Illustrasies: Dominic Wienand 

Die woord domkrag kom van die Nederlandse “dommekracht” af waarin “dom” ’n wisselvorm is van “duim”. Dit is dus ’n sinspeling op die krag wat ’n duim met die hulp van ’n hefboom kan uitoefen. 

Nugter weet wie die eerste domkrag uitgevind het. Leonardo da Vinci het verskeie van hulle geskets, maar ons kan waarskynlik die antieke Grieke bedank vir dié nuttige uitvindsel. Ons bekyk vier soorte domkragte wat in jou ryding behoort te wees.

’n Wyse man sal altyd minstens een in sy voertuig hê, maar ’n 4x4-prof sal almal probeer saamneem.

Skêrdomkrag

Die Kanadees Joseph LaFrance het dié eenvoudige toestel in 1920 gepatenteer. Indien jou ryding vaste asse voor en agter het, gaan jy dié soort domkrag vir jou werk.

Plaas dit onder die as naby die wiel met die pap band, hys hom op en siedaar. Die skêrdomkrag blink uit as jy jou ryding nie te hoog hoef te lig nie.

Dit is ook ’n betreklik veilige toestel, want hy lig slegs een wiel van die grond af op en die kans dat hy gaan swik en jou trokkie op sy pens laat beland, is skraal, mits die grond gelyk en stabiel is.

Hy’s maklik om te gebruik, klein en betroubaar. Daar is geen rede waarom jy hom nié onder jou sitplek kan saamry nie. Sy achilleshiel is dat hy sukkel om swaargelaaide voertuie op te lig. Moet byvoorbeeld nooit ’n skêrdomkrag uit ’n Chevvy Spark gebruik om ’n Land Cruiser 200 op te hys nie – jy gáán daai domkrag knak.

Daar is hoërgraadweergawes van dik staal beskikbaar met ratverhoudings wat die draaiaksie vergemaklik, maar hierdie toestelle is dikwels groot, swaar en duur. Oorweeg dan eerder een van die volgende domkragte.

Hoogligdomkrag

Die oorspronklike Automatic Combination Tool is in 1905 al gepatenteer. Hy is aanvanklik die Handyman gedoop, maar het later die “Hi-Lift jack” geword.

’n Hoogligdomkrag is ’n onontbeerlike stukkie toerusting vir geesdriftige 4x4-entoesiaste, maar soos enige gereedskapstuk kan dit ook ’n lewensgevaarlike ding wees.

Hy’s inherent onstabiel, en as jou voertuig hoog bo die grond hang en iemand stamp daaraan, gaan die domkrag omval, en die kar dan bo-op jou. Wees dus uiters versigtig, ook wanneer jy hom laat sak.

As jou hand van die hefboom afgly, of die hefboom in ’n horisontale posisie is wanneer jy na die afwaartse rat oorskakel, gaan daai hefboom skielik boontoe skiet en jou tande uitslaan.

En die ergste is dat dit nie hier stop nie, want die hefboom gaan nog ’n hele paar keer op en af wip sodat hy jou verder kan pakgee.

Moenie lag nie: Heelwat mense se arms en bene is al só gebreek, én mense is al dood.

As jou hand van die hefboom afgly, of die hefboom in ’n horisontale posisie is wanneer jy na die afwaartse rat oorskakel, gaan daai hefboom skielik boontoe skiet en jou tande uitslaan.

Ons weet dit lyk bakgat as jou hoogligdomkrag op jou trokkie se dakrak of buffer vasgemaak is, maar die ratmeganisme raak vuil en dit vergroot die kans dat hy nie behoorlik gaan werk nie. Bout hom eerder iewers binne jou ryding vas.

As jy hom op die dakrak móét vasmaak, gebruik boute en moere en nie trekstroppe nie. As jy in ’n motorongeluk betrokke is, gaan daai swaar hoogligdomkrag losbreek en soos ’n missiel in die kar voor jou vasvlieg.

Maar dis genoeg bangmaakstories: ’n Hoogligdomkrag is ongelooflik veelsydig. Jy kan hom gebruik as ’n wenas, jy kan metaal buig, bande van wielvellings afhaal én hom as ’n sandanker inspan. Die opsies is legio. Jy gaan uit byna enige tameletjie kom as jy ’n hooglig- én skêrdomkrag saamry. 

Lugsakdomkrag

Die lugsakdomkrag se oorsprong lê by onderwaterballonne wat duikers gebruik om swaar voorwerpe van die seebodem na die oppervlak te bring.

