Hy het ’n paar jaar gelede ’n Isuzu Frontier 4x4 3.2 V6 gekoop. 

“Ek kon nie ’n klaargemaakte tenk opspoor nie en kwotasies om dit te laat maak was tussen R5 500 en R7 000,” vertel hy. “Toe bou ek self een.”
Carel se vereistes was dat die tenk groot genoeg moes wees om die bestaande reikafstand na sowat 1 000 km te rek (dus ’n kapasiteit van ongeveer 55 liter).

Dit moes in die laairuim pas en daarom ook sterk genoeg wees om ’n yskas en ammobokse bo-op te dra.

“Die beskikbare spasie was 1 000 mm x 930 mm. As die tenk sowat 60 mm hoog was, sou dit groot genoeg wees om sowat 55 liter te hou,” verduidelik hy.

“Ongelukkig kon ek net heel vlekvrye staalplate bestel. Dit het beteken dat die koste vir ’n groter tenk dieselfde sou wees as vir my beplande 55 litertenk. Ek het dus besluit om die tenk 100 mm hoër te maak. My finale afmetings was 1 000 mm x 930 mm x 160 mm sodat my yskas nog steeds agterin kon pas. Die ekstra tenk se volume is nou ’n hele 148,8 liter.”

Hoe werk hy?

Die tenk gebruik swaartekrag om brandstof van die spaartenk na die oorspronklike tenk te lei. Om die vloei te beheer, het ek ’n 12V-solenoïde ingesit wat ek met ’n skakelaar voor in die voertuig beheer.

Ek het die twee tenks aanmekaar gekoppel deur ’n koper T-stuk in die lugpyp (breather pipe) van die oorspronklike tenk te sit. Toe koppel ek die uitvloeipyp van die nuwe tenk deur die solenoïde na die T-stuk.

Ek het die T-stuk met ’n dik stuk rubber beskerm sodat dit nie beskadig op die onderstel van die voertuig terwyl ek ry nie. 

Het jy al só getoer?

Ek was in Mosambiek en die installasie het puik gewerk. Ek het op Punda Maria volgemaak, Chisubane toe gery en eers weer op pad terug Krugersdorp toe tussen Modimolle en Bela-Bela 50 liter ingegooi, net vir ingeval. Die tenk het effens uitgesit met die sweiswerk en ek het met die eerste volmaakslag 150 liter ingegooi.

Hoe het die tenk jou reisafstand verbeter?

Saam met ongeveer 80 liter in die oorspronklike tenk (met 5 liter reserwe) kan ek nou sowat 1 700 km aflê met die totale volume van 228,8 liter. Ek was bang dat die ekstra gewig van die vol tenk ’n invloed sal hê op die padhouvermoë, maar ’n mens kom nie eens agter die tenk is daar nie.

Ek dink die skotte (baffles) in die tenk is belangrik. 

Wat sal jy verbeter?

Ek sal die solenoïde met ’n kraan vervang. Minder kan fout gaan met ’n kraan en die gaatjie van die solenoïde se uitlaat is effe klein vir die Frontier se dors as jy kole gooi. Die oorspronklike tenk raak nie leeg nie, maar hy word ook nie voller nie!

Enige raad vir iemand anders wat só ’n tenk wil bou?

Maak seker dat die kantelhoek na die uitlooppunt groot genoeg is, anders loop die brandstof nie uit nie al is daar nog baie oor.

Die verbindings tussen die pype en die tenk moet goed vas wees met ordentlike klampe, anders ruik jou kajuit na brandstof.

Gereedskap

• Maatband
• Sweismasjien
• Slypmasjien
• Boor
• Skroewedraaiers en moersleutels

Maak só

  • Meet die ruimte waarin die tenk moet pas. Sodra jy die oppervlakte bepaal het (lengte x breedte), kan jy uitwerk wat die diepte moet wees om die gewenste volume te kry. Byvoorbeeld, vir ’n 55 liter-tenk in die 1 000 mm x 930 mm-ruimte van Carel se Frontier, moet die tenk 60 mm hoog wees.
  • Sny die staalplate volgens dié mates. Carel het sy tenk se een kant, naaste aan die voertuig se sitplekke, effens hoër gemaak sodat die tenk ’n kantelingshoek na agter het, waar die uitlaatpyp sit.
  • Sweis skotte (baffles) aan die bodem van die tenk vas sodat die brandstof nie heen en weer plons nie. Dié plate help ook dat die tenk gewig bo-op kan dra.
  • Boor gate in die sypaneel aan dieselfde kant as die brandstofprop – ’n groter gat aan die bokant vir die inlaatpyp en ’n kleiner een aan die onderkant vir die uitlaatpyp.
  • Boor ’n derde gat aan die teenoorgestelde kant van die tenk vir die lugpyp. Dié pyp reguleer lugdruk in die tenk.
  • Sweis koppelstukke by die gate vir die in- en uitlaatpyp. Carel se inlaatpyp is 54 mm, die uitlaat is 10 mm en die lugpyp is 19 mm.
  • Sweis die oogboute aan die buitekant van die tenk op plekke wat ooreenstem met die ankeringspunte binne-in die voertuig.
  • Boor ’n gat deur die voertuig se bakwerk waar die nuwe tenk se inlaatpyp van buite sal sit en ’n tweede gat deur die vloer waardeur die uitlaatpyp moet steek.
  • Carel het ’n paneelklopper gevra om ’n Opel Kadett se brandstofprop vir hom te installeer. Dié prop kan van buite af sluit.
  • Toets die tenk behoorlik voor installasie om seker te maak dit lek nie. Posisioneer dit reg en toets jou kantelingshoek.
  • Koppel die rubberpyp tussen die inlaatprop en die tenk met ringklampe.
  • Sny die oorspronklike tenk se inlaatpyp en sit ’n koper-T-stuk in.
  • Koppel die nuwe tenk se uitlaatpyp aan die solenoïde en die solenoïde met die T-stuk op die oorspronklike tenk se inlaatpyp. Gebruik ringklampe.
  • Koppel die solenoïde met die skakelaar voor in die voertuig.
  • Anker die tenk stewig met die spanmoere.
Stap vir stap

1 Meet en pas. Sny die staalplate vir die tenk volgens die mates van jou voertuig.

2 Vloeibrekers. Sweis skotte aan die binnekant van die tenk vas om te verhoed dat die brandstof rondplons.

3 In en uit. Boor gate vir die in- en uitlaatpype, sowel as ’n derde gat vir ’n lugpyp. Sweis die koppelinge vir dié pype in plek.

4 Sit vas. Sweis al die tenk se panele aanmekaar. Toets die tenk se digtheid voor jy dit in die voertuig sit.

5 Kantel. Maak seker die tenk sit teen ’n effense helling sodat die brandstof altyd na die uitlaatpyp toe kantel.

6 Koppel. Heg die inlaatpyp met ringklampe vas, asook die solenoïde op die uitlaatpyp.

7 Voerpyp. Carel het ’n T-koppelstuk op die oorspronklike tenk se lugpyp gesit. Sy tweede tenk voer die oorspronklike tenk hierdeur.

8 Gooi vol. Met ’n tweede brandstofprop kan Carel nou albei tenks van buite af volmaak.

JY HET NODIG

• 1,5 mm vlekvrye staalplaat
• Solenoïde
• ’n Elektriese skakelaar
• Inlaatpyp en brandstofklep
• Koperpyp-koppelstukke
• Rubberpyp
• Ringklampe
• Oogboute en spanmoere (turnbuckles) vir die ankerpunte.

Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy#75 (September 2015) verskyn.