foto's: JAMES GARAGHTY 

Stap

1. Salomon X Ultra 3 Mid GTX

Moenie jou nie blindstaar teen die prys nie: Dié stewels is elke sent werd. Dis dalk die veeldoeligste stewel op die mark: Die Contagrip-rubbersool hanteer tegniese terrein; die gehalte is uitstekend; die rubber op die tone en hakke bied versterking; en hulle is gemaklik danksy die Ortholite-binnevoering en die EVA-voetbed.

Die enkelboordjie is ’n goeie hoogte vir genoegsame ondersteuning, maar sal nie jou enkels skaaf nie.

R2 500 by Cape Union Mart

Stap
Stap

2. Hi-Tec Wildfire Gamekeeper

As gewig en gemak jou grootste oorwegings is vir stapstewels, hoef jy nie verder te soek nie. Hierdie paar is water- en windbestand, maar kan steeds asemhaal. Dié stewels het ’n liggewig skag, ’n gevormde hakraamwerk en die versterkte bokant bied stabiliteit.

Daarby het elke stewel ’n Ortholite-sokkievoering met geheuespons en sagte maaslaag. Kortom, dis van die gerieflikste en ondersteunendste stewels op die mark.

R1 800 by hi-tec.co.za

3. K-Way Kili 16

As deel van die taai Expedition Series is hierdie stewels gemaak vir uitdagende avonture, waarvan die hoogste spits in Afrika net een voorbeeld is. Die sole is versterk met ’n staalskag en ’n polipropileenlaag. Daarby sal die Grivola Vibram-buitesool enige van Moeder Natuur se aanslae kan hanteer.

’n Slim buitelaag maak die stewel waterbestand, maar dit kan steeds asemhaal. Die verwyderbare Ortholite-voetbed verskaf ekstra gerief. Met dié skoene kan jy onherbergsame plekke trotseer.

R2 000 by Cape Union Mart 

Veldloop

1. Hi-Tec V-Lite Oxtrail Racer Low

Hierdie skoene is waarde vir geld. Dis ekstra-liggewig, buigsaam, waterwerend, gemaklik, en sal nie jou voete skaaf nie. Dit kan asemhaal danksy ’n nylonbokant sonder nate.

Dis ideaal vir beginners en veldlopers op minder tegniese roetes en kort staptogte. Daar is ook ’n nuwe weergawe genaamd Shift, wat meer enkelondersteuning bied. Dís nou goeie werkverrigting vir min pitte.

R1 000 vir die Racer Low R1 300 vir die Shift, by hi-tec.co.za

Veldloop
Veldloop

2. Adidas Terrex Two Boa

Dís die skoen wat jy soek vir allerhande buitewerk. Nie net is dit ’n uitstekende veldloopskoen nie, maar dit kan ook diens doen as ’n laaggesnyde stapskoen.

Die Boa-veterstelsel is uitstekend: Draai vir vasmaak, en trek vir losmaak. Die Continental-rubbersole bied vastrap op byna enige oppervlak.

R1 400 by shop.adidas.com

3. Salomon Supercross

Goed, hierdie paar is duurder as al die ander veldloopskoene wat ons hier wys, maar jy gaan ver soek om ’n meer duursame paar te vind. Hulle is taai op tegniese roetes, selfs in nat toestande. Dis te danke aan die prominente chevronvormige uitsnydings en die Contragrip-buitesool.

Dit bied gemaklike ondersteuning en Salomon se maklike veterstelsel. Die kontoer van hak tot toon is nogal steil (10 mm), maar as jy dit eens gewoond is, gaan jy in dié skoene boer.

R1 800 by Outdoor Warehouse

Padlangs

Asics Gel-Pulse

Weg-lesers wat hardloop, verkies waarskynlik veld bo teer, maar die meeste van ons het nie elke dag die luukse daarvan om in die veld te oefen nie. En vir teer het jy dié skoene nodig. Dis van die beste opsies vir middelslag-afstande (21 km- 42 km) vir mans en vroue (sien foto).

Die jongste tegnologie is ingespan in die vervaardiging van die skoene, maar dit sal nie jou beursie knak nie. Dis gemaak vir die deursnee-hardloper met ’n gemiddelde gewig.

R1 500 by asics.com/za

Klimmers

La Sportiva Tarantula

Vir klim – buite of binne – het ’n mens al vier ledemate nodig. Jy kan kalk aan jou hande smeer vir ’n beter greep, maar wat van jou voete? Jy wil immers aan elke denkbare vashouplek klou. Dié skoene is dalk vir beginners, maar dis slim gemaak en gebou om te hou.

Die Velcro-bande en die gestopte tong maak dit maklik om die skoene aan en uit te trek – wat nuttig is as jy nog gewoond raak aan hoe smal die skoene is.

R1 800 by City Rock of mountainmailorder.co.za

Waterbabas

1. Reef Brazil Fanning Low Sandals

Branderplankryers bring waarskynlik die meeste tyd in sandale deur. Die Fanning (genoem na die Australiese surfer Mick Fanning) is wat die meeste branderplankryers verkies. Dis diepgemaklik danksy die sagte EVA-voetbed (geen PVC word gebruik nie), ’n lugkussing in die hak en ’n anatomiese boog in die voetbed.

Dié sandale hou langer as visplakkies en het nie ’n band wat kan skeur of breek nie. Daarby het hulle ’n ingeboude botteloopmaker!

Vanaf R800 by Trappers

2. Adidas Climacool Jawpaw Slip-Ons

Nou raak dinge persoonlik...

Sommige watermense glo aan sandale, en die res sweer by neopreenskoene. Ons reken jy het soveel greep as moontlik nodig, en dis waarvoor die Jawpaws werk. Die bokant kan asemhaal en raak gou droog, terwyl die geperforeerde middel- en buitesool saam as ’n dreineringstelsel werk. Die Stealth-rubber bied vastrap op rivier- en seeklippe, gladde dambeddings en enige nat oppervlak.

R700 by shop.adidas.co.za

TREK OP JOU SOKKIES

Sokkies kry nie genoeg lugtyd nie... Die regte sokkies kan jou oefen- of staptyd maak of breek.

Vir elke dag

As jy op soek is na ’n goeie kombinasie van duursaamheid en werkverrigting in enige seisoen, is die Bridgedale Midweight Endurance Socks ’n goeie keuse. Dis ’n mengsel van natuurlike en sintetiese vesels vir vogbeheer. Dit sit gemaklik en veroorsaak minimale wrywing.

R180 by Cape Union Mart

Vir stap

Die Cape Mohair Xtreme Hiking Sockse, wat gemaak word van natuurlike sybokhaar- en merinovesels bied goeie isolasie, gemak en warmte. Dié sokkies kan asemhaal en sal nie sommer stink nie. Dis net wat jy nodig het vir ’n lang, taai staptog oor moeilike terrein.

R146 by mohairmillshop.com

Bly koel

Indien jy op soek is na iets liggewigs wat kan asem haal wanneer jy hardloop of oefen, kies die Falke Ultralight Hidden Socks. Dis gemaak van ’n mengsel van sintetiese stowwe soos Drynamix, Elastane en Polyamide – met maasinsetsels – wat vog weglei. Die naatlose toondele verminder die risiko van blase.

R80 by Cape Union Mart

Kyk mooi na jou vel

Die Balega Blister Resist Socks is gemaak van ’n mengsel van sybokhaar en Drynamix wat vog van die vel af lei. Die sokkies het nie nate nie en is lig op drukpunte. Koop dit vir enige buitelugaktiwiteit, of vir sokkerskoene of rugbytoks.

R180 by shopbalega.co.za