Ons het ’n strandhuis op Scottburgh in die KwaZulu-Natalse Suidkus, en dit was altyd vir ons lekker om ons vakansies in dié deel van die wêreld deur te bring.

Daar was egter tye wat dit vervelig geraak het om vir te lank op een plek te bly en dan sou ons ons woonwa haak en ’n ander deel van die streek gaan verken. Maar ek is nou al 75 jaar oud en die moeite van ’n woonwa is nie meer vir my nie. Ek het rondgekyk en toe op dié tweedehandse 2014-model Mercedes-Benz Vito afgekom – en besluit om hom in ’n kampbussie te omskep.

Die Vito het aan albei kante ’n glydeur, wat nommerpas was vir die ombouing wat ek in gedagte gehad het. Ons bed moes agter in die bus wees, maar ek wou hê daar moet steeds drie grootmense daar kan sit wanneer ons ry. En dit moes so gemaklik wees soos wat ’n mens van ’n Mercedes-Benz verwag.

Nou, wanneer ek die sitplekke platslaan, het ons ’n bed van 2 x 1,3 m.

Volgende het ons besluit kamp is net nie die dieselfde sonder ’n stoeptent waar ons kan sit om die pragtige natuurtonele dop te hou nie. Hiervoor het ek ’n Eezi-Awn 270 gekry wat aan die linkerkant van die bus oopvou en dan agterom vou.

Die kombuis is ook hier agter. Regs gebruik ek ’n uitglystoeptent wat 2 m ver uittrek. Dit is meer as genoeg plek vir ons badkamer.

Ek gebruik die sypanele van ’n gazebo vir privaatheid omdat hulle so liggewig is.

Binnelangs het ek ’n geiser en waterpomp onder die agtersitplekke ingebou wat met gas én 220 V-elektrisiteit werk. Hier is ook ’n 40 l-watertenk, gassilinder en ’n laai vir ander los goedjies. Tussen die voorsitplekke het ons lugreëling wat met 220 V-krag werk.

Die Vito word aangedryf deur ’n 2,2 l-turbodieselenjin en die krag word met ’n handratkas na die agterwiele gestuur. Sover is ons gemiddelde brandstofverbruik ’n heel skaflike 10 l/100 km.

Ons het ons kampbussie nou maar ses maande en het nog nie regtig met hom die pad gevat nie, maar ons is van plan om verder suid te reis en die prag van die Oos-Kaapse Wildekus eerstehands te ervaar.

Ek het my sommetjies gemaak en gesien ek het uiteindelik R250 000 op die bussie uitgegee, met die Vito wat R170 000 gekos het.

Al die bykomstighede het dus R80 000 gekos, hoofsaaklik omdat ek self al die werk gedoen het. Soos die 220 V-prop en stoeptente getuig, is hierdie kampbussie slaggereed vir die buitelewe.

En die beste van alles is hy pas in my motorhuis!


Het jy iewers in jou omswerwinge ’n seldsame sleepsel of ryding gesien? 

Vertel ons daarvan en stuur vir ons ’n foto na rysleep@weg.co.za.