Die lesers Zaaiman en Jannij Stander van Pretoria het besluit dié kappie op hulle Hilux-dubbelkajuit moet net aan hulle lysie streng vereistes voldoen, byvoorbeeld wanneer hulle nie toer nie, moes die kappie nie met die daaglikse gebruik van die bakkie inmeng nie. 

Die laaistelsel wat reeds in die voertuig was, moes deel vorm van die nuwe opset; die bed wat in die kappie ingebou word, moes langer as twee meter wees en breed genoeg vir twee mense. 

Met die uitsondering van die seil wat oor die kappie span, moes dit eenvoudig genoeg wees sodat hulle dit self kon maak. Verder moes dit maklik opslaan en water en muskiete uithou. Ook op die wenslys was plek vir ’n ekstra tent vir bykomende leefruimte.

Hoe het julle te werk gegaan met die bouery?

Om die bed op die laaistelsel te laat inpas, het ons die dak los van die nuwe kappie gebou met skarniere voor en klampe agter. Om die kappie op te slaan word die drie deure (twee weerskante en een agter) oopgemaak. Die agterste klampe word dan losgemaak en die dak word met gasarms opgelig.

Stutte word in posisie geplaas om die dak en deure op hulle plek te hou.

Die seile is aan die dak vas en as die kappie opgeslaan is, word dit aan mekaar vasgemaak om muskiete, water en stof uit te hou.

Die twee kantseile en die agterseil hang aan die oopgeslaande deure om die ruimte vir die bed na die kante en agtertoe te vergroot.

Waar slaap julle?

Die bed sit oor die breedte van die bak en is hoog genoeg om bo die Engel te wees. Ons het selfs ’n kopstuk ingesit. Die dak is met polistireen geïsoleer. Ons stoor die tent, bo-seil en ekstra beddegoed in die Thule-sak.

Het julle hulp gehad?

Ons het alles self gedoen, behalwe die poeierverf-afwerking, die seilwerk en die maak van die matras.

Stap vir stap


Ruimte vir verbetering.

Zaaiman en Jannij het gevoel die ruimte bo die laaistelsel kon beter benut word.

Daar’s werk. Die raamwerk is in ’n werkswinkel aan mekaar gesweis.

Kophou. Die dak lig met skarniere en word met stutte bo gehou. Die deure word met gasarms oopgehou. Die bed se basis is in ’n raam bo die laaistelstel.

Meet en pas. Die afmetings van die seilwerk is eers met lap gedoen, waarna die eindproduk deur ’n tentvervaardiger gemaak is.

Op sy plek. Wanneer die slaapkappie toe is, is dit so groot soos ’n gewone kappie.

Tyd vir oophou. Die kappie se deure vou oop en die dak lig op om die slaaptent te vorm. Jy klim met ’n trapleertjie agterop die bakkieklap en in die bed.

Slaaptyd. Die bed lê dwars oor die Hilux se bak, bo-oor die laaistelsel.

Skinktyd. In die kampterrein bly die kap opgeslaan en alles in die laaistelsel is maklik bereikbaar van agter. ’n Groot bo-seil bied beskutting teen die elemente.

• Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #65 (Oktober 2014) verskyn.