FOTO’S JAMES GARAGHTY 

Minimalisties

K-Way Tempo- 7 l-waterrugsak

As jy hou van bergfietsry, veldloop of om vinnig te stap met net die nodigste goed, is hierdie sak jou maat. Jou watersak skuif binne-in ’n kompartement aan die agterkant. Daar is ’n girtsstrop om die watersak op sy plek te hou, openinge op die linker- of regterskouer (afhangend van waar jy die drinkbuisie verkies), en rekkies op die skouerbande om die buisie op sy plek te hou.

Die res van die sak – sowat vyf liter, afhangend van die grootte van jou watersak – het plek vir ’n klein baadjie, energiestafies, sonroom, jou selfoon en ’n kaart. Daar is ’n klein ritssakkie op die voorkant vir jou foon (met ’n opening vir oorfone), en die heupband het sakkies waarby jy maklik kan uitkom om jou sleutels en ’n sakkie neute te bêre.

Dis ’n uitstekende aanbod vir die prys; onthou net dat jy ’n watersak apart moet koop.

Die K-Way 2 l Hydration Reservoir (R400) pas goed hierin en het plek vir genoeg vloeistof om jou tot bo-op Duiwelspiek en weer onder te kry.

R650 by Cape Union Mart

Sealand Moon

As jy ’n maklike stap saam met jou vriende beplan en die weer lyk goed, is hierdie sak al wat jy nodig het. Dra hom om jou middel, of gooi hom oor jou skouer. Dis groot genoeg vir ’n buisie sonroom, ’n paar peuselhappies, ’n klein kamera en jou donkerbril.

Sealand is ’n Kaapse maatskappy en maak ’n reeks sakke en bybehore van herwonne materiaal soos ou seiljagseile, of materiaal wat van plastiekbottels gemaak word. Elke sak word plaaslik en volgens bestelling gemaak. Daar is geen twee wat presies dieselfde is nie.

Met hierdie sak op jou heup kan jy die planeet help, plaaslike ambagsmanne ondersteun én die moon bag-legende laat voortleef.

R725 by sealandgear.co.za

Black Diamond Bullet 16 l

Sit dié outjie op jou inkopielys as jy op soek is na ’n duursame rugsak sonder fieterjasies vir uitstappies waarvoor jy min dra. Die Bullet weeg net 520 g en word gemaak van duursame en “ballistiese” nylon – dit gaan beslis nie skeur nie.

Die sak is ontwerp vir rotsklim, maar is ook goed vir reis. Ondanks sy grootte en vaartbelynde voorkoms het dié sak al die regte eienskappe: ’n plek vir ’n watersak, ’n maassakkie binne-in die hoof-kompartement vir ’n iPad of boek, ’n voorste sakkie vir kleiner goed, ’n heupband wat afgehaal kan word en lussies op die skouerbande vir jou drinkbuisie. Ek sou net ’n sakkie aan die buitekant bysit vir ’n waterbottel.

R950 by rammountain.co.za 

Ontsnap vir die dag

Osprey Daylite Plus 20 l

Osprey maak van die beste stapsakke op die mark, en dié sak getuig daarvan. As jy daarmee stap, sal jy hou van die plek vir ’n watersak, die ligte maasstroppe, die kantsakkies vir ’n nat swembroek en die noodfluitjie wat ingebou is by die knip op die borsband. Die voorste sakkie kan groter gemaak word en is ideaal om ’n baadjie weg te pak.

Die Daylite Plus werk goed as ’n elkedagsak. Dieselfde voorste sakkie kan jou valhelm hou as jy fiets trap werk toe, en daar is ’n opgestopte kompartement binne-in vir ’n klein skootrekenaar. Dié sak is veeldoelig en dra Osprey se lewenslange waarborg.

R950 by Outdoor Warehouse

Patagonia Arbor Classic 25 l

Patagonia maak al 40 jaar lank sakke en dié erfenis word in die klassieke ontwerp weerspieël. Dis gemáák vir ontdekkingstogte.

Die hoofkompartement maak met ’n trektoutjie toe en het ’n opgestopte skootrekenaardeel binne-in. Daar is twee kleiner kompartemente: voor (met ’n sleutelhakie) en aan die binnekant van die flap. Daar is nie ’n spesifieke plek vir ’n watersak nie, maar jy gaan nie hierdie sak met so ’n moderne stuk toerusting bederf nie. Nee, jou water hoort in ’n aluminiumkannetjie!

