paal se punt deur die tentdak se oog en gebruik ’n paalpen om te keer dat die paal se voet sywaarts skuif. Maak die ankertou bo die dakseil aan die paal se punt vas, lei die tou sowat ’n handlengte afwaarts, en draai hom om dieselfde paal. Skat die afstand van hier na die grond en slaan ’n geveerde pen oor dieselfde afstand van die paal af in die grond. Glip ’n poelnoedel oor die tou (sodat jy nie snags in die tou vasloop nie) en span die tou teen ’n 45º-hoek aan die tentpen.

’n Ander – selfs stewiger – tegniek is om twéé toue te gebruik. Maak een tou aan die paal se punt vas, lei hom halfpad teen die paal af en draai hom om die paal voordat jy hom teen ’n 45º-hoek na ’n tentpen toe span. Nou neem jy die tweede tou, maak hom óók aan die paal se punt vas, maar span hom direk teen ’n 45°-hoek na sy eie ankerpen toe.

Nóg ’n oplossing is om ’n vragnet oor jou tentdak te span en hom onafhanklik aan die grond te anker. Nou sal selfs Orkaan Edna nie jou tent kan roer nie.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook