Die meeste mense is dit eens dat satellietnavigasie – of dan GPS – nooit papierkaarte sal vervang nie, maar eerder aanvul. Maar daar is ook diegene wat GPS-toestelle verpes en eerder ’n goeie ou AA-roetegids vertrou.

Net so is daar aanhangers van GPS-toestelle wat aanvoer papierkaarte is uit die oude doos.

Terwyl die twee pole stry, is daar ’n groep mense wat nie op ’n GPS óf ’n papierkaat staatmaak nie.

Die Britse koerant The Guardian het in 2014 onthul dat ’n groeiende getal jong mense van onder 25 slegs hulle slimfoon gebruik en nie weet hoe om by ’n bestemming uit te kom as die foon se battery pap is of sein verloor het nie.

Een skerp millenniër se houding was dat hy dit geniet om altyd die middelpunt van ’n kaart te wees, en wanneer ’n besienswaardigheid nie op sy foon aangedui word nie, bestaan dit nie vir hom nie. Maar dit daargelaat. Kom ons bespreek statiese vs. digitale kaarte.

Hard of sag?

Statiese kaarte bestaan al derduisende jare, en hoewel niemand weet wanneer die heel eerste kaart geteken is nie, vermoed paleontoloë grotmense het kaarte van die sterre op rotsmure geteken eerder as van die aarde.

Die oudste bestaande landkaart dateer uit 25 000 v.C. en is op ’n mammoettand gegraveer. Die kaart beeld berge, riviere en valleie uit in die Breclav-distrik in die hedendaagse Tsjeggiese Republiek.

Akkurate kaarte soos ons hulle vandag ken, was egter eers ná die Eerste Wêreldoorlog met die koms van vliegtuie en lugfoto’s moontlik. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (voorheen die departement van landbou en landelike ontwikkeling) het in 1962 begin om vliegtuie met kameras op te stuur en met wyehoeklense 1:50 000- topografiese lugfoto’s van ons land te neem.

Dié foto’s is dan gebruik om ’n landkaart te teken met alle paaie, plase en dorpe in Suid-Afrika. Die gevolglike 1:50 000-kaart van Suid-Afrika bestaan uit 1 913 blaaie wat elk ’n grondoppervlakte van 640 km² verteenwoordig, en die laaste kaartblad is eers in 1992 voltooi.

Alle kaartboeke en roetegidse, hetsy dit van MapStudio of die AA is – en selfs GPS-kaarte – is gegrond op dié topografiese lugfoto’s wat oor ’n tydperk van dertig jaar geneem is.

Ruimte-eeu

Die globale posisioneringstelsel (GPS) is oorspronklik vir die Amerikaanse leër ontwikkel. Pres. Ronald Reagan het in 1983 beloof om dit openbaar te maak nadat die Russiese lugmag verkeerdelik ’n verdwaalde Koreaanse passasiersvliegtuig neergeskiet het.

Garmin GPS
Garmin GPS

Die eerste GPS-toestelle wat ’n mens in ’n winkel kon koop, het nog nie kaarte gehad nie. Hulle het bloot koördinate gegee en dan moes jy jouself op ’n papierkaart vind, óf jy kon koördinate intik en dan het die GPS jou reguit soontoe geneem, soos die kraai vlieg.

Jy moet die internasionale geografiese inligtingstelsel (GIS) bedank vir GPS-kaarte. Die GIS-projek samel tradisionele kaarte, lugfoto’s en allerlei geografiese inligting van reg oor die wêreld in en omskep dit in digitale kaarte. Dit is waar maatskappye soos Garmin en TomTom die nodige inligting gekry het om hulle kaarte te maak.

Die probleem met hierdie kaarte is dat hulle dieselfde foute geërf het wat op GIS-kaarte verskyn – en dan het hulle nóg foute bygewerk. Die programmatuur wat GIS-kaarte in GPS-kaarte omskep, kan maklik ’n boer se private pad deur sy mielieland aansien as ’n openbare pad.

Jy moet die internasionale geografiese inligtingstelsel (GIS) bedank vir GPS-kaarte.

Dit is waarom soveel mense vroeër jare deur hulle GPS beveel is om in mere in te vaar (want veerbootroetes is as paaie beskou) en in eenrigtingstrate teen die stroom op te ry (want die eerste GIS-kaarte het nie die rigting van die verkeersvloei in ag geneem nie).

GPS-kaarte is deesdae betreklik akkuraat en GPS-kaartmakers soos Tracks4Afrika doen ekstra moeite deur GPS-gebruikers se aangetekende roetes en notas in hulle kaarte te inkorporeer – wanneer jy ’n Tracks4Africa-kaart volg, wéét jy iemand het voorheen hierdie pad gery... en oorleef. 

GoogleMaps doen iets soortgelyks: Hulle stuur voertuie die regte wêreld in om al die paaie te ry, te meet en foto’s daarvan te neem. Wanneer ’n Google-voertuig ’n geslote hek aantref, sal die Google-kaart se rybare pad óók hier eindig.

