Laasmaand het ek gesels oor hoe belangrik dit is om enige installasies aan jou 4x4-voertuig korrek te doen, veral wat die bedrading betref. Uit ’n veiligheids- en betroubaarheidsoogpunt maak dit net sin. Een van die belangrikste toevoegings tot ’n veldryer is die installering van ’n ys-vrieskas, omdat vars vleis en ’n koue bier of glas wyn hoog op die lys is van dinge wat vir ’n aangename reis sorg.

Heelwat 4x4-voertuie rol van die fabrieksvloer af met ’n kragpunt agter in die bagasieruim, en mense vra my gereeld hoekom ’n mens nie net die ys-vrieskas dáár kan inprop nie.

Daar is twee fundamentele probleme met dié voorstel. Eerstens word die elektrisiteit by dié kragpunt deur jou ryding se hoofbattery voorsien. As jy dus die ys-vrieskas aanskakel terwyl die voertuig afgeskakel is, loop jy die gevaar dat jou voertuig se battery afloop en dit kan jou hoog en droog in die middel van nêrens laat. Dit is hoekom soveel veldrygeesdriftiges ’n tweede battery en ’n dubbelbatterystelsel laat aanbring. Sodoende maak jy doodseker jou ys-vrieskas kry sy krag by die toegewyde tweede battery wat onafhanklik van jou ryding se hoofbattery werk.

Die tweede rede hoekom dit nie ’n goeie idee is om jou ys-vrieskas by die bestaande kragpunt in te prop nie, is effens meer gekompliseerd – en moontlik belangriker. Dit gaan oor die dikte en lengte van die bedrading wat die voertuigvervaardigers gebruik wanneer hulle hierdie kragpunte installeer.

Die dikte van die elektriese bedrading hou verband met die koperkern en word in vierkante millimeter (mm²) gemeet. Bedrading met ’n koperkerndeursnee van 4,5 mm het ’n dikte van ongeveer 16 mm², en staan dus bekend as 16 mm-draad. Die kragpunte wat deur die vervaardiger in die fabriek aangebring word, het gewoonlik bedrading met ’n dikte van 1,5 mm².

Wanneer jy egter jou ys-vrieskas by die kragpunt inprop, sal jy sien die spanning neem af.

As jy stroomspanning op dié bedrading toets, kry jy gewoonlik ’n lesing van 12-13 V. Wanneer jy egter jou ys-vrieskas by die kragpunt inprop, sal jy sien die spanning neem af weens ’n kombinasie van die dun bedrading en die afstand tussen die kragpunt en die battery as kragbron.

Kom ons kyk na ’n tipiese voorbeeld. Die kragpunt agter in ’n sportnutsvoertuig se bagasieruim is sowat 7 m van die battery af en die dikte van die bedrading is 1,5 mm². Sodra jy die yskas inprop, trek dit ’n stroom tot 4,5 A wanneer jy dit aanskakel. Die afname in stroomspanning word uitgewerk teen ongeveer 6% of sowat 0,75 V vir 1,5 mm²-bedrading teen 7 m. Dit beteken die spanning het gedaal tot 11,25 V.

Heelwat moderne ys-vrieskaste het ’n bekermingseenheid wat hulle laat afskakel teen ’n lae stroomspanning om permanente skade te voorkom. ’n Ironman-4x4-yskas sny byvoorbeeld teen 11,7 V uit op die hoë verstelling. Deur bloot die bedrading te verander – in dié geval na ’n dikte van 6 mm² – word die afname uitgewerk op ongeveer 1,5% of net 0,18 V. Dit beteken die stroom is steeds op 11,82 V, en dit is dus heeltemal veilig vir jou ys-vrieskas.

Peter Slement, ’n kenner op die gebied en die eienaar van National Luna, vergelyk dit met tuinmaak. Hy sê as jy dun bedrading gebruik is dit net soos om jou tuin met ’n dun tuinslang nat te lei. Dit maak nie saak hóé groot jy die kraan oopdraai nie; die dun tuinslang keer die vloei van die water en dus kan die sproeier nie tot sy volle reg kom nie. ’n Tuinslang met ’n groter deursnee wat aan dieselfde kraan gekoppel is, sorg vir meer vloei en jou tuin is in ’n japtrap nat.

Peter slaan myns insiens die spyker op die kop!