Foto’s Leon Botha, Getty en Unsplash

Die meeste kampeerders gebruik hulle woonwa net ’n paar keer per jaar, maar wanneer jy gedwing word om afstand te doen van jou kampplanne weens ’n wêreldwye virus, is dit dalk tyd om weer te gesels oor die beste manier om jou wa te berg.

Ons het met kenners in die bedryf gesels om te hoor hoe jy te werk moet gaan om jou woonwa behoorlik op te pas. Hier is goeie raad vir beginnerkampeerders én veterane met jare se sleepervaring.

Trek ’n jassie aan

Dit is voor die handliggend dat dit die heel beste is om jou wa in ’n motorhuis te bêre wanneer jy nie reis nie. Maar nie almal het plek in die motorhuis of onder ’n dak nie, en daar is waarskynlik heelwat waens wat bloot agter in die erf moet staan.

As dit die geval is, kan jy gerus oorweeg om in ’n beskermende woonwabekleedsel te belê. Vermy die soort wat van dun materiaal gemaak word en sommer ooglopend van ’n swakker gehalte is. Ná ’n seisoen of twee in die Afrikason – en ’n donderstorm hier en daar – gaan die bekleedsel nie hou nie.

’n Blinkseil is ook nie aan te beveel wanneer jy jou wa vir lang rukke bêre nie. Dit werk goed vir kort tydperke, soos wanneer jy in die Kruger kamp en teen die hitte wil skuil.

Kampboffin
SAK, SAREL! Natuurlik moet ’n woonwa mooi waterpas staan wanneer jy kamp, maar as jy vir lang tye nie die wa gebruik nie, is dit beter dat jy die neus laat sak. Só loop enige water wat moontlik op die dak kan vergaar, af.

Water kan onder die seil kondenseer wanneer die temperatuur daal, en dít is sleg vir jou wa. Wesley Dempster van Tygerberg-woonwaens stel voor jy kry vir jou ’n duursame bekleedsel van skeurvrye seilmateriaal met afskortings oor die deur en vensters wat jy met ritssluiters kan oop- en toemaak. Hoewel dié bekleedsels nie goedkoop is nie, laat hulle beter lugvloei toe.

“Ideaal gesproke wil ’n mens jou wa binne bêre, maar nege uit die tien keer staan hy onder ’n afdak. In sulke gevalle beveel ons aan jy laat die wa aan die neuskant effens sak sodat enige kondensasie wat moontlik opbou, kan afloop,” sê Wesley.

Enige wa wat buite in die son staan sonder enige soort dak bo-oor, gáán een of ander vorm van skade kry. As ’n afdak nie in jou beplanning of jou begroting is nie, is ’n behoorlike bekleedsel ’n goeie alternatief. 

Skep asem

Jy moet jou wa elke nou en dan oopmaak sodat vars lug deurvloei. Doen dit minstens een keer per maand vir ’n paar uur – en onthou om die tent en stoeptent ook oop te vou.

“As jy jou wa onder ’n bekleedsel berg, kan jy ’n venster ’n entjie laat oopstaan om met die lugvloei te help en te keer dat enige vog binne vasgekeer word,” sê Brendan Vos, werkswinkel- en operasionele bestuurder by Natal-woonwaens.

“Daardie ekstra vog kan lei tot muf op die kussings of tentseil. Dit geld ook vir nuwe waens. As dit nie behandel word nie, kan dit tot houtvrot lei, veral op ouer modelle.”

Waar was jy?

Of jy nou met jou boswa langs die see gekamp het of deur die water in Botswana gesleep het, dit is van die grootste belang om jou wa ordentlik te was wanneer jy terugkom by die huis.

Fokus veral op die onderstel en was al die stof, sand en vuiligheid af. Die sand behou vog, wat daartoe kan lei dat die metaal roes. “Hier het al waens gekom wat deur Namibië is, en dan het die eienaar die wa nie ordentlik skoongemaak onderlangs nie,” sê Bryan Lawrence van Loftus-woonwaens.

“Die ou stof wat op die onderstel beland, raak soos ’n sement wat ons moet afskraap omdat dit só erg met die versonke staal gebind het.”

Van krag tot krag

Prop jou woonwa by jou huisprop in, nes jy in die kampterrein sou maak. Dit is nie net om die battery gelaai te hou nie, maar ook om al die toebehore soos die yskas, waterpomp en ligte na te gaan en seker te maak hulle werk nog. Wees egter versigtig om die battery te oorlaai: Jy wil nie ’n vol stroomspanning hê wanneer die battery reeds op sy maksimumkapasiteit is nie.

“Dit hang alles af van hoe jou stelsel lyk,” sê Bryan. “Jurgens se produkte moenie voltyds ingeprop wees nie. Die laaiers van Samsung, Apollo en Hercules wat deur sommige vervaardigers gebruik word, is nie slimlaaiers nie.”

Bryan sê slimlaaiers soos dié wat deur Victron gemaak word en in Bush Lapa en Okto se waens gebruik word, laai teen ’n laer tempo wanneer die battery sy kapasiteit bereik. Dit word dan basies ’n onderhoudstelsel wat jou battery tussen 40-80% gelaai hou.

’n Ander opsie, wat waarskynlik veiliger en meer kostedoeltreffend is, is om niks in te prop nie en bloot jou wa se battery uit te haal. Jy kan die battery dan aan ’n sypellaaier koppel om hom te beskerm, en jy hoef jou nie oor die ander toebehore te bekommer wat nie gebruik word nie.

’n Band wat op ’n plat betonblad staan, is minder vatbaar vir die vog wat in grond of sand voorkom.

Bande, wiellaers en remme

“Probeer jou wa met ’n domkrag oplig sodat jy die asse op bokkies kan laat rus. As ’n voertuig lank stilstaan, kan plat kolle op die bande vorm wat die duursaamheid uiteindelik kan beïnvloed,” sê Bryan.

As jy elke twee maande of so gaan kamp, is jou bande nie regtig in gevaar nie, maar as hulle langer moet staan, is dit beter om die gewig af te haal. “Dit hang ook af van die omstandighede waarin die wa gebêre word.

’n Band wat op ’n plat betonblad staan, is minder vatbaar vir die vog wat in grond of sand voorkom. “Ek laat staan altyd my eie wa ná ’n reis op bokkies, want ek het gevind dit verleng die leeftyd van die as, wiellaers én bande,” voeg Bryan by.

Volgens Wesley kan jy ook ’n stel matte koop wat jou bande teen plat kolle beskerm. Dis amper ’n kussing en wielblok in een, en verlig van die druk op die band. “Moet ook nooit jou wa vir lang tydperke laat staan met die handrem opgetrek nie,” sê Brendan.

“Dit kan daartoe lei dat jou remme strem, wat gaan beteken jy moet hulle losstamp om die wiele weer aan die rol te kry en die woonwa vrylik te beweeg.”

’n Meer bekostigbare plan is om bloot die wa nou en dan op te lig en die wiele te draai. Sodoende maak jy seker die wiellaers werk nog én jy kan kyk of daar plat kolle op die bande is. 

Onthou van die onderstel

Sommige kampeerders glo jy moet al vier hoekstutte laat sak wanneer jy jou woonwa bêre sodat jy die gewig eweredig oor die onderstel kan versprei. Bryan sê egter dit hang van jou wa se ouderdom af. “Die nuwer modelle het almal ’n modulêre onderstel, terwyl die ouer waens ’n plat weergawe gekry het. Die oueres is geneig om meer buigsaam te wees. Dit gebeur gereeld dat wanneer ’n wa gelig word, daar meer gewig op die hoekstutte is as op die as. Die teendeel is óók waar, wat beteken die onderstel buig op of af,” sê Bryan.

Hy beveel aan jy draai die hoekstutte al die pad uit en probeer die gewig van die as verlig. Hy stel egter voor jy vind uit watter soort onderstel jou ouer woonwa het sodat jy krake bo die deur en by die vensterrame kan vermy. Dit is ’n duidelike teken dat daar te veel spanning op die onderstel is.

Van oud tot nuut. ’n Woonwaonderstel is nie net sommer ’n onderstel nie. Vandag se waens spog meestal met modulêre onderstelle, wat verskil van die oueres.
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook