Daar is min dinge so irriterend op toer as batterye wat êrens in die kar of ’n ammoboks lê en rondrol. Die Ry & Sleep-leser John Bacon het ’n paar jaar gelede hierdie oplossing gestuur. 

Dit was altyd ’n probleem om ’n plek te kry om ekstra batterye te bêre as ek vir ’n naweek weggaan. Dit het dikwels in ’n kantsak rondgerol saam met my sokkies en onderklere.

As ek later die batterye omgeruil het, was dit nie altyd duidelik watter pap en watter nog gelaai is nie.

Ek het gesien batterye pas goed in ’n plastiekpilhouertjie – hou die ronde sponsie onderin die houer en sit nog ’n sponsie tussen die batterye. Die spulletjie sit nou lekker stewig.

Ek bêre die pap batterye met hulle negatiewe pool na bo. Verder merk ek die houers met batterye met ’n groot B.

Nou weet ek watter batterye het nog skop en ek drink nie per ongeluk een vir hoofpyn nie...