Jy het pas by jou vakansiebestemming opgedaag en is gereed om uiteindelik agteroor te sit.

Die oordmense sê jy kan maar deur die kampterrein ry en self jou staanplek kies. Dit vat ook nie lank nie en jy het hom: groot genoeg vir jou Penta, ’n ordentlike koelteboom, baie gras en ’n mooi uitsig oor die water.

Jy proe al die lafenis terwyl jy terugstoot... en dan hoor jy ’n aardige knal. Jy klim uit en sien jy het in die betonblok om die basis van die kraan vasgestoot. Jy het net die boonste deel van die kraan in jou truspieël gesien en nie met die kniehoog betonblok rekening gehou nie.

Nou gaan jy vir die volgende klompie dae sit en tob oor jou versekeringseis in plaas daarvan om jou vakansie te geniet. As jy maar net kon sien presies wat agter die wa aan die gang is.

’n Mens kan altyd jou lewensmaat of een van die kinders stuur om vir jou te beduie wat aangaan. Maar as dit met jou aankoms sous, gaan jy hulle moeilik oortuig.

Én dan gaan julle vooraf moet ooreenkom wat presies die handgebare beteken en wie se links is die regte links. As jy nie heeltemal oortuig is van dié opsies nie, is dit dalk tyd om moontlike oplossings vir die situasie te ondersoek.

oë agter jou kop Die dubbeltrukamerastelsel is spesifiek ontwikkel vir eienaars van ouer voertuie wat nie ’n trukamera as standaardtoerusting het nie. Die skerm is in ’n monitor wat jy oor jou truspieëltjie vasknip.

Die nadele

Die grootste uitdaging wanneer dit kom by trukameras is om een te kry wat opgewasse is vir die taak.

Ons het met Wesley Dempster by Tygerberg-woonwaens gesels. Hy sê hulle het vantevore trukameras in voorraad gehad en klante se sleepkombinasies daarmee toegerus, maar hulle doen dit nie meer nie.

Hy verduidelik die installering het gewoonlik behels dat bedrading van die sleepvoertuig na die wa toe aangelê moet word, en eienaars was gewoonlik traag dat hulle gate boor of panele sny.

Wesley-hulle het ook heeltemal te veel klagtes ontvang oor die draadlose stelsel wat met Bluetooth werk. Dit was net nie betroubaar genoeg nie en hulle bied dit nie meer te koop aan nie.

Wie sê nee vir ’n winskoop?

Jy kan natuurlik vir jou een van die goedkoper stelsels aanskaf wat aanlyn op plekke soos Bidorbuy, Takealot of Amazon te koop is vir R1 000 en minder. Sommige van hulle is ook koordloos en gebruik Bluetooth om die beeld agter jou wa na ’n skerm in jou sleepvoertuig te stuur.

Barry Monnett, ’n kampeerder van Margate, gebruik ’n stelsel met ’n 4,3”-LCD-monitor en ’n draadlose trukamera. Hy het dit aanlyn gekoop vir R700 (R650 vir die skerm en kamera plus R50 vir die versending).

“Ek het ’n passtuk gemaak en hang nou die kamera aan die gordyn se kapstok by my wa se agterruit. In die kar het ek ’n passtuk vir die monitor geprakseer en prop hom by die 12 V-sok in.” Jy kry ook ’n klein sendertoestel wat die kamera en skerm help om beter met mekaar te kommunikeer, en Barry stel voor jy kry dié twee se lugdrade netjies in lyn met mekaar.

“Maak seker hulle sien mekaar en dat albei óf horisontaal óf vertikaal staan. Dit sal die sein help om deur die glas gestuur te word en nie deur die kar se metaalpanele of die wa se houtpanele nie.” Dit is egter nie ’n foutlose stelsel nie en Barry erken die beeld sal soms sonder enige verklaring van sy skerm af verdwyn.

Kies jou kamera Jy kan jou trukamera aanlyn bestel en hom self installeer of laat installeer, óf jy kan ’n woonwa aanskaf wat reeds met een toegerus is.

Die duurder keuse

As jy nie lus voel om jou eie stelsel in te voer en self te installeer nie – of jy is onseker oor die beperkte waarborg wat sommige van hierdie oorsese produkte dra – kan jy die aanlynprodukte van die plaaslike maatskappy Purple Line oorweeg.

Carlo van Onselen van Purple Line sê hulle produk word ook in China vervaardig, maar al stem die omhulsel dalk ooreen met verskeie ander handelsname se produkte, is daar ’n groot verskil in die interne stroombaanwerk. En dit, sê Carlo, is wat hulle s’n van ander produkte onderskei.

Dít en die skerm wat deur ’n groot Japannese elektroniese vervaardiger gebou word. Die Purple Line-stel sluit in ’n draadgeleide harnas vir die sleepvoertuig én een vir die woonwa, asook ’n 120º-trukamera vir die kar en ’n 60º-trukamera vir die wa.

Die stelsel se voorgestelde kleinhandelprys is R4 287, met ’n bykomende R2 200 vir installering (afhangend van waar jy bly).

Purple Line stuur dan een van hulle agente na jou toe om die stelsel in jou ryding en wa te installeer. Carlo sê wel die meeste Campworld- en Safari Centre-werkswinkels is vertroud met die stelsel en kan ook die installasie doen.

