Doug het al ’n laaistelsel vir sy 1982 Mercedes-Benz Geländewagen gebou wat goed werk. Nadat ’n vriend ’n ruk gelede genoem het hy wil vir sy 2004 Toyota Prado ’n ander laaistelsel bou, het hy besluit om hom te help.

Die vorige stelsel in die Prado met aluminiumrame en lospassende laaie het plek vermors.

Hoe werk die stelsel?

Die laaistelsel bestaan uit verskillende bokse wat aan mekaar vasbout. Die bokse kan losgemaak en maklik uitgehaal word.

Daar is ’n groot laai, twee kleiner laaie langsaan en nog ’n kleiner laai bo-op die drie laaie. Dan is daar ’n glyrak vir die yskas. ’n Kamptafel en eetgereilaai skuif onder die stelsel in.

Omdat die Prado daagliks as gesinsmotor gebruik word, is die stelsel ontwerp sodat dit maklik uitgehaal kan word.

Hoe verskil die nuwe stelsel van die ou een?

Die vorige stelsel is van aluminium gemaak en die nuwe een is hoofsaaklik van hout. Omdat die hout nouer teen mekaar pas, kan meer plek doeltreffend benut word. Ons het lank beplan sodat ons alles in die laaie kon inpas.

Wat is uniek aan die stelsel?

Daar is twee goed wat uniek is. Die tafel pas onder die laaistelsel in saam met ’n laai vir al die eetgerei. Die tafel trek uit om as werkblad te dien.

Jy kan die stelsel maklik uitmekaar haal. Al die dele is egter nodig om dit effektief te laat werk. Jy kan nie net ’n deel van die stelsel in die voertuig sit nie.

Watter materiaal is gebruik?

Die grootste deel van die bokse is van 18 mm-laaghout gebou met ’n swart plastieklaag van 2 mm op die rante. Dit is alles volgens die regte mates laat sny waarna die plastieklaag opgesit is.

Die laaie is van 9 mm-Supawood-hout gemaak om so sterk as moontlik te wees, maar om ook terselfdertyd so min plek as moontlik te gebruik.

Die Teflon-stroke is 50 mm breed en 4 mm dik. Daar is 15 mm x 15 mm-aluminiumhoekyster op al die rante gesit om die hout teen stampe en stote te beskerm. Ek het die stelsel met swart Stone Chip-verf geverf voor ek die aluminiumhoekyster opgesit en alles aanmekaar gesit het.

Die tafelblad, yskasrak en eetgereilaai is van geriffelde aluminiumplaat gemaak.

Watter reaksie kry jy?

Ek het al ’n hele klomp stelsels gebou ná die eerste een wat ek vir my Geländewagen gebou het, bloot omdat almal so baie van die stelsel hou.

Die eienaar van die Prado was al op ’n hele klomp lang uitstappies na rowwe plekke en het nog geen probleme met die stelsel ervaar nie. Oral waar hy kom, is almal beïndruk daarmee.

Elke sentimeter word slim benut

1 Dele van ’n geheel. Die stelsel bestaan uit vier afsonderlike bokse. Die yskas en sy glyraam pas in die grootste boks. Die kamptafel en eetgereilaai pas in ’n boks heel onder, wat die basis van die stelsel vorm. Die groot laai en twee kleiner laaie pas in ’n groot boks langs die yskaslaai.

Die kleiner laai wat bo-op die ander laaie kom, pas in sy eie kas. Die yskas het ’n los deksel. Dit kan van binne die Prado af opgelig en van albei kante bereik word.

2 Glibberig. Die Teflon-stroke word lankal algemeen gebruik in staal- en aluminiumlaaistelsels.

Dit werk soos ’n bom saam met hout en ná ses lang vakansies wat baie grondpad-ry ingesluit het, is daar nog nie ’n teken dat dit kan begin moeilikheid gee nie.

3 Maklik los. Die bokse word met T-moere aan mekaar vasgehou. Dit maak maklik los as jy dit wil uithaal.

Die moer vir die bout word permanent in die hout gesit. Dit is dus net nodig om die boute los te draai voor jy alles kan uithaal.

4 Weggesteek. Die eetgerei word in ’n plat laai en hoëdigtheidspons gepak, wat help dat dit nie rondskuif nie. Die laai kan heeltemal uithaal, maar kan ook net gedeeltelik uitgetrek word.

5 Grimering. Die bokse is met swart Stone Chip-verf geverf nadat dit aanmekaar gesit en voor die aluminium-hoekyster vasgeskroef is. Al is die laaghout reeds met ’n waterdigte middel behandel, bied die verf ekstra beskerming en ’n netjiese afwerking.

6 Tafelblad. Die tafel van geriffelde aluminium is onder die laaistelsel in ’n laairaam ingebou en kan uittrek so ver as wat nodig is vir gebruik. Dit was nodig om die tafel hier te sit, want dit moes maklik bereikbaar wees.

7 Beplanning. Die laaie en pakplek is so beplan om plek te maak vir alle kamp- en kosbenodighede.

Die groot laai is diep genoeg sodat wyn- en koeldrankbottels regop kan staan.


Hierdie artikel het oorspronklik in WegRy #60 (Mei 2014) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.