Só maak jy

1 Haal die deur van die kosyn af. Skroef die aluminiumafwerking om die rand van die deur af, haal die deurknippe uit en hou dit eenkant. Doen dieselfde met die aluminiumplaat aan die buitekant van die deur.

2 Gebruik die buitenste aluminiumplaat as ’n gids en trek met ’n potlood die vorm na op die laaghout wat jy aan die binnekant wil gebruik.

3 Sny die vorm met ’n figuursaag uit. Onthou, die slot aan die binnekant van die deur het nie dieselfde grootte gat nodig as die een aan die buitekant nie. Meet dus hoe groot die gat vir die binneste slot moet wees voordat jy dit uitsny (dis gewoonlik reghoekig). 

4 Maak ’n eenvoudige dennehoutdeurraam met die buitenste plaat as riglyn en plak die plaat daaraan vas.

5 Vul die ruimte aan die binnekant van die raam met polistireenstukke sodat dit nie hol is nie. 

6 Gom nou die binneste laaghoutblad aan die raam vas om die “toebroodjie” te voltooi.

7 Nou kan jy die aluminiumafwerking terugsit. Werk van ’n kant af om seker te maak die twee punte kom bymekaar. Tik dit liggies met ’n hamer al om die deur en skroef dit vas. 

8 Skroef die deurknippe terug.

9 Sit die rubberstrook om die kosyn – begin onder in die middel sodat die lasplek nie op ’n opsigtelike plek is nie. Jy het geen gom, skroewe of spykers nodig nie; die rubber het ’n gleufie wat oor die rand van die aluminiumkosyn pas; jy moet net die regte lengte daarop vasdruk. 

Gebruik 'n figuursaag om die vorm uit te sny.
Tik dit liggies met ’n hamer
Rubberstrook

Inkopielys

  • Laaghout met plastiekafwerking (bestel die regte ontwerp by jou woonwahandelaar)
  • Dennehoutplanke vir ’n deurraam, dun genoeg sodat die deur se raam, laaghout en aluminiumplaat alles knus in die aluminiumraam sal pas
  • Veeldoelige gom vir aluminium en hout polistireenstukke, genoeg om die binnekant van die deur te vul
  • Kosynrubberstrook, genoeg vir die omtrek (beskikbaar by woonwahandelaars of sterwarewinkels)

Gereedskap

  • skroewedraaier
  • potlood
  • figuursaag
  • maatband
  • hamer


WENK As die deurknippe vodde is, kry nuwes by jou woonwahandelaar en vervang hulle sommer ook.