Meer as die helfte van ons reis was in ’n Toyota Land Cruiser deur Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi en Tanzanië.

Ons voertuig het ’n kluis onder die sentrale konsole gehad. Dit was ’n fantastiese wegsteekplek, want jy kon glad nie sien dis daar nie. Ons het al ons dokumente in dié kluis gestoor.

Ons het egter nie al ons eiers in een mandjie gedra nie. Ek het ’n geldbelt, wat nes ’n gewone leerbelt lyk, aan my gedra met al ons kontant daarin. Ons het ook altyd ’n deel kontant in ons beursies gehou.

Verder het ons sowat vier bankkaarte gehad, maar het hulle altyd in aparte plekke gestoor – die kluis, beursies en tussen bagasie weggesteek.

Die Cruiser se spaarsleutel was in ’n magnetiese boks onder ’n rak agterin die aluminiumkap weggesteek.

’n Gesin van vyf reis ook met ’n aardige hoeveelheid elektronika, van selfone tot skootrekenaars en ’n hele paar tablet-rekenaars en kameras. Dié soort goed word maklik gesteel, daarom het Mauro-hulle streng reëls gehad rondom elektroniese toerusting: Die meeste elektronika was te groot vir die kluis, dus het ons dit in ’n boks onder die Cruiser se kappie toegesluit. Die boks moes altyd op ’n maklik bereikbare plek toegesluit wees sodat ons dit kon uithaal as ons vir die aand in ’n chalet slaap. En ons het nóóit ons duur SLR-kamera in die voertuig gelos nie.

Al was die kanse skraal dat ons dokumente uit die kluis gesteel kon word, het ons ook papierafskrifte van alles in die kluis gehad.

Verder het ek al ons dokumente geskandeer en op die internet gebêre. Ek het Google Drive gebruik, maar iets soos Dropbox sal ook werk. Behalwe die gewone goed soos paspoorte, voertuigpapiere, visums en akkommodasie het ons hoë-kwaliteit paspoortfoto’s gebêre. Ons sou foto’s vir nuwe paspoort daarmee kon druk indien nodig.

Die visums en besprekings wat ons tydens die toer gekry het, het ek en my vrou, Edwina, met selfone afgeneem. Ons fone was dan só gestel dat alle nuwe foto’s outomaties na Google Drive sou oplaai wanneer ons in ’n WiFi-omgewing was.

Nie almal sien dit as waardevolle items nie, maar ek sal eerder van my geld beroof word as om al ons reisfoto’s te verloor. Want dit kry ’n mens nóóit terug nie en daarom het ek ekstra geheue op Google Drive gekoop en ’n skootrekenaar sowel as ’n draagbare hardeskyf saamgeneem om gereeld ’n rugsteunkopie van alle reisfoto’s en -video’s te maak.

Ons het ’n ‘grypdiefbeursie’ in die voertuig gehou, met kredietkaarte wat al verval het en ’n bietjie kontant. Ek sou dit by my dra of êrens in die voertuig los, waar ek dit sou kon aanbied as ’n boef daarop aandring. Ons het dit nooit nodig gehad nie, maar dis goed om te hê.