Ons het 'n paar jaar gelede met die sleepkenners Hans Koekemoer van Pretoria en Pieter Crous van Kaapstad gesels. Destyds het dié twee gesê van die dinge wat jy móét doen, is om jou wa reg te laai en die bande behoorlik te pomp.

1. Laai hom mooi

As jy jou wa reg pak en die gewigsverspreiding is reg, is die kans skraal dat jou woonwa buite beheer kan raak, sê Pieter. “Verkeerd laai is seker die grootste rede vir die swaaiprobleme – die grootste probleem is dat slepers te veel goed agter in die wa pak.”

Hans stem saam: Hy sê die geheim van woonwa pak is om te onthou neusgewig is stabiliteitsgewig en stertgewig is swaaigewig. “As jy te veel in die stertkant pak, gaan jy ’n pendule-effek kry. Jy begin van die as af swaarder laai vorentoe en jou neusgewig moet verkieslik in die omgewing van 70 kg wees. Hoe nader jy aan die perk van 100-110 kg kan kom, hoe beter. As jou wa aangehaak staan, moet die neus effens boontoe wys, maar as jy wegtrek, moet dit gelyk wees. Mense maak ook die fout om alles agter te pak as die neus te veel afwaarts wys en dan kry hulle die pendule-effek.”

2. Pomp daai bande

Hans en Pieter sê Jan hulle pomp albei hulle waens se bande 3 bar en dit werk.Bande wat te pap is, is een van die groot oorsake van waens wat onnodig en erg swaai.Hans sê deesdae se bande met hulle sagte sywande absorbeer skok en verplaas gewig met sywaartse rolbewegings. As jou wa se bande egter nie behoorlik gepomp is nie, is dié rolbewings te erg en dit lei daartoe dat jou woonwa swaai.

Deur die bande tot 3 bar te pomp beperk jy dié rolbewegings.Jy moet ook seker maak die een band is nie stywer as die ander een gepomp nie. Sulke oneweredigheid lei ook tot swaaiprobleme.

Dit is ’n fout om vir jou wa bakkiebande met harde sywande op te sit vir stabilitieit, maar dit dan te sleep met ’n voertuig met sagtewand- of laeprofielbande. Die rolbeweging van die voertuigbande word dan te veel oorgeplaas na die wa.

Ry & Sleep sê: Woonwabande wat nie hard genoeg gepomp word nie, het ’n groter kans om te bars. Dit geld ook vir wabande wat nog nuut lyk omdat hulle min gebruik word, maar eintlik reeds daarmee heen is. Jy kan ’n duur prys betaal daarvoor: jou wa.