Ons weet nie wie eerste daaraan gedink het om dit op voertuie toe te pas nie, maar dit was ’n logiese stap.

Sommige mense hou van ’n lugsak; ander verpes dit. Die voordele is dat hy danksy ’n groot “voet” lekker in sand en modder werk en nie kan omval (en tot beserings lei) nie.

Die nadele is dat hy voertuigonderdele van sagte metaal – soos vergassers en langafstandtenks – kan buig as jy hom op die verkeerde plek oppomp. Hy kan ook skeur as hy teenaan ’n skerp voorwerp onder jou voertuig druk.

Die grootste klagte is egter dat lugsakke baie pakplek in jou voertuig opneem en jy twee of selfs drie mense nodig het om dit te gebruik – een om die pyp in plek te hou en ’n ander om seker te maak hy beskadig nie jou voertuig nie.

As jy ’n lugsak oorweeg, soek die soort wat met jou motor se uitlaatpyp én ’n kompressor werk.

Botteldomkrag

Hierdie hidrouliese domkrag se ontstaan is te dankie aan die Franse wiskundige Blaise Pascal se teorie wat losweg lui dat wanneer ’n vloeistof binne ’n verseëlde houer onder druk geplaas word, die drukking in alle rigtings beweeg.

Soos sy naam aandui, is ’n botteldomkrag ’n bottel vol olie. Met die pomp van ’n hefboom verplaas jy klein bietjies olie op ’n slag – wat ’n skag boontoe druk en jou voertuig ophys.

Die voordeel is dat hy swaar voertuie moeiteloos lig, en boonop hoër as wat ’n skêrdomkrag kan.

Vir ’n veldryer is ’n 5 t-domkrag ’n goeie keuse.

Nog ’n voordeel van ’n botteldomkrag is dat hy stewiger staan as die skêrsoort. Maar hy het ongelukkig ook nadele: Dis nie ’n te betroubare implement nie en as die seël lek, is hy nutteloos.

Daar gaan ook kere wees wanneer hy nie onder jou ryding se as gaan inpas nie. Dan gaan jy jou voertuig aan die onderstel moet ophys en duim vashou hy kan hoog genoeg lig om ’n wiel van die grond af te kry. Dis hier waar ’n hoogligdomkrag tot die redding kom.

SÓ MAAK MENS. As ’n ewenaar op ’n rots vashaak, kom ’n hooglig handig te pas.

Onthou, vóór jy lig

Maak seker jou domkrag pas onder die as wanneer die band pap is. Maak ook seker hy kan die as hoog genoeg lig om ’n opgepompte noodwiel op die naaf te kry.

Trek áltyd die handrem op en sit die kar in rat voor jy begin werk. Sit ook sommer ’n klip voor elkeen van die drie wiele wat op die grond bly, net om doodseker te maak jou voertuig rol nie van die domkrag af nie.

As jy ’n hoogligdomkrag gebruik om ’n wiel te ruil (eintlik moet jy nie), moet jy die voertuig ophys, ’n driepootstaander onder die as indruk en die hooglig laat sak totdat jou voertuig op die staander rus. Ruil die wiel om voordat jy jou voertuig een laaste keer ophys, die staander verwyder en die voertuig tot op sy wiele laat sak.

Moet nooit jou voertuig aan ’n hoogligdomkrag laat hang terwyl jy met ’n wiel worstel nie. Jy gaan die domkrag wat saam met jou voertuig verkoop word, waarskynlik moet vervang.

Voertuigvervaardigers bestee die absolute minimum aan dié soort toerusting, en hoewel die oorspronklike domkrag destyds goed genoeg was om jou nuwe voertuig te lig, het jou veranderings aan die voertuig – die bandgrootte, skokbrekers en kronkelvere – daartoe gelei dat daai domkrag nie meer eintlik die mas gaan opkom nie.

Verkoopsmanne moes destyds aan klante demonstreer hoe dit werk.

Suid-Afrikaners is ook geneig om hulle rygoed swaar te laai, en ’n intreevlakdomkrag gaan dalk breek as jy ’n Land Rover vol kampgoed en proviand daarmee probeer oplig. Onthou om die noodwiel plat onder jou ryding in te skuif terwyl jy die domkrag gebruik en die beskadigde wiel verwyder.

Plaas dan die beskadigde wiel onder die voertuig wanneer jy die noodwiel vasdraai en jou voertuig laat sak. Indien jou ryding van die domkrag afval, lê hy darem op ’n wiel en nie plat op sy pens nie.