Begin voor

Ons begin voor by die koppelstuk en diens die sleepstang tot agter by die glyblok. Onthou, waens wat voor of in 2009 gebou is, het meestal ’n kop van gietyster, maar die nuwer waens het ’n staaloorglipkop.

Handvatsel

Niemand wil ’n rugbesering opdoen elke keer as hulle die woonwa afhaak nie. Smeer ghries aan die handvatsel en los die Deep Heat in die badkamerkassie.

Só maak jy

1. Skroef die bout (2) los en trek dit uit.

2. Lig die handvatsel (3) en haal dit af.

3. Trek die staaf (4) onder die handvatsel uit. Smeer ’n bietjie ghries daaraan.

4. Glip die staaf terug op sy plek.

5. Skroef die handvatsel weer vas.

Skets Dominic Wienand
Sleutel vir skets

1 kop

2 bout en moer

3 handvatsel

4 stangstaaf

5 rubberkous

6 koppelblok

7 bout

8 agterste halfmaanwassers

9 rubberwasser

10 skokbreker

11 hegstuk vir die skokbreker

12 skokbrekerbout

13 voorste halfmaanwassers

14 ghriesgaatjies

15 staalstaaf

Stangstaaf en kop

Die rubberkous (5) beskerm die stangstaaf (4) teen stof. As jy wegtrek en stilhou, beweeg die staaf vorentoe en agtertoe, en die rubberkous werk as’t ware soos ’n konsertina. 

Sleephaak
Die eerste teken van verweer is fyn krakies op die riwwe van die kous.

Só maak jy

Staaloorglipkop

Die oorglipkop het weinig onderhoud nodig, maar ’n bietjie Q20-roesweermiddel op die veer aan die onderkant kan nie skade doen nie.

1. Skroef die twee boute langs die rubberkous los.

2. Trek die kop vorentoe en haal dit heeltemal af.

3. Glip die stukkende kous af.

4. Druk die nuwe kous oor.

5. Skroef die kop weer vas.

Die twee boute langs die rubberkous los.

Gietysterkop

Die gietysterkop het meer aandag nodig, want dié het ’n staaf wat onderdeur die kop gly om dit op die bal van jou kar se sleephaak te sluit.

1. Skroef die hele koppelblok (6) van die disselboom af los.

2. Skroef die skokbreker (10) se voorste bout (12) los. Jy moet dit van onder die hegstuk vir die skokbreker (11) benader.

3. Skroef die bout (7) wat parallel loop aan die staaf (tussen die skokbreker en staaf) los sodat jy die agterste stel halfmaanwassers (8) kan bykom.

4. Haal dié halfmaanwassers uit.

5. Tik die hele koppelblok(6) met ’n hamer sodat dit ongeveer 2,5 cm in die wa se rigting skuif.

6. Haal die voorste halfmaanwassers (13) versigtig uit.

7. Trek die staaf heeltemal uit.

8. Glip die stukkende rubber af en sit die nuwe een in sy plek.

9. Druk die staaf terug deur die gat in die koppelblok (6), die rubberwasser (9) en hegstuk vir die skokbreker (11).

10. Pas die voorste halmaanwassers (13) terug op hulle plek.

11. Skuif die koppelblok (6) vorentoe.

12. Pas die agterste halfmaanwassers (8) terug op hulle plek.

13. Skroef die oorblywende boute weer vas sodat die skokbreker (10) en koppelblok op sy plek is.


KOPPELBLOK

Die staaf gly deur twee ronde opening in die koppelblok, en dié openinge moet ordentlik gesmeer bly. As dit begin aanpak of roes, kan dit uiteindelik jou wa se remvermoë belemmer.

Só maak jy

1. Maak seker die wa se handrem is af.

2. Druk die staaf agtertoe.

3. Kyk of daar smeermiddel op die staaf se agterkant is. As jy skonerige ghries sien, is alles reg. As die staaf droog of aangepak is, is dit tyd vir nuwe ghries.

4. Spuit die nuwe ghries by die twee gaatjies (14) bo-op die koppelblok in. Die een is reg agter die rubberkous en die ander een is heel agter.

HOU OOK DOP VIR DIE VOLGENDE

Klapgeluid

“Klopdisselboom” is nie áltyd ’n goeie ding nie. As die sleepstang ’n klapgeluid (soos yster op yster) maak as jy wegtrek en stop, is óf die rubberwasser (9) om die staaf óf die skokbreker poegaai (as die fout nie by die remme lê nie).

Om die wasser te vervang moet jy die hele staaf losmaak en uittrek (soos wanneer jy die rubberkous op die gietysterkop vervang). Die skokbreker het voor en agter ’n bout wat jy kan losmaak om dit te vervang.

Sleepbal

Die bal van jou motor se sleephaak moenie ghries kry nie. Op die lang duur het dit die teenoorgestelde uitwerking van wat jy wil hê. Wanneer jy grondpad ry, pak stof en sand in die ghries saam. Die aanpaksel werk dan soos skuurpapier tussen die bal en die kop van die sleepstang. As die “tjierie-tjierie” jou pla, trek ’n plastieksakkie oor die bal van die haak, haak die wa en skeur die oortollige plastiek af. Die sakkie werk soos ’n “tydelike smeermiddel” wat sal wegskaaf nog voordat jy by jou bestemming aankom.

Te veel speling

As daar speling tussen die staaf en koppelblok is, kan die koppelblok afgeslyt wees. Die speling tussen die twee dele moet net 0,2 mm wees, maar as jy speling voel wanneer jy die kop heen en weer wikkel, moet jy by jou naaste handelaar aanklop vir hulp.

Inkopielys
  • ghries
  • rubberkous
  • stampwasser
  • skokbreker
  • Gereedskap
  • Moersleutel