“Ons is nou al 10 jaar in hierdie bedryf en meen koordlose produkte werk nie in ons land nie omdat die 2,4 GHz-bandwydte tot gevolg het dat enigiets van wi-fi en Bluetooth tot hekmotors en enigiets wat op ’n oop bandwydte werk, daarmee inmeng.”

Die dubbeltrukamerastelsel is spesifiek ontwikkel vir eienaars van ouer voertuie wat nie ’n trukamera as standaardtoerusting het nie. Die skerm is in ’n monitor wat jy oor jou truspieëltjie vasknip. As jy dan trurat haak, verskyn die beeld in die hoek van die LCD- skerm op jou truspieëltjie (eienaars van Kia- of Hyundai-motors sal hiermee vertroud wees). Jy gebruik dan ’n skakelaar op die spieël om te wissel tussen die beeld agter die wa en die kar.

Die Purple Line-produk mag dalk ook aanklank vind onder eienaars van luukse motors wat nie te veel wil peuter en hulle waarborg in die gedrang bring nie.

“Ons gebruik ’n sogenaamde tap, ’n metode waar ons ’n bestaande smeltdraad verwyder, dit dan by ons lyn voeg en weer by dieselfde punt inprop. Ons sny dus geen drade nie, wat beteken jou waarborg bly net soos hy is,” sê Carlo.

Indien jy ’n moderner motor besit wat reeds met ’n trukamera toegerus is, kan jy steeds een agter op jou wa sit met die skerm op jou truspieël. Purple Line sal jou dan nie geld vra vir die tweede kamera wat jy nie gaan gebruik nie.

’n Ander alternatief, veral as jy iemand is wat daarvan hou om die naaste 4x4-roete uit te soek nadat jou kamp opgeslaan is, is om die ander kamera aan jou ryding se voorkant aan te bring. Sodoende kan jy sien presies wat voor jou aan die gang is, selfs al wys jou kar se neus hemelwaarts.

Jy het dan ’n kamera voor en agter jou kar én een agter jou wa. As die skerm op die truspieëltjie nie in jou smaak val nie, het Purple Line ook ’n 7”-monitor wat jy kan oorweeg.

Van die vloer af

’n Ander opsie is natuurlik om ’n woonwa te koop wat reeds met ’n trukamera toegerus is. Dit gee jou die gemoedsrus dat jou huis-op-wiele sommer daar op die fabrieksvloer al met die regte katoeters toegerus is.

Ons het ook met Leon Ras van Mobi Lodge en Maxmo gesels oor die stelsel wat hulle opsioneel op hulle modelle bied. Mobi Lodge installeer dieselfde stelsel as Purple Line, maar daar is tog klein verskille. “Ons het die stelsel oor die laaste vier jaar aangepas,” sê Leon. “Ons het besluit om die trukamera wat ons op ons modelle aanbring, tot ’n infrarooi weergawe op te gradeer en die sekondêre kamera kan dan bo die sleephaak van die sleepvoertuig geplaas word as daar nie reeds ’n trukamera is nie. Ons plaas egter soms die kamera bo-op die wa, sodat die bestuurder ’n groter geheelbeeld kry, veral wanneer hulle op moeilike terrein beweeg.

“Purple Line se produk en hulle klantediens is sedert dag een onverbeterlik, en met die jare het hulle al verskeie trumkamerastelsels geïnstalleer en dit baie suksesvol gedoen,” voeg Leon by.

WAT SÊ DIE WET?

Ons het die padverkeerswetkenner Alta Swanepoel gevra oor die wetlikheid van hierdie stelsels en sy het ons verwys na regulasie 308B van die wet wat verband hou met die gebruik van televisieskerms en visuelevertooneenhede in motorvoertuie.

In kort sê die regulasie jy mag nie op ’n openbare pad ’n motorvoertuig bestuur wat ’n televisiebeeld of visuele vertooneenheid in of op die voertuig het wat sigbaar is uit die bestuurder se posisie en moontlik die bestuurder of ander padgebruikers se aandag kan aflei nie.

Dit geld nie as dit deel vorm van die navigasiestelsel of intelligente bestuurshulpmiddel nie. “Dit is die enigste manier hoe dit wettig is,” sê Alta. “Die vertooneenheid word as ’n navigasie- of intelligente bestuurshulpmiddel geag. ’n Klompie jare terug was daar ’n veldtog om ’n kamera aan vragmotors se voorkant aan te bring en dan daardie beeld aan die agterkant te vertoon om aan motoriste agter die vragmotor te wys wat voor aan die gang is. Daar is egter besluit dit is té veel van ’n afleiding en nie toegelaat nie.

“Sommige voertuie het trukameras wat ’n beeld na die bestuurder se skerm stuur, maar dit word hoofsaaklik vir parkering gebruik en nie wanneer iemand bestuur nie,” verduidelik Alta. Daar is dus ’n goeie rede hoekom jy nie toegelaat word om ’n video voor in jou kar te speel nie en hoekom daardie skerms wat die kinders vermaak, in die kopstut agter jou is.

Solank jy nie ’n voltydse en regstreekse beeld op die skerm het wat jou aandag kan aflei nie, blyk daar geen wetlike rede te wees hoekom jy nie jou wa met ’n trukamera mag toerus nie.

Moet hom net nie op die ooppad gebruik nie