Vir Ben Swart van Brackenfell is daar niks lekkerder as om ’n selfdoenprojek aan te pak en in die proses ’n paar rand te spaar nie. Wanneer hy en sy gesin die pad vat, sleep hulle ’n bielie van ’n boswa wat hy self gebou het en die Prado het ook sy eie geboude laaistelsel agterin. (Lees die selfdoen-artikel vir die laaistelsel hier).

Maar met die laaistelsel op sy plek het die 52 liter-yskas net effens te hoog gesit vir hom en sy vrou, Mariëtte, om ’n koue enetjie gemaklik te kan uithaal. Dit sou nie deug nie, want hy het die laaistelsel juis gebou om braaitoerusting te bêre, en as daar gebraai word, het ’n mens lafenis nodig. Toe besluit Ben hy gaan sy eie yskaslaai bou.

Die yskaslaai pas bo-op die laaistelsel. Dit bestaan uit ’n raam en spore wat bo-op die laaistelsel vasgebout is, en ’n staallaai waarin die yskas sit.

Die laai gly met laers (bearings) op die spore.

Hoekom het jy besluit om dit te bou?

Dit was bloot te duur om so ’n stelsel te koop.

Is daar soortgelyke yskaslaaie op die mark?

Ja, ons het een op ’n buitelugskou gesien.

Hoe verskil jou ontwerp?

Myne se spoor is anders. Die ander een s’n is soortgelyk aan dié van ’n kombuislaai, en die ander stelsel is duurder.

Het jy staal of aluminiumplaat gebruik?

Staal. Aluminium sal werk, maar met dikker plaat, en jy moet weet hoe om dit te sweis.

Watter gereedskap het jy gebruik?

’n Sweismasjien, boor, skroewedraaier en moersleutels.

Hoe het jy die projek beplan?

Ek het bestaande produkte goed bekyk en toe my eie ontwerp uitgedink.

Wat sê ander mense as hulle jou yskaslaai sien?

Hulle kan nie glo ek het dit so goedkoop gedoen nie! (Die projek het Ben in 2014 R400 gekos.)

Voordele en nadele?

Ons kortetjies kan nou ook in die yskas sien om ’n bier uit te haal! Ek kan nie aan ’n nadeel dink nie.

As iemand ook so ’n laai wil bou, watter raad sal jy aan hulle gee?

Maak seker die spoor is die regte lengte wanneer jy meet, anders gaan die yskas dalk ’n bietjie te laag “hang”.

Stap vir stap

1. Die raam. Die laairaam is van 2 mm-staalplaat gemaak en die spore daaraan vasgesweis, met 16 mm x 3 mm -plaat waarin die laers loop. Die spoor buig opwaarts aan die voorkant sodat die yskas effe afwaarts hang as dit uitgly.

2 Sitplek. Die laai se basis is van 2 mm-staalplaat gebuig; dis dieselfde grootte as die yskas se basis. Die agterste twee hoeke is met 3 mm-plaat versterk omdat dit die meeste gewig dra wanneer die yskas uitgly.

3 Gly-gly. In elk van die twee hoeke op die basis het Ben ’n laer vasgesit, sodat die laai daarop kan in-en uitgly.

4 Op sy plek. Die raam is bo-op die laaistelsel vasgebout. Ben het ’n 2 mm-plaat vooraan vasgesweis waarop die laai kan lê, en ’n teflonstrook daaroor gesit sodat die laai lekker kan in- en uitskuif.

5 Hy’s stewig hoor. Links voor aan die spore het Ben ’n knip aangesit sodat die laai nie rondgly wanneer hy toe is nie.

6 Reg vir die langpad. Die laai waarin die yskas sit, het ’n ekstra stukkie plaat wat uitsteek sodat die knip daaraan kan haak.

• Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #66 (November 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.