foto JAMES GARAGHTY 

Fire Maple Fire Flair-kampketel

Dié stewige geanodiseerde ketel kan 900 ml water kook, maar hy weeg net 182 g en neem nie veel spasie op nie.

En hy sal nie jou beursie te veel skud nie. Gebruik hom saam met ’n Jetboil Flash Stove vir die beste resultate.

  • R350 by Cape Union Mart

Stanley Classic Vacuum Travel Press

Ek is al jare lank ’n aanhanger van Stanley-flesse. Die eerste geïsoleerde fles is in 1913 vervaardig deur William Stanley jr. – die eerste keer dat vlekvrye staal gebruik is vir vakuum-isolering. Selfs bomwerpervlieëniers in die Tweede Wêreldoorlog het dié flesse op missies saamkarwei.

Stanley had nog altyd ’n reputasie vir duursame, byna onbreekbare produkte en hy maak steeds uitstekende produkte om vloeistowwe warm of koud te hou.

Hierdie nuwe produk het ’n slim kinkel: Dis ’n goeie fles (470 ml), en hy het ook ’n ingeboude Franse dompelaar sodat jy koffie kan brou. Die hoëgehaltestaal sal nie roes nie, dis BPA-vry en die deksel sal nie lek nie.

  • R800 by Cape Union Mart

Hydro Flask

Louwarm koffie en plastiekkoppies hoort nie in ons wêreld nie. Met dié kopie kry jy ’n taai, vakuum-geïsoleerde dubbelwandfles van vlekvrye staal. Hy’s beskikbaar in 354 ml of 473 ml. Die kleiner weergawe pas onder die meeste koffiemasjiene. Hierdie fles hou koffie warm vir 6 uur, of die drankie van jou keuse koud vir 24 uur. Daarby het dit ’n lewenslange waarborg.

  • R430 by Outdoor Warehouse 
Foto: James Garaghty
Foto: James Garaghty

UST Packable Cup

Op ’n staptog wil ’n mens lig dra – koop dus hierdie koppie wat piepklein opvou.

Hy word gemaak van hoëgehalte-kookwaresilikoon en gebêre in ’n klein sakkie aan ’n karabynhaak.

  • R75 by Cape Union Mart

Nomu Hot Chocolate en Instant Cappuccino

Partykeer het ’n mens nie krag vir wag en dompel nie – jy wil net skink en drink. Hou ’n paar van dié sakkies in jou rugsak, mossienes of lessenaarlaai.

Die kakao word verkry van plase wat volhoubaar bedryf word. Onversoete weergawes vir albei is beskikbaar.

Sea to Summit X Brew-drup

’n Mens soek altyd ’n koppie boeretroos in die buitelug, maar daar is nie koffiewinkels in die boendoes nie… Dié opvoubare koffiedrup is jou antwoord. Dis maklik om te dra, weeg net 85 g en vou plat in ’n skyf van 20 mm dik.

Dit word gemaak van duursame nylon en kookwaresilikoon, en die maasfilter is van vlekvrye staal; jy het dus nie papierfilters nodig nie. Jy kan twee koppies met hierdie drup maak – vir jou en jou stapmaat.

  • R230 by Outdoor Warehouse
Foto: James Garaghty
Foto: James Garaghty

    Le Creuset French Press

    Net soos die mokkapot is hierdie metode van koffiemaak al eeue lank ’n gunsteling. ’n Franse dompelaar is doodmaklik om te gebruik: Skep ’n paar lepels koffie in die kan en skink kookwater daarby. Laat dit ’n rukkie staan voordat jy die koffie dompel. Die direkte kontak van die water met die koffie sorg vir ’n sterk geur. Die dompelaar kan ook gebruik word vir teeblare.

    Daar is natuurlik goedkoper dompelaars op die mark, maar dié een is van uitstekende gehalte en sal vir jare hou. Jy kan hom in ’n skottelgoedwasser was, en daar is verskeie kleure om van te kies.

    R1 200 by yuppiechef.com

    Baccarat-espressomaker

    Hou jou lyf Italiaans en maak die espressopot – ook genoem ’n mokkapot – staan op ’n stoof vir ’n sterk, geurige koffie. Jy moet waak om die koffie te lank op die stoof te los, anders gaan die koffie effe metaalagtig smaak.

