In 2014 het Steph du Toit, eiendomsagent van Swellendam, en sy vrou, Karen, ’n skilder, vir hulle die ryhuis van hulle drome gekoop: ’n ou Autovilla.

Hulle het hom reggemaak en mooigemaak, maar hulle eerste reis was allesbehalwe ’n droomreis. Dit was ’n effense nagmerrie, met baie teëspoed langs die pad: drade wat oorverhit, borrelende rook in die stuurkajuit, ’n petrolpedaal wat afbreek, ’n 4de rat wat bly uitglip, ’n enjin sonder woema, ruitveërs wat nie opgewasse is vir stormreën nie, en ’n skokbrekerbout wat die gees gee.

Baie ander mense sou waarskynlik halt geroep het, maar die Du Toits het vasgebyt en deurgedruk met hulle reis van 3 000 km – al moes hulle die ryhuis vir kilometers en kilometers met ’n rektou in rat hou en die stukkende petrolpedaal met ’n tentpaal “trap”, en al moes hulle dit teen ’n slakkepas doen.

Hulle het ook nie daarna summier van hulle wa ontslae geraak soos baie ander mense waarskynlik sou doen nie.Deesdae loop hulle “Gypsy Lady” soos ’n droom...

Aan die begin

Alles het 22 jaar gelede begin, eers met ’n tweedehandse koepeltent en daarna ’n daktentjie op ons Land Rover Defender. Maar kom ons wees eerlik: Waarom op die dak slaap as daar niks is wat jou eerste gaan vreet nie? Om met oë vol slaap en ’n vol blaas af te klim en daarna weer op te klim tot in die tent is nie maklik nie en die meeste van die tyd sommer onnodig.

So kamp ons in 2012 in gietende reën in Jongensfontein se munisipale kampplek in ons tent en beny die buurman in sy woonwa en groot tent. Hy loop rond in die ding. Daar en dan besluit ons: ’n Woonwa móét ons kry.

Maar ons is mos anders, en óns wa moet karakter hê.Ons kry vir Ou Lady, ’n klein 1984 Jurgens, vir R6 000, doen haar self oor en Karen skilder ’n pin-up girl op die buitekant. Toe ons klaar is, toer ons 3 000 km na die noorde, Upington en die Weskus. Dié slag reën ons nie nat nie en dit is heerlik. Daar is net een probleempie:

Die bed is ’n driekwartbed en op hom kan twee mense nie gelyk omdraai nie. Julle moet beurte maak.Ná ons toer kry ons ’n uitnodiging van ’n uitstaller by ’n buite-ekspo op die Lourensford-wynlandgoed by Somerset-Wes om ons “pin-up”-wa by sy stalletjie te trek.

Hy wil met ons wa mense na sy stalletjie toe lok.“Kom ons sit sommer ’n prys op haar,” stel ek voor, en die Sondag is ons huis toe met ons wa wat verkoop is.

Hoe nou gemaak?

Ek wil ’n camper hê en die soektog begin.Karen is verlief op die Volkswagen Autovillas uit die jare sewentig. Ná ’n lang soektog sien ons haar op Gumtree: ’n 1976 VW Autovilla in Pretoria, vir R34 000. Die advertensie sê sy het ’n Toyota Y4-enjin en is in ’n lopende toestand.

Ná ’n klomp onderhandelings en reëlings kom sy op ’n April-aand in 2014 agterop ’n vragmotor by die Ultra City buite Worcester aan.“Wat doen Meneer nou?” wil die vragmotorbestuurder weet toe ek agter die stuurwiel van die Autovilla inspring.“Ek gaan huis toe. Sy loop mos.”

“Maar die battery is dood, Meneer.”“Dis niks, ek koppel hom net aan my bakkie se battery.”“Maar Meneer, die brieke werk ook nie!”Luister is min. Ons kry haar aan die gang en ek wil gaan tenk volmaak, want ons gaan nou huis toe. By die vulstasie probeer ek stilhou, maar daar is inderdaad geen brieke nie – níks nie. Ek wil stop en sy ry verby. Ons het geen ander keuse nie as haar net daar los en die 110 km terug te ry Swellendam toe. Sondagoggend gaan haal ons haar met ’n sleepwa.

So begin die groot werk om ons droom te bewaarheid.

Van bo tot onder

Ons doen die onderstel nuut oor. ’n Klomp mense sê vir my die 4 van die Toyota Y4-enjin staan vir 4 km/l, en ek wil boonop eerder ’n oorspronklike Volkswagen-enjin in ons ryhuis hê. Daarom kry die Autovilla ’n herboude Kombi 2.1-plat 4-enjin en ratkas, met brandstofinspuiting en waterverkoeling.

