Die leser Elize Meyer en haar man, Erwin, was op pad na Mabuasehube toe die moeilikheid hulle tref. Hulle sou vriende daar ontmoet, maar eers op die vriende se gasteplaas naby McCarthy’s Rest ’n draai gooi om namens hulle te kyk hoe aanbouings vorder.

Die Meyers het rondom skemer deur die plaas se hek gery, die afdraai na die huis misgery en toe in ’n erdvarkgat weggesak. Sonder enige kommunikasiemiddel het die paartjie ’n week lank tevergeefs gespook om die voertuig te herwin.

Met kos en water wat al hoe minder begin raak het, het Erwin probeer om die 17 km na ’n De Beers-myn vir hulp te stap. Teen die tyd dat hy by die plaashek aangekom het, was hy só moeg dat hy na die bakkie toe moes omdraai.

Daar was boonop ook drie leeus op die eiendom, asook roofdiere wat buite die hek rondgeloop het.

Elize-hulle is eers gered toe hulle dogter onraad begin vermoed het toe haar ouers nie ná hulle beplande terugkeerdatum kontak gemaak het nie. Sy het iemand in die omgewing opgespoor wat hulle kon uitsleep. En dit was ook nét betyds, want teen dié tyd het hulle nog net drie liter water oorgehad.

Hier is twee kenners se raad oor hoe jy jouself en jou voertuig kan voorberei, en wat jy moet doen as jy in die moeilik beland.

Beplan só voor jou toer

JOHANN GROENEWALD van Tracks4Africa reis die vasteland plat agter roetes aan, soms heeltemal alleen. Hier is sy raad:

  • Satellietfoon; dié toestel kan jou uit baie krisisse red.
  • Skep ’n noodlêer met al die belangrike inligting waaraan jy kan dink: mediese fonds- en versekeringsnommers, paspoortnommers en afdrukke, nood- en SOS-nommers tuis. Ek skryf ook almal in my groep se allergieë en mediese toestande neer. 
  • Kies ’n noodvriend tuis, iemand wat jy weet meestal op kantoor of minstens naby die foon sal wees. Die persoon moet al jou besonderhede, roeteplan, kaarte en bestemmings hê. 
  • Hou ’n week se drinkwater in die voertuig. In ’n noodgeval kan jy dit tot twee weke rantsoeneer.
  • Hou ’n week se kos in die voertuig, verkieslik goed wat lank kan hou.
  • Kry jou noodhulpkissie agtermekaar. Gereelde probleme op toer is goed soos brandwonde, diarree en snywonde, dus het ek altyd Burnshield (vir brandwonde) en iets vir maagprobleme in die voertuig. Ek het ook antihistamiene vir erge reaksies op tsetsevliegbyte en bysteke. Mense is bekommerd oor ernstige goed soos slangbyte, maar hierdie “gewone” probleme kan ook jou toer bederf.  Ek het altyd Rehidrat byderhand. Dit kan jou baie help as jou water skaars raak.
  • ’n Tweede spaarwiel is goud werd en ek ry áltyd met my bandherstelkissie.
  • Pak ’n volledige gereedskapkis in. Ek doen die meeste herstelwerk op kamptoerusting en die ekstras op my voertuig soos batterystelsels, dakrakke en -tente – alles goed wat ’n toer in die wiele kan ry as dit breek.
  • Hou ’n motorwerktuigkundige of -handelaar se nommer byderhand. Onderdele is soms jou grootste probleem in die vreemde.
  • Neem ’n ekstra dieselfilter saam. 
  • Hoor by die vervaardiger watter sleepwa-onderdele jy mag nodig kry as jy ’n boswa sleep. 
  • Vat spaaronderdele vir jou gastoerusting. Dis goed wat lewensgevaarlik kan wees as dit lek of breek.
  • Gaan jou watertenk na. Maak seker dis skoon en dat jy weet hoeveel water jy het.
  • Pak ’n graaf! Ek het ’n hooglig- en ’n lugdomkrag, maar om die een of ander rede is ’n graaf die ding.

As dinge skeefloop

KOOS MOORCROFT is ’n oud-spesmagte-soldaat en -instrukteur. Hy het al talle oorlewingskursusse aangebied. Koos stem saam met Johann dat beplanning en voorbereiding jou belangrikste wapens is en sê dis 90% van ’n veilige toer. Maar sou dit gebeur dat jy vasval, jou voertuig rol en iemand beseer, of diep in die bos gaan staan, stel hy voor jy onthou die volgende:

  • Bekyk jou situasie objektief. Hoe’t jy hier gekom? Wat is die skade en die toedrag van sake? Só kry jy dadelik jou brein aan die gang om aan oplossings te begin dink.
  • Hoe meer sintuie jy inspan, hoe beter is jou kans op probleemoplossing en oorlewing. Kyk watter hulpbronne jy in en om jou voertuig het, luister vir klanke van mense of voertuie naby jou, ruik of iets gevaarlik lek of brand. 
  • Vind jou ligging en koördinate op jou navigasietoerusting of probeer bepaal hoe lank gelede jy verby tekens van mense verby is. Oriëntasie is uiters belangrik – maak seker jy weet presies hoe jou GPS werk voordat jy dit in ’n noodgeval nodig kry!
  • Veg teen die vrees. As dinge skeefloop, raak mense paniekbevange en neem verkeerde besluite.
  • Benut alles in jou omgewing tot die maksimum. Kan jou grondseil dalk ’n afdak word vir skaduwee as jy lank moet wag vir hulp? Kan jou spaarwiel as ’n ankerpunt in die sand dien vir ’n herwinning?
  • Erken altyd die perke van jou eie ryvaardighede en moenie kanse vat nie. As jy gestrand is, begin dadelik kos en water rantsoeneer. Jy kan gemiddeld 4 dae sonder water en 4 dae sonder kos oorleef. Maak hiervolgens voorsiening en onthou, dié raad geld voor jy in ’n krisis beland én tydens een!
  • Jy kan baie leer deur die diere dop te hou. Waar en wanneer loop hulle rond? Dit lei jou dalk na water.
  • Daar is honderde oorlewingsboeke beskikbaar. Bewapen jouself met kennis en hou minstens een van hulle in die voertuig.
MOET EK STAP OF BLY?

Koos stel voor:

  • Dít hang grootliks af van waar jy is en hoeveel inligting jy het. As jy weet daar is ’n dorpie naby, kan jy gaan hulp soek. Maar as hulp ver weg is, of jy weet nie mooi waar jy is nie, bly by jou voertuig. Dis baie makliker vir reddingspanne om ’n voertuig te sien as ’n mens wat in die veld rondstrompel, en in die veld is jy dalk gou leeukos.
  • Onthou ook, daar is baie meer kos en water in jou voertuig as wat jy kan dra. As jy goed genoeg voorberei het en jou rantsoene mooi gebruik, kan jy vir weke by jou voertuig oorleef.


* Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #79 (Jan-Feb 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon sedertdien verander het - laat weet gerus as jy so iets raaksien.