    Hierdie pot is gemaak vir ’n luilekker Sondag, ag, sommer vir enige dag in die week.

    Die mokkapotte is beskikbaar in verskeie groottes. Die groter weergawes kan tot 12 koppies espresso maak. Hou net in gedagte dat die brousels baie sterk is – voeg dus warm water na smaak by.

    AeroPress

    Moenie dat dié vreemde plastiektregter jou ontmoedig nie – hy werk. Regtig.

    Dis in 2005 in Amerika ontwerp deur die legendariese Alan Adler, wat ook die Aerobie-skyf en ander koel goed ontwerp het. Die Aeropress is sedertdien ’n gunsteling onder koffieliefhebbers, ook wêreldbekende baristas – dit het selfs sy eie kompetisie!

    Dit werk eenvoudig: Jy skep net die koffie in, voeg warm water by, roer, plaas die papierfilter bo-oor, pas hom oor jou beker en dompel. Die geheim is dat dié katoeter meer druk uitoefen wat meer geur in elke koppie sit.

    Foto: James Garaghty
    Foto: James Garaghty

      Koffie laat dinge loop

      Weg-mense is koffiemense…hier is ’n paar gunstelinge.

      Arthur Jones, Weg se toerustingman

      Deluxe Coffeeworks is in 2009 gestig en verkoop enkeloorsprongbone (die bone word op een plaas of streek verbou). Hulle huisversnit van Brasiliaanse, Guatemalaanse en Ethiopiese bone is my gunsteling-brandstof.

      Jy kan ook bestellings laat aflewer. deluxecoffeeworks.co.za

      Jon Minster, joernalis

      Ek maak glad nie ’n goeie koppie koffie nie; dus maak ek maar staat op die naaste Vida of Bootleggers nadat ek fietsgery of die kinders by die skool afgelaai het. My bestelling is altyd dieselfde: ’n Americano met warm melk. Ek bestel dit ook by padstalle en in plattelandse restaurante... Soms proe die koffie lekker, ander kere minder lekker.

      Toast Coetzer, reisredakteur

      As jy ooit besluit om te reis na Dar es Salaam, sal jy heel waarskynlik oorbly by die Utengule Coffee Lodge net buite Mbeya, Tanzanië. Dis naby die grens met Zambië. Hier word omtrent vyf soorte koffie verbou, waarvan Riftvalley my gunsteling is (die plaas is ook in die Groot-Skeurvallei). Saam met Rwanda se Café de Maraba is Riftvalley my gunsteling-Afrika-koffie. Albei word gemaak van enkeloorsprongbone.

      Terloops, my bone is gedaan...koop tog ’n sakkie of twee as jy daarlangs reis? utengule.com; rwashoscco.com

      Sophia van Taak, joernalis

      ’n Paar jaar gelede het die Terbodore-koffiemaatskappy se verpakking my oog gevang – sterk, helder kleure met ’n skets van ’n Deense hond. Dié woef se naam is Sultan, en hy’s die plaashond van die Macaskill-familie – wat in 2004 die koffie in die Natalse Middelland begin vervaardig het.

      Terbodore het sedertdien ook ’n roostery op Franschhoek oopgemaak en die koffie is landwyd beskikbaar. Jy kan dit ook in kapsules vir jou Nespresso-masjien koop, en TBrew – ’n mengsel van koffiegegeurde fonteinwater en ’n natuurlike geurmiddel soos maroela. Probeer dit!

      Getty Image

      Koffie op ’n warm dag

      Lees nou mooi. Koudgebroude koffie is nié yskoffie nie... Laasgenoemde is wanneer jy koffie soos gewoonlik maak, laat afkoel en dan met ys voorsit.

      Koudgebroude koffie word teen yskastemperatuur gemaak en dit neem 8-24 uur. Dit smaak anders as gewone koffie – dis minder suur, maar steeds geurig. Geniet dit op sy eie, saam met melk of met ys.

      Maak jou eie. Koop ’n Hario-koffiebottel (R500 by capecoffeebeans.co.za). Maak die koppie binne vol gemaalde koffiebone, vul die buitenste houer met water en los dit vir minstens 8 uur in die yskas. Jy kry 650 ml vars, koue koffie.

      … of koop dit. Probeer Soma Cold Brew Caffe Latte ( drinksoma.co.za) of Sea Dog Cold Brew ( seadog.co.za) – albei is heerlik.