Diens jou wa se remme minstens een keer per jaar – as die wa nie so dikwels uitgestoot word vir kamp nie, kan jy dit elke 18 maande doen. En al word jou wa gereeld versien, gaan dit jou gemoedsrus gee as jy die remme nagaan voor ’n lang vakansie. 

Só maak jy

1. Diens eers die een wiel en dan die ander een. Maak seker die wa staan op ’n gelyk stuk grond en sit veiligheidshalwe ’n klip voor en agter die ander wiel. Onthou om die handrem te laat sak, anders gaan jy nie die wieldrom afkry nie. 

2. Druk ’n platpuntskroewedraaier se punt dwars op die stofdoppie waar dit by die wieldrom indruk. Tik liggies met ’n hamer op die skag van die skroewedraaier bo die stofdoppie. Draai die drom soos die doppie loskom om dit eweredig uit te tik.

3. Buig albei punte van die splitpen met ’n tang reguit en trek die pen uit. Die kroonmoer behoort nou maklik los te draai. Gebruik ’n waterpomptang om dié moer los te draai as dit te styf vas is. Agter die kroonmoer sit ’n los wasser wat saam met die wieldrom afkom.

4. Tik die drom reg rondom met ’n hamer sodat dit loskom – draai dit die heeltyd. Trek dan die drom af na jou toe. Onthou, reg langs die los wasser aan die buitekant van die drom sit een van die wiellaers wat nou ook los is; probeer dit só in plek hou. 

5. Al twee remskoene word met ’n veer teen die dromplaat vasgetrek. Keer met jou een vinger aan die agterkant van die plaat waar die veer in ’n eie wasser inhaak, en druk die veer van jou kant af sodat dit aan die agterkant uithaak. 

6. Haak die remkoppelstuk van die remkabel los. Die remskoene en koppelstuk is nou los. Haal dit af.  

7. Spuit ’n bietjie Q20 van die dromkant af in die remkabel se buis. Net soos ’n ongeoliede fiets se remkabel nie laat skiet wanneer jy klaar gerem het nie, sal jou wa s’n ook nie.

8. Vervang die remskoene as die loopvlak minder as 3 mm is. Jy kan ’n nuwe stel koop, óf jy kan die blokke laat versool. As die skoene heeltemal afgeloop is sodat daar letterlik staal op staal op die wieldrom was, het die drom waarskynlik seergekry. Om die groewe in die drom weer glad te kry moet jy dit laat poleer (skim) – remwerkswinkels doen dit gewoonlik self.

Polering is heelwat goedkoper as ’n nuwe drom, maar onthou, woonwadromme is dunner as dié van motors, en as die drom erg beskadig is, gaan polering dalk nie genoeg wees nie. 
9. Skuur die oppervlak van die nuwe remskoene asook die binnekant van die drom waarteen die blokke vasdruk met growwe skuurpapier (P60-grein). Dít sorg dat die remme van die begin af ordentlik “vasbyt”. Soms is die versoolde remskoene se laag te dik en dan moet jy dit ook afskuur totdat die wieldrom daaroor pas.

10. Draai die remstelmoer heeltemal af. Die rigting waarin jy die moer draai, verskil van kant tot kant. Agter die dromplaat, langs die gaatjie waardeur jy die verstelling met ’n skroewedraaier doen, is ’n pyltjie wat die uitstelrigting wys: Draai die moer in die teenoorgestelde rigting totdat dit heeltemal ingedraai is – dit stel die remme af. Dit maak dit makliker om die wieldrom later weer terug te sit. 

Tyd vir terugsit

Remskoene is alkant dieselfde, behalwe in woonwaens wat in 1984 of vroeër gebou is en ’n boonste en onderste remskoen het. 

Die remskoene pas terug soos dit afgekom het.

1. Haak dan die trekveer terug tussen die twee skoene en sit dit as ’n eenheid terug teen die dromplaat. Sit nou die boonste veer (wat deur die remskoen druk) terug en daarna die onderste een.

2. Haak die remkoppelstuk terug aan die remkabel en pas dit terug tussen die remskoene. 

3. Druk die drom terug oor die as tot so ver as wat dit met die hand ingly (kyk dat die wiellaer nog op sy plek is).

4. Sit die los wasser en kroonmoer terug sonder om dit heeltemal vas te draai.

5. Slaan die wieldrom van voor af reg rondom in sodat dit ordentlik om die as vasdruk.

6. Draai die kroonmoer vas, maar tot net voordat hy “byt”. As die kroonmoer dán reg staan sodat die splitpen deur die gaatjie van die sykant van die moer en die gaatjie in die as kan pas, sit jy die pen terug; so nie draai jy die moer effe los tot regoor ’n gaatjie. Moet nooit in dié stadium die moer styf vasdraai nie, want dit kan die wiellaer beskadig.

7. Sit die wiel terug en draai die remstelmoer deur die gaatjie van agter die dromplaat vas totdat die wiel nie meer kan draai nie.

8. Draai die verstelmoer klik vir klik los totdat die wiel weer kan draai. Só mis die remskoene die wieldrom net-net.

Maak seker, Swaer

As jy jou wa met die hand vorentoe trek, moet dit stop as jy die handrem tot by die derde klik optrek. Die wa moet dan egter steeds agtertoe gestoot kan word sonder dat dit rem.

As jy die rem tot net verby die sesde klik trek, moet hy ook agtertoe rem. Indien dit nie gebeur nie, laat stel die remme eerder by ’n werkswinkel of dienssentrum.

Weg Ry & Sleep sê
As dit die eerste keer is dat jy die remme vervang, neem alles wat jy doen stapsgewys af sodat jy seker kan wees elke ding is terug op sy plek.

Inkopielys

• Q20-roesweermiddel
• 1 stel remskoene per wiel

Gereedskap

• domkrag
• wielmoersleutel
• klein hamer
• platpuntskroewedraaier
• waterpomptang