Die Arbor word van herwonne materiaal gemaak en die materiaal is gekleur in ’n proses wat baie minder water as die gewone kleurproses gebruik en 90% minder CO2 vrystel.

Die rug en skouerbande is dik gestop en uiters gemaklik, maar die heupband is dun en effe nutteloos. ’n Mens kan hom ook nie afhaal nie, en hy is geneig om in die pad te wees.

R1 500 by goneoutdoor.com

Thule Crossover 32 l-dagsak

Hierdie Thule-sak is die Volvo XC90 van dagsakke. Hy’s slim ontwerp, veeldoelig en gebou soos ’n tenk. As jy op soek is na ’n sak wat jy kan gebruik vir natuurstaptogte, oornagsakereise en vir fietsry werk toe, is die Crossover vir jou.

Die waterwerende materiaal is uiters taai en in die gare is weerkaatsende detail om jou meer sigbaar te maak vir karre in die donker – of jy nou loop of fietsry.

Hier is ’n opgestopte kompartement vir jou skootrekenaar, ’n voorste kompartement vir kleiner items, sakkies langs die kante en voor, en ’n kompartement wat nie platgedruk kan word nie – die sogenaamde SafeZone – waar jy ’n donkerbril en elektroniese goed kan bêre.

Dis nie lig of kompak nie, maar dié sak sal lank hou.

R2 200 by Cape Union Mart

Ernstig oor stap

K-Way Lite 40

Die Lite 40 is ’n verwaterde weergawe van die sak wat jy vir ’n veeldagstap sou gebruik. Dit het dieselfde lang, smal vorm, en ’n 40 liter-kapasiteit. En as jy mooi pak, is 40 l genoeg.

Die sak weeg net 680 g en het ’n minima-listiese ontwerp: Hier’s plek vir ’n watersak, lussies vir jou stapstokke en ’n paar ander kleiner kompartemente met ritssluiters. Die kriskras-drukstroppe langs die kant werk goed om die sak stewig op jou rug te hou, ongeag hoeveel goed daar in is, en die rekbare koord op die flap is handig om ’n hoed vas te maak. Die stopsel op die rug en op die bande is nogal dun.

Dit was nie ongemaklik toe ek die sak getoets het nie, maar kan dalk ’n probleem word as jy die sak heeldag vol dra.

R1 000 by Cape Union Mart

JR Gear Bomber Mini Pro

Hierdie sak is vir mense wie se ideale Saterdag abseil teen ’n steil krans en swem in ’n rivier is. Dit word gemaak van versterkte viniel met sweisnate, en die oprol-bokant maak seker dat die hoofkompartement (30 l) heeltemal waterdig is.

Hier is min fieterjasies: lussies vir stapstokke, drukstroppe om alles binne te hou, en ’n klein ritssakkie voor. Die skouerbande is gemaklik en die agterste paneel is goed gestop. Die sak het ook ’n heupband en ’n verstelbare band oor die bors. Hy is beslis nie so gebruikersvriendelik soos die ander twee dagsakke in dié afdeling nie, maar jy gaan soos ’n rockster voel as jy by ’n bergpoel inspring mét jou sak op jou rug.

R1 195 by mountainmailorder.co.za

First Ascent Atlas 35 l

Hierdie rugsak is ontwerp om Kilimandjaro te klim, maar hy werk net so goed vir ’n lang dagstap of selfs ’n oornagstap.

Alles hieraan spel “avontuur”: die stapstoklussies, die reënseiltjie wat verwyderbaar is, die sagte bande oor die skouers en om die heupe, die neonhelder-ritssluiters sodat jy dit maklik in ’n donker hut kan opspoor...

Die Atlas het ’n magdom bêreplek-opsies waarmee jy jou toerusting kan organiseer: ’n selfoonsakkie, ’n sakkie met mikroveselvoering vir ’n donkerbril, ’n sleutelhakie, sakkies op die heupband, diep kantsakkies, en ’n oop sakkie voor vir wat ook al nie agter inpas nie.

Hy weeg twee keer soveel as die K-Way Lite 40 (1,3 kg), maar het meer eienskappe en sal beter werk in slegte weer – veral met daai reënseiltjie.

R1 400 by firstascent.co.za