Foto's Kyle Kock

Op die internet kry ’n mens ’n groot verskeidenheid kampwenke – of hacks, soos die Engelsman dit noem. Ons weet egter te goed ’n mens kan nie alles glo wat jy op die wêreldwye web sien nie; dus het ons van die gewilder wenke self op die proef gestel om te kyk wat werk en wat nie…

Maak hom brand

Wat is dit? ’n Kartonhouer wat 18 eiers hou, werk heel gaaf vir dié wenk. Ons weet die meeste kampeerders verkies ’n houtvuur (Wel, ons hoop so. – Red.), maar as jy in die knyp is, kry jy op dié manier jou kole vinnig gereed om te braai.

Werk dit? Ons stel voor jy gebruik van daardie brikette wat in ’n kits aansteek, anders gaan jy met ’n smeulende gemors sit wanneer jy die vier hoeke van die kartonhouer aansteek. Hierdie kitsbrikette brand natuurlik makliker, maar hulle word in ’n bruinpapiersak binne-in die oorspronklike verpakking verpak.

Die gedagte is dat jy die bruinpapiersak aan die brand steek, maar dit sorg vir ’n klomp as wat die wêreld vol waai. As jy hulle in die eierhouer sit vóór jy dit aan die brand steek, is daar nie noemenswaardige as nie. Maar jy moet geduldig wees.

Plak hom, Pappie

Wat is dit? Dis ’n rol kleeflint of isolasieband wat jy draai om jou aansteker (soos die Bic wat ons gebruik het) . Sodoende hoef jy nie in die gereedskapskis of neuskas te gaan krap wanneer die nood druk nie, want jy kan hom maklik in jou broeksak raakvat.

Werk dit? Solank die kleefband nie te breed is vir die aansteker nie, is dit ’n heel gawe plan. Dit is altyd nuttig om so iets byderhand te hê, veral in die kampterrein.

Gaan was jou hande

Wat is dit? Jy kan een van daardie groot 20 l-waterkanne in ’n japtrap omskep in ’n plek waar jy en jou gesin julle hande kan was by die kampplek. Jy moet net die koekie seep en die papierrol byderhand hou, en die dae waarin jy die kinders moet smeek om hulle hande vóór ete te gaan was is iets van die verlede.

Werk dit? Absoluut. En as jy reeds een van die kanne het, is die stryd halfpad gewonne. Dan het jy net ’n stuk tou, ou broekiekouse en jou gunstelingseep nodig. Maak die kan vol water, maak die papierrol aan die bokant met tou vas, sit die seep in die sykous en knoop dit om die kraan se nek vas. Makliker kan dit nie.

Waterdigte vuurhoutjies

Wat is dit? ’n Mens is altyd meer op jou gemak as jy weet waar die vuurhoutjies is. Maar nat vuurhoutjies help net mooi niks in die kampplek nie. Met dié plan kan jy selfs met die vuurhoutjies in jou sak gaan swem en dan sommer dadelik daarna die kampvuur vir die aand gaan aansteek.

Werk dit? Ja. Hierdie klein plastiekhouertjies het ’n skroefdop wat die inhoud mooi kurkdroog hou. Plak die kant van die vuurhoutjieboks (of ’n stukkie fyn skuurpapier) aan die binnekant van die deksel en jy hoef nooit weer bekommerd te wees of jou vuurhoutjies die pyp gaan rook nie.

Kyk waar jy loop

Wat is dit? Sommige tenttoue is helderkleurig om te keer dat jy oor hulle val wanneer jy vroegoggend opstaan om te gaan wild kyk by die watergat. Daar is egter ’n maklike oplossing as jou tent se toue nie so sigbaar is nie: die getroue ou poelnoedel.

Werk dit? Die poelnoedel is eintlik heel veelsydig – soos jy later sal sien. Maar in dié geval sny jy bloot ’n stuk af, sny hom aan die een kant oop en glip hom oor die tenttou. Skuif hom af tot op grondvlak en jy gaan hard moet probeer om hom mis te kyk. Twee poelnoedels behoort genoeg te wees vir selfs die grootste tent. 

Brekfis in ’n bottel

Wat is dit? Hoekom die gevaar loop van eiers wat kan breek op pad na jou bestemming as jy eerder hierdie slim plan kan inspan? Gebruik bloot ’n leë waterbottel met ’n tuit en maak die lewe vir jouself (en die aarde) aansienlik makliker.

Werk dit? Wel, solank almal van roereier hou. Jy kan maklik 18 eiers in ’n 500 ml-bottel inpas, en dan is daar genoeg plek vir ’n bietjie melk en roomkaas ook. As jy meer as een bottel het, kan jy ook jou pannekoekbeslag by die huis al aanmaak. Onthou net om dit koel te hou.