Dié Autovillas het uitgekom met die noodwiel op die neus, maar met die waterverkoeling moet ons nou ’n ander plan maak. Ek en Karen bou ’n dakrak met ’n houtkis wat lyk soos ’n antieke tas.

Dis die plek vir die noodwiel, grondseil en ander los goed.Meganies behoort alles nou reg te wees. Ek glo so.Nou pak ons die binneruim. Ons maak die kaste groter en ek maak die stort nuut met ’n jellaag (gel coat) vir bote en veselglas, en bou ’n ou Jurgens-mooimaakkassie met ’n spieël en wasbak in. Ek bou ook ’n batterystortselsel in.Die sitplekke word oorgetrek en ons verf haar binne. Ons gee haar ’n mooi nuwe swart-en-wit blokkiesvloer. Ek isoleer eers die vloer met van daardie alfabet-matblokke vir kinders wat ek sommer by die Crazy Store koop. Bo-op sit ek dun skeepshout (marine ply) en bo-op dit Novilon met swart-en-wit blokkies.

Sy kry ook ’n nuwe platskerm-TV en ’n nuwe matras vir die dubbelbed.Ons vat haar paneelklopper toe vir die buitekant, en vier weke later is sy terug by die huis.“Iets kort,” sê Karen.“Wat?” wil ek weet.“ ’n Mooi prentjie,” antwoord sy.

En so skilder Karen die “Gypsy Lady” op die kant.

Links Bo en Onder: Die motorhuis soos dit gelyk het voor die Du Toits dit beetgepak het.

Die wiele rol

Die vervoerkoste, nuwe onderstel, enjin, ratkas asook die mooimaak- en paneelklopwerk het sowat R80 000 gekos in 2014. Aan die einde van Oktober 2014 is Gypsy Lady met vlieënde vaandels deur die padwaardigheidstoets en ons is reg om te ry.

Ons gaan ons seun, Brandon, op Potchefstroom haal vir die universiteitsvakansie, in Rustenburg draai en dan gaan ek en Karen met ons tandemfiets die 94.7-uitdaagfietsren in Johannesburg ry.Gypsy is wel deur die toets, maar ons het haar nog nie getoets nie. En nou pak ons 3 000 km aan. Maar wie’s bang?

DAG 1 en 2

Swellendam tot Vleesbaai

Die wind is reg van voor en ons kom nie weg nie. Ons kruie aan teen 50-60 km/h en so nou en dan 80 km/h. By Albertinia trek rook hier voor by die stuurwiel uit.

Ons stop by die hotel om moed te skep vir die laaste 50 km. By Vleesbaai se Kanon-kampterrein staan ons lekker vir twee dae en vergeet van ons probleme.

DAG 3

Vleesbaai tot Gariep

Sondagoggend om sesuur trek ons weg en ná die twee dae van kamp en rus is die rookbolle en warm drade vergete. Maar deur George en so halfpad teen die Outeniquapas op begin sy weer rook – dié slag kommerwekkend baie. Ons stop, skakel haar af, wag ’n rukkie en draai om terug George toe.

Nou ja, op ’n Sondag is daar nie ’n enkele motoronderdeleplek op George oop nie. Ek bel al wat ’n outo-elektrisiën is, maar niemand wil op die Sondag help nie – selfs nie die een wat adverteer hy is beskikbaar in noodgevalle nie.’n Goeie Samaritaan help met ’n tang, elektriese draad en koppelstukke. Drade word vervang en so teen elfuur vat ons weer die pad Gariep toe.

Dit voel of die tyd vinniger verbygaan as wat Gypsy ry, en 80 km/h bly ’n droom.Ek voel kort-kort aan die drade. Hulle rook nie meer nie, maar word steeds hopeloos te warm. Ek maak die venster groter oop en hoop die wind koel dinge af. Teen halfagt die aand kom ons by die Gariep-kampplek aan. Ons is op soos ou brood. Gedáán.

DAG 4

Gariep tot Potchefstroom

Die wind het steeds nie gaan lê nie en ons vorder teen ’n slakkepas.By Bothaville bars ’n storm los en ons kan niks deur die windskerm sien nie. Onthou, in 1976 het hulle nie ruitveërs gemaak wat in sulke omstandighede kan werk nie. Dit was meer vir die mooigeit.By Bothaville draai ons af om oor Viljoenskroon na Potch toe te ry. Die GPS sê dis kortpad, maar sy vergeet om te noem die slaggate op hierdie pad sit soos hare op ’n hond se rug.

