Een van die belangrikste stukkies kamptoerusting is ’n kampstoel – dit is een van die dinge wat jy die heel meeste gaan gebruik wanneer julle gaan uitspan.

Daar is egter ’n legio keuses wanneer dit tyd is om een te koop, en ’n mens moet seker maak jy kry die stoel wat by jou en jou behoeftes pas.

Op ons Facebookblad is ’n magdom gesoute kampeerders, en hulle het gedeel wat hulle deur die jare wys geword het. As jy dié vyf wenke in gedagte hou wanneer jy ’n kampstoel koop, behoort daar nie agterna trane te wees nie.

1. Kyk die kat uit die boom

Toetsbestuur eers ’n klompie stoele vóór jy een koop: Die belangrikste is dat jy gemaklik moet sit. Maak seker die armleunings is stewig genoeg as jy daarop moet steun wanneer jy opstaan, kyk of daar genoeg ondersteuning is vir jou lae rug, en sorg dat jy nie te diep gaan sit nie. En vanselfsprekend moet die stoel in jou prysklas val.

“Gaan sit op soveel as moontlik stoele by winkels, kampterreine, jou buurman en kampskoue – en besluit dan. Naas jou tent is jou stoel die belangrikste stukkie toerusting in die kampterrein.” – Merlin van Zyl

2. Wat weeg hy?

’n Belangrike oorweging is hoe groot die stoel is, hoeveel hy weeg en hoeveel plek hy opneem wanneer jy hom inpak. As jy ’n wa of ’n Venter sleep, is dit dalk minder van ’n kopseer as wanneer jy met ’n koepeltent in die kattebak van jou Citi Golf gaan kamp. Stoele met ’n raam van aluminium is ligter as dié met ’n staalraam en neem gewoonlik ook minder plek op.

“Gee die geld uit en koop die beste stoel wat jy kan bekostig. Jy soek een wat lekker sit en klein opvou en dus nie baie plek opneem nie.” – Agatha Ikking

3. En wat weeg jý?

Onthou om seker te maak die stoel wat jy uiteindelik koop, is sterk genoeg om jou gewig te dra. As jy in die voorry sak vir die dorp se Kaas-en-wyn-span, gaan een van daardie modelle wat jy sommer by die plaaslike supermark aanskaf vir rondom R150, beslis nié die pyp rook nie. Hoe sterker die stoel, hoe meer plek neem hy gewoonlik op. Hou dit ook in gedagte.

“Ons het al baie goedkoop stoele gekoop wat net vir een kamp gehou het. Koop die beste wat jou beursie toelaat.” – Geraldean Moore

4. Maar dis nie al nie...

Jou kampstoel is nie net ’n stoel nie. Dit is ook die plek waar jy laatmiddag ’n uiltjie knip, om die vuur kuier en waar jy eet. Maak seker jy het genoeg plek om al jou goedjies neer te sit. Onthou, dis nie net jou glas wat jy byderhand moet hê nie – daar’s ook jou foon, verkyker, leesbril en natuurlik die jongste uitgawe van Ry & Sleep. Jy kry selfs stoele met ’n ingeboude koelhouer as jy nie elke keer wil opstaan vir iets om aan te teug nie.

“Ek hou daarvan om op te krul in die stoel. Daarom moet hy genoeg ruimte hê met ’n gemaklike kussing. Ek moet maklik kan opstaan en lekker kan sit – en selfs in die stoel kan braai.” – Trudi Young

5. ’n Paar rand ekstra

Daar is nie ’n enkele stoel wat die beste vir almal van ons is nie, en die duurste stoel is nie noodwendig die beste een vir jou nie. Moet dus nie dat die verkoopsman jou ’n gat in die kop praat nie. Kyk na die waarborg, van watter materiaal die sitplek en raamwerk gemaak is, en of die stikwerk ordentlik gedoen is. Dit behoort jou ’n goeie aanduiding te gee van hoe lank die stoel behoort te hou.

“Ons stoele het kanttafeltjies en hulle is nou al vyf jaar oud. Hulle lyk egter nog nuut en ons kamp gereeld langs die see. Vóór ons dié stoele van Camp Master aangeskaf het, moes ons elke jaar ander stoele koop.” – Santie Gerber

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook