Hobbit se huis

K-Way Kids Pop-up

Plek vir 2 klein kinders | Gewig: 1,3 kg | Opgevou: 67 x 67 x 2 cm

Die kinders gaan waarskynlik nie heelnag hierin slaap nie, maar dis ’n lekker speel- en wegkruipplek vir jong ontdekkingsreisigers.

Die tent is 210 cm x 100 cm x 80 cm wanneer dit opgeslaan is. Dis ook ’n goeie sonskuiling as jy die dag strand toe gaan. Dit kom in ’n pizzavormige drasak saam met penne, en is maklik om op te slaan: Haal die tent uit die drasak en gooi in die lug op. Die ingeboude pale laat die tent oopskiet; jy hoef net die tentpenne in te slaan.

Maak net seker jy weet hoe om die tent weer in te pak vóórdat jy op jou volgende avontuur vertrek!

R400 by Cape Union Mart


Die verstandige kind

K-Way Nerolite

Plek vir 2 volwassenes | Gewig: 2,7 kg | Opgevou: 49 x17 x17 cm

Hierdie is wel een van K-Way se ouer staptente, maar steeds een van sy gewildste, danksy die kombinasie van praktiese eienskappe en goeie waarde. Sy waterkolomgradering is 2 000 mm en weeg minder as 3 kg. Sy drie tentpale is sterk en aërodinamies.

Daar’s net een ingang, maar die voordeel is dat die voorportaal lekker groot is – jy kan jou modderige stapskoene hier los of die deel as kombuis inspan; wees net versigtig as jy onder nylon kook.

Die enigste nadeel is dat dit nogal bedompig kan word wanneer dit warm is. Andersins is die tent ’n goeie belegging.

R2 500 by Cape Union Mart


Die ruimtedief

Campmaster Camp Dome 820

Plek vir 8 volwassenes | Gewig: 8,71 kg | Opgevou: 255 x 93 x 93 cm

Dié meneer is ’n eenvoudige opsie wat goeie waarde vir geld bied.

Hy is reusagtig groot: 4,9 m lank, 2, 4 m wyd en 1,87 m hoog. Sy waterkolomgradering is 2 000 mm; dus kan dit sy man staan teen reën en dis ontwerp om regop te bly in wind.

Daar is groter en kleiner weergawes in die reeks, maar dié een is vir skoolkampnaweke, musiekfeeste en gesinsavonture. Die tent het toegangspunte vir kragkabels, pakplekke aan die binnekant, ’n moddermat en ’n eenjaarwaarborg. Hy neem wel baie ruimte op in die kattebak.

R1 800 by makro.co.za 


Vierseisoenetent

First Ascent Peak

Plek vir 3 volwassenes | Gewig: 4,4 kg | Opgevou: 60 x CM x 26 cm

Hierdie staptent kan jy enige tyd van die jaar gebruik. Hy is stewig en bied ’n bietjie meer ruimte as sy mededingers: 2,5 m lank, 1,85 m breed en 1,15 m hoog.

Die soliede bougehalte beteken dis effe swaarder as die K-Way Nerolite, maar die keersy is dat jy ongeag die weer die buitelug kan aanpak.

Die boseil het ’n waterkolomgradering van 3 000 mm en die grondseil s’n is 5 000 mm. Dié tent kan ’n swaar neerslag in die Drakensberg trotseer en met vier tentpale wat dit stewig laat staan, gaan dit nie sommer wegwaai nie. Die aluminiumtentpenne en -pale is van goeie gehalte en dit het selfs ’n sneeusoom as die weer rof raak.

R3 700 by firstascent.co.za


In 'n japtrap

MSR Elixir 2

Plek vir 2 volwassenes | Gewig: 2,8 kg | Opgevou: 51 x 14 cm

As jy hou van ’n staptent wat blitsvinnig kan opslaan en veeldoelig genoeg is vir amper enige avontuur in die natuur, kan jy ’n paar ekstra sente uitgee op dié outjie.

Die driepaalstruktuur laat die tent stewiger staan as sy mededingers, en die uitleg van die pale beteken jy’t meer kopruimte binne. Danksy die groot ingang en voorportaal hoef jy nie ’n jogameester te wees om vinnig in en uit te klim nie.

Die ventilasie in die tent is goed – dit word gemaak van duursame Ripstop- poliëster en poliuretaan, met ’n waterkolomgradering van 1 500 mm vir die boseil en 3 000 mm vir die grondseil. Los die boseil as jy vinnig en lig wil beweeg, en daar geen reën voorspel word nie – dit gaan vir jou voel jy slaap onder die sterre.

R5 500 by Outdoor Warehouse


Klimmer se keuse

Black Diamond Firstlight

Plek vir 2 volwassenes | Gewig: 1,5 kg | Opgevou: 15 x 23 cm

Dié tent is duur, maar dis jou opsie as jy soek na ’n kompakte spesialistent wat veerlig is, asook maklik is om te dra en op te slaan.