Een of albei?

Watter een werk die beste? Hoe jy ’n roete beplan, is ’n persoonlike saak, maar by Weg Ry & Sleep begin dit altyd met ’n opdrag van Schalk, ons redakteur. Iets soos: “Gaan noord, iewers waar ons nog nie was nie.”

Dan gryp jy ’n kaartboek, rig jou oë op die noordelike provinsies en probeer onthou of ’n joernalis vóór jou al in ’n betrokke streek was. Sodra jy ’n belowende lappie aarde vind, begin jy navors wat interessant is omtrent dié wêreld – ’n besoek aan ’n biblioteek of boekwinkel is van onskatbare waarde.

Sodra jy ’n goeie idee het van hoe jou reis gaan lyk, lê jy jou reisplanne aan Schalk voor vir goedkeuring. Eers dan waag jy jou hand aan GoogleMaps – of, beter nog, GoogleEarth – en bekyk die wêreld van bo af.

Sodra jy ’n rowwe roete uitgewerk het, gesels jy met kollegas, kennisse en ander reisigers wat al in dié omgewing was. Jy maak ’n lysie van moetsiendinge en belangrike plekke waar min mense tevore was. Dan gebruik jy die kaartprogrammatuur op ’n skootrekenaar om jou presiese roete uit te pluis en plant vlaggies op die digitale kaart vir vulstasies, besienswaardighede en slaapplek.

Notas op die digitale kaart wat lui: “Dangerous road”, “River crossing” en “4x4 only” trek veral ons aandag en word outomaties deel van ons roete.

Al wat nou oorbly, is om jou roete op die GPS-toestel te laai en in die pad te val.

En ’n papierkaart? Dié gaan altyd saam, want dis vinnig en maklik om te gaan kyk as jy onverwags van jou roete moet afwyk. Wanneer jy in die middel van jou reis veranderings aan jou roete op die GPS-toestel maak, verhoog jy die kans om in ’n mielieland te beland (iets wat al gebeur het) of dalk in Heidelberg in die Kaap aan te kom terwyl jy eintlik na Heidelberg, Gauteng, op pad was (ons was darem nog nie só dwaas nie).

Dis hier waar ’n slimfoon nuttig is. As Steenbokpan se enigste petrolpomp gesluit is, is GoogleMaps jou beste vriend om die naaste vulstasie te vind.

Facebook-kommentaar

Ons het lesers op Facebook gevra of hulle papierkaarte of GPS-toestelle verkies.

Cedric Pieterse: Ek gebruik eerder ’n ou padkaart. Sy batterye word nooit pap nie en jy kan die volledige prentjie sien.

Alma Smith: Dis as gevolg van padkaarte dat my sin vir rigting so goed is. Ek weet altyd in watter rigting ek loop of ry.

Coreen de Lange: Ek hou van ’n padkaart wanneer ons ry. My jongste het dit ’n aardeblaadjie genoem.

Monré Meyer: ’n GPS is bykomend tot ’n ordentlike padkaart. In elk geval verstaan sommige mense nie hoe ’n GPS werk nie en ken ook nie die tekortkominge daarvan nie.

Hans Krikke: My getroue ou kaart het my al verskeie kere uit benarde situasies gered, veral in buurlande waar Tracks4Africa gefaal het.

Dewaal Louw: Mense, ek begryp dat padkaarte nostalgies is en alles, maar wil julle nie sommer ook weer met ossewaens ry nie?

’n Bietjie geskiedenis

  • 1652 Die VOC karteer die Kaapkolonie, maar die afmetings word te perd afgetree.
  • 1904 Die Britse regering karteer die Oranjerivier-kolonie in 1:125 000-skaal.
  • 1930 Die Royal Automobile Club (later die AA) van Suid-Afrika publiseer die eerste roetegids.
  • 1948 ’n Poging om topografiese lugfoto’s van ons hele land te neem word van stapel gestuur.
  • 1957 Rusland lanseer Sputnik, die eerste mensgemaakte satelliet.
  • 1962 ’n Hernude poging word aangewend om 1:50 000-skaal- topografiese kaartblaaie van ons land te skep.
  • 1974 Die eerste GPS-satelliet, Navstar, word deur die Amerikaanse leër gelanseer.
  • 1983 GPS-uitsendings word oopgestel vir die publiek.
  • 1989 Die GPS-vervaardiger Magellan verkoop die wêreld se eerste handdraagbare GPS, die NAV 1000.
  • 1992 Die finale 1:50 000-skaal-kaartblad van Suid-Afrika – ’n projek wat in 1962 begin is – word voltooi.
  • 1999 Slimfone met ingeboude GPS-ontvangers maak hulle verskyning.
  • 2012 Japannese toeriste beland in Australië se Moretonbaai nadat hulle GPS hulle daarin stuur