Die mens kamp al duisende jare in tente. Die Bybel noem byvoorbeeld in Genesis dat Jabal die stamvader is van veewagters wat in tente woon. Ons weet ook dat die Romeinse leër in leertente gekamp het, én dat die eerste ekspedisie wat die Suidpool bereik het – onder leiding van die Noorwiër Roald Amundsen – henneptente saamgeneem het.

Maar watter soort tent is die beste vir jou? ’n Daktent of ’n grondtent? Nylon of doekmateriaal? Hier is jou keuses...

Tent
Kies jou tent!

Nylon

Nylontente kan in twee kategorieë verdeel word: leefstyl en ekspedisie. Leefstyltente kan jou warm en droog hou in matige natweerstoestande, maar ekspedisietente hou jou aan die lewe in uiterste omstandighede. Nylontente se paaltjies word gewoonlik van veselglas gemaak. Dit weeg min en kan heelwat buig voordat dit breek. Maar as die wind kliphard waai, móét jy ankertoue gebruik, want anders gaan daai paaltjies soos vuurhoutjies knak.

Ekspedisietente se paaltjies word weer dikwels gemaak van ’n mengsel van aluminium en koolstofvesel – dit is aansienlik sterker as veselglas én weeg minder, maar selfs húlle kan knak in sterk wind.

’n Leefstyltent se dak is gewoonlik hoog genoeg dat jy regop binne kan staan, terwyl ’n ekspedisietent platter en dikwels vaartbelyn is sodat stormwinde bo-oor kan waai. Laasgenoemde het ook meer as net twee paaltjies en ’n ooraanbod van ankertoue.

Jy kan ’n ekspedisietent verder uitken aan die helder kleur – gewoonlik geel of oranje – sodat reddingswerkers jou makliker uit ’n helikopter kan raaksien. Sommige avonturiers wat die Noordpool in die somer pak, kla wel dat die helder gloed aan die binnekant jou laat voel asof jy binne-in ’n gloeilamp slaap.

’n Ander soort leefstyltent is ’n kitstent. Hulle het twee groot hoepels wat inmekaarvou wanneer jy hom bêre, en oopspring wanneer jou hom uit sy sak haal. Hulle ontplooi gewoonlik binne enkele sekondes, maar verg soms ’n bietjie kopkrappery om weer terug in die sak te kry.

Katoen-koepeltent
Katoen-koepeltent
Nylon-ekspedisietent
Nylon-ekspedisietent

Doekmateriaal

Seiltente word gemaak van katoen, poliëster of ’n mengsel van die twee. As die materiaal in die ripstop-teenskeurweefpatroon geweef is, is dit meer bestand teen skeure as nylon met dieselfde teenskeurweefpatroon, maar ongelukkig is seil ook heelwat swaarder as nylon. En as gevolg van die gewig is seiltente se pale gewoonlik van staal, wat hulle nóg swaarder maak.

Seiltente van katoen of poliëster laat minder lig deur en jy kan dus later slaap op jou vakansie. Katoen haal ook asem en vog versamel nie aan die binnekant soos met ’n nylontent nie.

Seiltente is warmer in die winter en koeler in die somer as nylontente. Buiten die gewig is die groot nadeel van katoen dat dit muf as jy nie na jou seiltent kyk nie. Wag tot hy kurkdroog is voordat jy hom in sy sak pak.

Die voordeel van poliëster is dat dit nie vatbaar is vir vrot nie, maar dit haal nie so goed asem as katoen nie. Vir omgewingsbewustes is katoen ook ’n beter keuse, want dit breek natuurlik af aan die einde van sy leeftyd.

Ons gesels met twee kenners oor nylon versus katoen.

Samantha Piek is ’n gesoute kampeerder en haar kennis maak haar een van die buitelewewinkelgroep Camp & Climb se top-verkoopsmense. 

“Ek was altyd ’n voorstander van nylontente, maar deesdae verkies ek doekmateriaal,” sê Samantha. “Seiltente het duursame staalpale teenoor veselglaspaaltjies wat maklik breek. Hulle het gewoonlik ook langer penne wat nie so maklik deur die wind uitgetrek kan word nie. Vir my is die beste eienskap van seiltente egter dat jy later kan slaap en heeldag daarin kan lê omdat hulle koeler is as nylontente.”

Maar wat van die gewig? “Jy ry met jou kar tot waar jy gaan tent opslaan. Gewig maak dus nie saak nie. Ek gee toe dat seiltente nie vir stappers is nie, maar deesdae is daar stappershutte op elke roete en hulle het dus ook nie ’n nylontent nodig nie.”

Neel Brits is ’n bestuurder by 4x4MegaWorld en hy verkoop al die soorte tente waaroor jy op hierdie blaaie lees. “Daar’s ’n tyd en ’n plek vir alle soorte tente. My klante koop gewoonlik ’n duursame seiltent vir Ma en Pa en ’n nylontent vir die kinders. Die redenasie is dat ouers ’n duursame tent soek wat jare se diens sal lewer. Hulle kies dan ’n goedkoper kompakte tent vir die spruite, want hulle gaan dit ieder geval ontgroei en later die huis verlaat. Ek weet van geen klant wat ’n daktent vir die ouers en ’n grondtent vir die kinders gebruik nie. Óf almal slaap bo óf almal op die grond,” sê Neel.

Oor duursaamheid het hy die volgende te sê: “Poliëster bly langer skoon as katoen. Baie van ons topverkopertente bestaan uit ’n mengsel van poliëster en katoen. Nylon gaan jou ook donkiejare hou as jy mooi daar- na kyk.

Vir my 4x4-vakansies gebruik ek my seiltent, maar as ek met my motorfiets reis, strop ek my nylontent vas.

Wat is ’n waterkolom?

By nylontente word gewoonlik ’n waterkolomsyfer in die spesifikasielys aangegee. Dié “waterkolom” is ’n denkbeeldige buis wat met water gevul is.

Een oop kant van die buis rus teen die oppervlak van ’n seil. Die waterkolomsyfer is die hoeveelheid water wat jy in die denkbeeldige buis kan tap voordat die water deur die seil gedwing word.

Neem ’n 5 000 mm-waterkolom as voorbeeld: Dit beteken dat die buis tot op die 5 000 mm-merk met water gevul is voordat die materiaal lek.

Hoe hoër die syfer, hoe meer waterdig die seil.

Let wel daarop dat die waterkolomgradering nie die tent se nate in ag neem nie. As die nate lek, is die gradering nutteloos.

Seiltente voorsien nie ’n waterkolomsyfer nie, en onbehandelde katoen lek soos ’n woltrui.

Waterkolom
Waterkolom

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #20 (Maart 2019) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.