Foto’s Verskaf

Die kanse is goed jou voertuig se bagasiebak op pad na julle vakansiebestemming is propvol kampgoed gelaai. Daar is beslis nie plek vir ’n bonkige gazebo nie – en wie is in elk geval lus om die ding af te dra strand toe om vir jou eie koelte te sorg? Nee dankie!

Afdakke is deesdae beskikbaar in ’n verskeidenheid groottes en style, en ’n bonus is dat jy nie daarvoor plek hoef te maak in jou bagasiebak nie, want dit word permanent aan jou dakrak vasgebout.

Foxwing 

Die ware Jakob (hooffoto)

Hierdie eenstukafdak swaai maklik uit en derhalwe kan een mens hom oprig of afslaan. Jy kan hom teenaan die passasiers- óf bestuurderskant vasmaak. Daar is selfs ’n flap waardeur jy ’n verlengkoord kan trek.

Die raam en pale is van roesbestande aluminium en die seile is skeurbestand.

Prys R10 545 by 4x4 Mega World.

Toebehore Kantseile (R2 350).

Weg Ry & Sleep sê
Ons hou van die flap waardeur jy ’n verlengkoord kan trek.



Maxi Shade 270

Bly koelkop

Omdat hierdie afdalk so maklik uitvou, word hy bemark as ’n eenmanstorie. Hy is stewig genoeg om op sy eie te staan, maar daar is ankertoue as die wind stoot. Die aluminiumraam is beskikbaar in drie groottes: 2,1 m, 2,3 m en 2,5 m.

Die seil is waterdig.

Prys R7 750 by Custom Leisure Tech.

Toebehore Soliede kantseile (R950); vensterpanele met gaas (R1 250).

Weg Ry & Sleep sê
Dis gaaf dat jy die lengte kan kies wat by jou ryding pas.



Front Runner 4x4 Modular

Die grootmeneer

Hierdie afdak is blykbaar die grootste en ligste van al die monteerbare afdakke. Hy verskaf 10,4 m2 skaduwee en weeg slegs 6 kg. Jy maak hom maklik aan jou voertuig se dakrak vas met stroppe. Jy kan hom ook op sy eie staanmaak – dan doen hy sommer ook diens as ’n wafferse gazebo.

Prys R3 700 by Front Runner 4x4.

Toebehore Geen.

Weg Ry & Sleep sê
Hierdie knaap is lekker lig en staan op sy eie. 



Big Country Ostrich Wing

Onder die vlerk

Nes sy naamgenoot se vlerk gooi hierdie sonskerm deur Big Country ’n indrukwekkende skaduwee: 11 m2, om presies te wees. Hy swaai 270º oop, is 2,65 m lank en word gemaak van skeurbestande, waterdigte en vrotbestande materiaal. Dit duur 20-30 s om hom te ontplooi.

Prys R12 985 by Big Country.

Toebehore Kantseilstel (R9 900) of enkele kantseile (R2 242); LED-lig (R750).

Weg Ry & Sleep sê Daar’s ’n lekker klomp toebehore wat ’n mens by dié sonskerm kan aanskaf.



Alu-Cab Shadow

Stormsterk

Hy’s in die Kaap gemaak – as hy daar kan oorleef, sal hy op enige plek in Suid-Afrika heel bly. Die vierarmraam kan deur een mens staangemaak word en daar is ankertoue as die weer werklik rof raak. Die seil het ook ’n aluminiumvoering wat UV- strale uithou.

Prys R12 996 by 4x4 Mega World.

Toebehore Kantseile (R10 995).

Weg Ry & Sleep sê
Beslis gebou om te hou, en lekker groot daarby.



Uni Awn

Doodeenvoudig en veelsydig

Omdat hy op enige voertuig, kappie of sleepwa met of sonder ’n dakrak pas, is die Uni Awn beslis een van die veelsydigste afdakke op die mark. Jy bêre hom in ’n aluminiumkas en hy het 5 teleskopiese aluminiumpale en klitsrits-insetsels waaraan jy kantseile kan hang. Hy’s 1,5 m lank en 2,4 m breed.

Prys R3 850 by Custom Leisure Tech.

Toebehore Soliede kantseile (R950); vensterpanele met gaas (R1 250).

Weg Ry & Sleep sê
’n Ordentlike aluminiumkas is nie te versmaai nie.



Eezi-Awn Spoyla

Lig en sonder nonsies

Die Spoyla, ’n produk van die handelsnaam Eezi-Awn, is liggewig, verg geen instandhouding nie en is in slegs een grootte beskikbaar. Hy vou uit tot 2,1 m en vou weg in ’n aluminiumkas. Die afdak trek maklik uit die kas en sy sparre en bene is eenvoudig om uit te vou.

Prys R4 383 by Eezi-Awn.

Toebehore Kantseile (R4 360).

Weg Ry & Sleep sê
Bekostigbaar en vrolik – én jy kan boonop kantseile byvoeg.



Kry die produkte hier

4x4 Mega World 4x4megaworldonline.com

Custom Leisure Tech customleisuretech.co.za

Front Runner 4x4 frontrunneroutfitters.com

Big Country bigcountry.co.za

Eezi-Awn eeziawn.co.za