Die kante van die tent is steil, en die vorm is eenvoudig sodat ruimte en hoogte maksimaal benut kan word. Hy bied omtrent 2,5 m² binne, en die strespunte is spesiaal versterk sodat die tent lank kan hou.

Daar’s heelwat gaas- en ritssluiterpanele vir ventilasie en ’n waterdigte NanoShield-afdakkie (wat lug deurlaat) wat jou hoog in die berg so droog moontlik sal hou. Die tent het wel net ’n enkellaagdop en die nate is nie geseël nie; jy mag dalk nat word as dit hard en aanhoudend reën.

R7 980 by rammountain.co.za


Reis lig

Sea To Summit Specialist Solo Shelter

Plek vir 1 volwassene Gewig: 625 g | Opgevou: 11 x 25 cm

As verrigting en spoed vir jou belangrik is (fietsryers, veldlopers en stappers wat lig wil reis), dan gaan hierdie tent gewig en ruimte spaar. Dit word gemaak van waterdigte nylon met ’n waterkolomgradering van 1 000 mm; dit is dus nie bestand teen swaar reën nie. Daarvoor het jy ’n swaarder dubbellaagtent nodig.

Dit bied wel die goggawerende en weerbestande voordele van ’n tent sonder die ekstra gewig en ruimte wat dit gaan opneem. Dis duur, maar jy betaal vir uitstekende bougehalte en liggewig konstruksie: Die strespunte is versterk en die some geseël.

Twee allooitentpale en ses geanodiseerde tentpenne is ingesluit. Jy kan dit selfs met jou stapstokke staanmaak en met klippe anker as jy nog meer gewig en pakspasie wil spaar.

R6 600 by Drifters Adventure Centre 


Lekker laatslaap

Vango Beta 550XL AL

PLEK VIR 5 VOLWASSENES GEWIG 9,6 kg OPGEVOU 65 x 29 CM Hierdie is jou keuse as jy ’n gehalte-naweektent soek wat ruimte en gemak bied, en jy’s nie te veel gepla deur sy gewig nie. Ons hou van die oulike “stoep” in die middel van die tent waar jy jou toerusting kan bêre, en dit het baie vensters en goeie ventilasie.

Boonop is hy reënbestand met ’n waterkolomgradering van 3 000 mm en die tentsome is geseël. Die tent staan stewig danksy ’n driepaal-tonnelvorm en gepatenteerde spanningsgordels.

Mits jou naam nie Bakkies Botha is nie, kan jy regop staan in dié 2 m hoë tent. Die sterk staalpenne en gehalte-ritssluiters dra by tot die duursaamheid van die tent, en dit het vele stoorplekke en hake waaraan jy klere kan hang.

R6 700 by rammountain.co.za


4x4-verkenner

Tentco Rooftop Deluxe

Plek vir 2 volwassenes | Gewig: 56 kg | Gevou: 132 x 148 x 35 cm

Daar’s weinig wat Tentco nie van tente weet nie, en hy maak alles van luukse lodgetente tot gazebo’s en tente vir jou sleepwaentjie.

Ons hou veral van dié daktent: Die raam en seil word van ligte aluminium gemaak en die kappie is Ripstop-nylon wat gebou is om te hou.

Die praktiese ontwerp fokus op hoe maklik die tent is om te gebruik: Dit vou op in ’n kompakte, weerbestande sak op jou voertuig se dak en bied genoeg ruimte (1,4 m x 2,4 m). Daarby het hy vier vensters om lig en lug deur te laat.

Indien jy meer ruimte nodig het, is daar ’n 1,6 m x 2 m-opsie, en ’n hardetasweergawe. As jy nie van daktente hou nie, kan jy Tentco se treilertente oorweeg. Die voordeel van ’n treilertent is dat jy die hele gedoente kan afhaak en jou voertuig kan gebruik om wild te kyk of inkopies te doen.

R11 000 by tentco.co.za


Nog toerusting

Nuseal-beskermingsmiddel

Vernuwe ’n ou tent of maak dit meer waterbestand deur Nuseal aan te spuit. Gebruik dit vir seil- en nylontente. R200 by Outdoor Warehouse

HHL Vital Protection AM2

Gebruik dié sproei om goggas van jou toerusting – en jou – weg te hou. Wees gerus: Dit ruik nie vreemd nie! R125 by Cape Union Mart

Tentco Deluxe-enkeloprolmatras

Soek jy ’n bietjie meer slaapgemak? Hierdie matras is ’n wenner. R899 by tentco.co.za

Led Lenser H4-koplig

Jy hoef nie snags oor stroppe of tentpenne te struikel nie. ’n Herlaaibare opsie is ook beskikbaar. R545 by awesometools.co.za

Tentco-stormstroppe

As dinge onplesierig raak, gaan hierdie goedkoop stroppe jou tent stewig en geanker hou. R85 by tentco.co.za