Gelukkig ry Gypsy niks vinniger as 70 km/h nie en ek het meer as genoeg tyd om al die gate mis te ry.Ná al die trauma van die laaste paar dae is Vroulief baie broos. Ek boek ons in by die Protea-hotel op Potch en wen so weer haar liefde.Ons hoor swak konneksies – dus swak vakmanskap – is die rede vir die warm drade en dit word herstel.

DAG 5

Potch tot Rustenburg

Stadig, maar sonder nuwe geite ry ons Rustenburg binne. Slim mense wys my op die vervaardigingsdatum van ons ryhuis se bande: 1984! Ons het 1 400 km gery met 30 jaar oue bande. Daar en dan bederf ons vir Gypsy met nuwe skoene en ons glo sy sal ons nou vinniger huis toe vat.

DAG 10 en 11

Centurion en Potch toe

Gypsy gedra haar goed, maar haar nuwe skoene laat haar nie vinniger loop nie.En vierde rat begin nou elke dan en wan uitglip...

DAG 12

Van Potch tot Florisbad

Vierde rat bly uitglip en ons hou haar in vierde met ’n rektou.Die rektou word agter aan die kant van my sitplek vasgemaak en dan styf om die rathefboom getrek. Op elke dorp moet Boeta die rek losmaak sodat ons 1ste, 2de en 3de kan gebruik.

Net voor die Florisbad-kampplek buite Bloemfontein tref ons die moeder van sinkplaatpaaie.Ons ruk met ’n onaardse geluid tot stilstand. Die boonste bout van die regterskokbreker is weg en die skokbreker kap teen alles.’n Boer van die omgewing kom tot ons redding en ons kan stadig tot by die kampplek ry. Die kamplek se mense help en gee gereedskap, en terwyl Vroulief en Boeta braai, maak ek die skokbreker reg.

DAG 13

Karoo- nasionale park

Dis afdraande. Gypsy begin nou ruik ons gaan huis toe, en 80 km/h raak die norm.Af en toe word die rekordboeke herskryf met 90 km/h, en in vierde moet die rektou ál stywer gespan word.Die pad lê wyd en oop voor ons en met die wind deur ons hare is die probleme so te sê vergete.

Maar dan, 30 km buite Colesberg, daal die toere skielik tot by luierspoed.“Waar’s die petrolpedaal?” Hy lê eenkant – morsaf getrap!

“Wat nou?” Vroulief lag lankal nie meer omdat dinge snaaks is nie, maar uit histerie. Ek grawe ’n kort tentpaal uit en kry ’n houtblokkie in die hande. Met die tentpaal teen die bors druk ek die petrolpedaal se arm op die vloer en daar ry ons weer. Die houtblokkie keer dat die paal se bopunt my ribbes deurboor.Op Hanover laat maak ons ’n pedaal van hoekyster, maar die Samaritaan wat ons help, maak dit verkeerd. Ek moet dit met die hakskeen probeer trap, en dís ’n onbegonne taak. Die paal moet maar weer sy werk doen, en danksy die paal en rektou haal ons Beaufort-Wes.

DAG 14

Huis toe, Swellendam toe

Nou wil Gypsy glad nie meer in vierde rat bly nie. Die rek is op sy styfste en Boeta moet nou met die voet ook vasskop teen die rathefboom. Die tentpaal werk darem nog goed.

Oudtshoorn, Calitzdorp en Ladismith...Die huis kom nader. Voor Barrydale stop ons by Ronnies Sex Shop om ons suksesvolle langpadreis vol uitdagings te vier.Dis nog net 80 km huis toe... Tradouwpas, Suurbraak en dan Swellendam.

Nou’s sy reg!

Ons is uit en tuis. Ons het nou wel ’n paar veldslae verloor langs die pad, maar die oorlog is gewen. Intussen is al Gypsy se foute en nukke uitgestryk. Haar petrolpedaal het nooit heeltemal oopgemaak nie en daarom het ons die hele 3 000 km teen gemiddeld 70 km/h gery.

Sy was sedertdien weer noorde toe, Tankwa-Karoo toe, Kaapstad toe... En die beste van alles? Nou ry ons lekker teen 100 km/h!


Karen du Toit skryf in Junie 2020:
Ons wa gedra hom nou soos 'n droom en ons het sedert dié artikel baie lekker gery en gekamp met hom. Hy wag in spanning vir grendeltyd om te eindig!
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Hierdie artikel het in 2018 op Weg se webtuiste verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.