Dié twee is albei oorspronklik van die Kalahari en dis waarheen hulle harte terugverlang wanneer hulle vakansies beplan. Hulle toer lekker in hulle Land Cruiser 76-stasiewa.

“Ons het met beeste en wild geboer, en ek was ook ’n professionele jagter wat ander jagters na Namibië en Botswana geneem het,” vertel Boet.

Noudat hulle afgetree het, het hulle weer tyd om te doen waarvoor hulle die liefste is: om te toer en verafgeleë plekke te besoek. “Ons gaan waar gewone mense nie graag kom nie. Hoe woester en wilder, hoe beter!” vertel Boet. “Daai plekke waar jy die oggend, wanneer jy met die leer afklim om koffie te maak, eers die leeu- en hiënaspore moet doodvee wat deur die nag om jou voertuig gesnuffel het vir oorskietbene.”

Boet-hulle se eerste toervoertuig was ’n ou 1989-Hilux 2.8 4x4. "Daarna kry ons toe ons eerste Land Cruiser 76-4.2-stasiewa. Dit was ’n ongelooflike voertuig, maar in die Namib se hoë duine het sy asem opgeraak voor hy bo kon uitkom. Toe gradeer ons op na die langverwagte V8-turbodiesel 76-stasiewa,” verduidelik Boet. “Dis ongetwyfeld die beste 4x4-ekspedisievoertuig vir Afrika en niemand sal eers met jou stry nie!”

Front Runnerlaaistelsel help om alles in die kajuit netjies te hou, maar laat genoeg spasie dat tasse en toerusting bo-op kan lê.
Die daktent vou binne 3 sekondes oop.

Waar en wanneer het jy die voertuig gekoop en wat het dit gekos?

Ons het dit in Februarie 2014 gekoop en R600 000 betaal.

Wat is jou gunsteling-bestemmings?

Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe en Angola. Eintlik enige plek wat ver en wild is. Maar ons heel lekkerste kampplekke is Halali in Etosha en Mabuasehube in Botswana.

Hoekom het jy ’n Cruiser gekies?

Gaan kyk in die erge woestyne en mees afgeleë plekke – watter voertuie sien jy daar? Land Cruisers. En hulle sê mos jy kan ’n Cruiser aan die gang hou met  tang en ’n stuk draad!

Vertel ons van die aanpassings op jou voertuig?

Ek het ’n dakrak ontwerp wat vorentoe op 20 rollaers uittrek en dan op die bosbreker gestut word. My selfgeboude 80 liter-staaltenk vir stortwater is heel voor op die dakrak en die Bundu Top-daktent sak reg agter die watertenk in. 

Albei sit ewe hoog en die watertenk is met ’n ronding na agter gebou sodat dit minder windweerstand bied. 

Die daktent kan vorentoe skuif sodat dit ’n “stoep” van 2 meter op die dak los waar twee stoele en ’n tafel kan inpas. 

Die dakstoep is nodig omdat ons gereeld by plekke soos Moremi, Savuti en Mabua kamp waar jy voor sononder reeds drie meter bo die grond moet wees, anders vreet die leeus en hiënas jou! 

Verder verskaf die stoep vir jou ’n veilige aantrekplek, en die perfekte plek om van bo af die mooiste sonsondergange by Mabuasehube se pan te verfilm. 

Boet
Boet het sy Cruiser so aangepas dat hy en sy vrou, Marina, die beste sitplekke het om leeus in Mabua te sien.

Hoe lank het dit gevat om die aanpassings te maak?

Langer as twee jaar. Ons het die modifikasies stuk vir stuk laat doen namate ons geld bymekaar kon maak. Na elke toer het ons dinge aangepas na aanleiding van die lesse wat ons geleer het. 

Watter aanpassing is jou gunsteling?

Seker die Power Flex 160 watt-sonpaneel wat jy kan afrol oor jou Bundu Top se dak. Dit gee genoeg krag vir ’n 800 W-omsetter wat aan my batterystelsel gekoppel is. My yskas, ligte en selfs TV sou kon werk om sport in Mabua te kyk! 

Is daar enigiets wat spesifiek vir jou behoeftes op die lang pad gemaak is?

Ja, die elektriese wenas wat binne-in die Bundu Top se dak sit. Met die druk van ’n knoppie kan ek binne 3 sekondes my daktent ten volle opslaan. 

En dis lekker dat al jou beddegoed, pilletjies, Bybel en alles net so daar bly as jy hom weer toemaak. 

Hoe reageer mense as hulle jou Cruiser sien?

Almal vergaap hulle aan die spoed waarmee die daktent binne 3 sekondes oopvou. 


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry # 91 (Maart 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.