Foto’s Kyle Kock en Getty

Die meeste van ons weet darem hoe om ons skoenveters vas te maak en party weet selfs wat die basiese struktuur van ’n platknoop is, maar tog is daar baie mense wat nie regtig weet wat die beste manier is om ’n vrag vas te trek of ’n tou om ’n boom te span nie. Ons het ’n klompie kenners geraadpleeg wat daagliks met knope werk – en ’n paar waardevolle wenke gekry.

VRAGKNOOP

Die oorsprong van dié gewilde knoop wat jy in ’n japtrap lostrek, lê by vragmotorbestuurders wat hulle vrag stewig moes vastrek. Dit word ook gereeld in die landbou ingespan, veral op sleepwaens.

Dit maak nie saak wat jy hom noem nie – in Engels is dit bekend as die “trucker’s hitch”– dis ’n baie nuttige knoop as jy iets onder ’n seil moet vasmaak. Hierdie weergawe maak maklik los, wat beteken jy kan jou goed moeiteloos aflaai wanneer jy jou bestemming bereik.

Almal gebruik hierdie knoop om ’n vrag op ’n laaibak vas te maak,” sê die bergklimkenner Rob Thomas.

Stap 1: Hou die tou slap en maak ’n lus in die deel wat reeds oor jou vrag is. Herhaal die lus in die los deel van die tou en ryg dit deur die eerste lus om ’n hangende lus aan die onderkant te vorm.

Stap 2: Voer die los deel van die tou deur die onderste lus en óm die hoek.

Stap 3: Trek die los deel vas deur dit om die hoek te draai en vas te trek.

Stap 4: Die losmaak kan nie makliker nie. Trek bloot aan die boonste lus en die hele knoop kom los.

PAALSTEEKKNOOP

Hierdie is ’n veelsydige knoop met ’n veilige lus aan die einde van jou tou wat jy vir verskeie gebruike kan aanwend.

Jy hoef jou nie te bekommer dat hierdie outjie gaan lostrek wanneer jy hom vasgeknoop het nie, maar wanneer jy hom moet losmaak, is dit net so maklik.

Die meeste rots- en bergklimmers gebruik variasies wat verhinder dat die paalsteek – oftewel “bowline” – loskom, maar daar is nie ’n beter knoop as jy ’n lus aan die einde van jou tou nodig het nie,” sê Justin Lawson van Climb ZA.

Stap 1: Maak ’n klein lus en los genoeg tou vir die grootte lus wat jy benodig.

Stap 2: Voer die punt van die tou deur die lus.

Stap 3: Wen die punt om die lang deel van die tou en dan weer deur die lus.

Stap 4: Trek hom nou stewig vas. Onthou dat hierdie knoop kan loswikkel as hy nie stewig vasgetrek is nie. 

SKOOTSTEEKKNOOP

Jy gebruik hierdie knoop wanneer jy ’n lang tou nodig het en twee toue moet las om ’n langer een te vorm. Daar is ander keuses wat waarskynlik makliker is, maar met hierdie een (in Engels “sheet bend”) kan jy toue van verskillende diktes stewig aan mekaar vasknoop. Dis beslis nie ’n mooi knoop nie, maar hy is betroubaar. En dis al wat jy wil hê.

Stap 1: Maak ’n lus met die dikker tou (die bloue hierbo) en voer die een punt van die dunner tou (groen) deur die lus.

Stap 2: Vou die dunner tou agterom die dikker een se lang en kort deel.

Stap 3: Bring die dun tou weer vorentoe, om die dikker tou, en ryg hom deur die lus wat tussen die twee toue gevorm het.

Stap 4: Trek die besigheid vas.

STYWELYNKNOOP

Hierdie een behoort vir die meeste kampeerders bekend te lyk, want hy word gewoonlik ingespan wanneer jy ’n tussentydse wasgoedlyn tussen twee bome moet prakseer vir al die strandhanddoeke.

Die ander voordeel is dat jy hom kan gebruik om die spanning op ’n ander tou – soos jou tenttoue – te verstel. Die stywelynknoop, of “taut line hitch”, soos die Engelse sê, is ook ’n veilige manier om jou hangmat vas te maak.

Stap 1: Maak ’n lus deur die los punt van die tou om en na die binnekant van die vaste punt (die deel wat jy om die boom draai) te voer.