’n Blik springmielies

Wat is dit? Dit maak nie saak watter blikkie jy gebruik nie; moet hom nie weggooi nadat jy jou skuimkop geniet het nie. Spoel die blikkie uit met water, gooi ’n teelepel kookolie en genoeg springmielies in om die boom te bedek, en sit die blikkie op die kole. Voor jy jou oë uitvee, het jy kraakvars en heerlike springmielies om aan te peusel.

Werk dit? Ja, dit is ’n lekker manier om die kinders te laat help om ’n peuselhappie te maak. Jy gaan egter moet help om die blikkie oop te sny, want die skerp kante kan gevaarlik wees vir die kleintjies.

Op die troon

Wat is dit? Wanneer jy in die middel van nêrens kamp, beteken dit nie noodwendig jy moet agter ’n bos gaan hurk nie. Met ’n emmer, poelnoedel, tou en ’n klein grafie kan jy vir jou ’n troon van formaat bou.

Werk dit? Sny ’n gleuf in die noedel en glip dit al in die rondte oor die lip van die emmer – maak seker jy sny die lengte presies reg. As die emmer nog sy handvatsel het, kan jy dit sommer gebruik om die witgoud skoon en droog te hou. Sny ’n gat in die boom van die emmer en plaas dit oor die gat wat jy in die grond gegrawe het. Voilà!

Gooi ’n vloermoer

Wat is dit? Daardie matjies in jou kind se kamer of by die kleuterskool wat so in mekaar steek, werk ewe goed as ’n isolerende vloer vir jou tent. Hou hulle dus eenkant as jou kind nie meer in hulle belang stel nie.

Werk dit? Jou grondseil beskerm dalk jou tent, maar as dit by gemak kom, beteken hy nie veel nie. En selfs al het jy nie kinders nie, is hierdie matjies goedkoop genoeg om suiwer vir jou kampdoeleindes aan te skaf. Probeer sover moontlik om jou tent op ’n gelyk oppervlak op te slaan, anders gaan die matjies nie behoorlik in mekaar steek nie. Dit sorg ook vir ’n isolerende laag om jou in die wintermaande warmer te laat slaap.

Hou die goggas weg

Wat is dit? Die teorie is dat ’n hand vol droë salieblare in die vuur die muskiete gaan weghou. Dit klink na ’n blink plan as jy om die kampvuur wil ontspan sonder dat die muskiete jou opvreet.

Werk dit? Ons kon nie betyds vir ons toets droë salie in die hande kry nie, maar die vars salie wat ons by Woolies gekoop het, het goed gewerk. Die muskiete het nie naby ons gekom nie. Laventel het glo dieselfde uitwerking op vlieë. En dan sorg die salie en laventel boonop vir ’n aangename geur om die vuur.

Veilig in die reën

Wat is dit? Daardie oranje pilvormige boksies waarmee jy die kragpunt in jou verlengkoord teen water beskerm, kan jou maklik tot R100 elk uit die sak jaag. Die antwoord lê in ’n leë roomysbak. En dan kan jy die geld wat jy gespaar het, gebruik vir nóg roomys .

Werk dit? Dit werk baie goed. Jy sny bloot twee gate weerskante van die bak waarin die koord pas, sit die kragpunt in die bak en sit die deksel op. Vir gemoedsrus kan jy kleeflint om die draad draai waar dit in die gate pas om dit meer reënbestand te maak.

Hang aan ’n tak

Wat is dit? Saam met jou kombuisgereedskap het jy net ’n ou belt en ’n boom naby aan die braaiplek nodig om jou eie buitelug-kookstasie in te rig.

Werk dit? Dit hang af van die vorm van jou lepels en eierspane: Van die nuwer modelle het gate in hulle handvatsels waardeur jy ’n haak kan sit en dit dan aan die gordel hang wat jy om die boom gesit het. As jou lepels ’n haakvorm aan die agterkant het, kan jy hulle net so hang. Dan is alles byderhand. Onthou net daarvan wanneer dit tyd is om huis toe te gaan!

Naglig

Wat is dit? ’n Groterige deursigtige (of effens melkerige)waterkan of -bottel vol water, met jou koplamp wat jy om dit vasmaak en die lig na binne laat skyn.

Werk dit? Dit werk, maar net in ’n klein omgewing soos jou tent. Julle gaan nie op só ’n lig kan staatmaak om tuinkrieket te speel wanneer die son gesak het nie. Die helderheid hang ook af van hoe deursigtig die bottel is. ’n Deurskynende Coke- bottel skyn byvoorbeeld helderder as iets soos ’n Tropica-bottel.

Jou daaglikse speserye

Wat is dit? ’n Pilhouer wat in afsondelike kassies vir elke dag se gebruik verdeel is, is ’n goeie alternatief as jy nie jou volledige stel Ina Paarman- of Robertson-speserye met jou wil saampiekel nie.

Werk dit? Beslis, veral as jy nie die wêreld se plek het nie. Onthou egter om die speserye op die pilhouer te merk – gebruik sommer maskeerband en skryf daarop neer wat is wat. Jy wil nie per ongeluk die paprika met die peri-peri verwar nie