Stap 2: Herhaal die eerste stap in dieselfde rigting en doen dit dan vóór die lus in die rigting van die boom. Trek hom stewig vas.

Stap 3: Werk in dieselfde rigting, maak ’n lus agter die knoop en voer die los punt daardeur. Dit is nou die stywe lyn. Trek die vaste punt om die lyn te verstel.

Eindresultaat

KNIEHALTERKNOOP

Dit is ’n basiese knoop met ’n magdom gebruike – soos om jou kookgerei van ’n tou te laat hang of jou tenttoue om ’n paal vas te bind as die grond te hard is vir tentpenne.

Dié knoop word ook gebruik om ’n boot aan ’n landingsplek vas te maak of ’n perd, wel, te kniehalter. Rotsklimmers span die knoop ook gereeld in.

Stap 1: Maak ’n lus in die tou en plaas dit oor die paal.

Stap 2: Maak ’n tweede en soortgelyke lus, maar maak seker die punte loop oor én onder die tou. Met ander woorde, nie albei moet bo of onder wees nie.

Stap 3: Plaas die tweede lus oor die paal en trek die spulletjie styf.

Eindresultaat

ALPYNSE VLINDERKNOOP

Met hierdie een knoop jy ’n veilige lus in die middel van jou tou.

Jy gebruik dié lus dan om die kampgoed agterop jou bakkie of op jou dakrak vas te trek. Die knoop is stabieler as iets soos die stywelynknoop omdat hy plat bly en dus nie sommer loswikkel nie. En selfs al het jy ’n swaar vrag hiermee vasgemaak wat die knoop nóg stywer getrek het, is dit maklik om hom weer los te maak.

Stap 1: Vou die tou twee maal om jou hand, maar plaas die tou naby aan jou vingerpunte met die tweede vou.

Stap 2: Wen hom weer om en bring hom af om met die tou naby aan jou duim te eindig.

Stap 3: Tel die deel by jou vingerpunte op en draai dit om die ander twee gedraaide dele.

Stap 4: Glip die knoop van jou hand en trek hom deur aan die lus bo en die toupunte onder te trek.

Eindresultaat

Viswaters toe!

PALOMAR-KNOOP

Dit is ’n eenvoudige dog gewilde knoop onder hengelaars omdat hy so betroubaar is langs die viswaters.

Daar is ook ’n variasie van die palomar-knoop waarmee die laaste lus teen die skag van die hoek vasgemaak word.

Stap 1: Voer jou vislyn deur die hoek se oog en dan weer terug in die teenoorgestelde rigting. Maak seker die lus is minstens groot genoeg vir jou hoek.

Stap 2: Maak ’n knoop met die dubbellyn en voer die hoek deur die lus.

Stap 3: Trek die knoop vas en sny die stukkie lyn af wat uitsteek.

ENKELKNOOP

Hier is nog ’n veelsydige knoop wat jy op verskillende maniere kan aanwend. Die enkelknoop, ook bekend as die uniknoop, herinner sterk aan ’n galgtou.

Hy werk goed vir elke denkbare soort vislyn en word gekenmerk aan die feit dat die knoop transformeer terwyl jy besig is, met die binne-draaiplekke wat uiteindelik die buitelusse word.

“Jy kan dit gebruik om jou hooflyn aan jou voorlyn te koppel. Die knoop is baie sterk en word gebruik deur die ouens wat van ’n boot af hengel.

“Ek gebruik die knoop gereeld,” sê Chad Adams, ’n hengelaar wat die Westelike Provinsie verteenwoordig.

Stap 1: Voer een punt deur die oog en maak ’n lus parallel met die staanlyn.

Stap 2: Draai die punt van die binnekant van die lus af vyf keer om albei lyne.

Stap 3: Wend ’n smeermiddel aan, trek hom effens vas en verstel dit dan tot by jou verlangde lusgrootte. Trek hom nou stewig vas en sny die oortollige lyn af.

BRONNELYS
  • Suid-Afrikaanse kushengelvereniging
  • Climb ZA
  • Suid-Afrikaanse Bergklub
  • SAS-oorlewingshandleiding
  • Die skool vir bergleierskap
  • animatedknots.com
Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.