Toerusting: Wildrit

1.My First Book of…

Dis bittermoeilik vir kleintjies om die doel van ’n wildrit te verstaan: Sit stil op die agterste sitplek en kyk by die venster uit... “Hoekom, Ma, en hoe lank? Ek sien dan niks nie?”

Kry ’n paar van dié boeke en hou vir Hanna hêppie. Toe ons onlangs in die Addo-olifant- nasionale park was, was my driejarige mal daaroor om al die voëls wat hy sien af te merk en hy het opgewonde vertel watter spesies ander voëls se kuikens eet.

Al die boeke in die reeks het mooi groot illustrasies van die diere en eenvoudige prentjies wat goed soos die dieet, habitat en lewensiklus verduidelik.

Jy maak straks ’n ywerige voëlkyker groot...

Vanaf R83 by takealot.com (daar is 12 boeke in die reeks)

2.A4-notaboek

Maak ’n lysie van die diere wat julle sien in dié A4-spiraal-notaboek met sy 120 blaaie. Of krabbel terwyl jy in ’n skuiling sit en wag of droom oor toekomstige reise met die kaart op die buiteblad...

R70 by Typo-winkels

3.Bush Bag

As jy ’n telefotolens gebruik, is die sleutel tot ’n skerp foto om jou kamera stabiel te hou. ’n Driepoot in die motor werk nie, en dis waar dié outjie inkom.

Die onderkant het kontoere met maasafwerkings en dit rus op die kardeur sodat jy jou kamera daarop kan sit. (Daar is ’n verstelbare strop om jou kamera in plek te hou.) Dié sak is gemaak van duursame seil.

R620 by ormsdirect.co.za

4.Newman’s Birds of Southern Africa

Baie voëlkyk-apps is ’n pyn om te gebruik, veral as die app-ontwerper probeer het om ’n papiergids in ’n digitale formaat oor te plak. Dis nie die geval met Newman’s nie, wat ’n maklike koppelvlak en ’n logiese navigasiestelsel bied.

Dis ook nie net ’n kwessie van mooi van buite nie: Elkeen van die 975 voëls wat al in Suider-Afrika aangeteken is, word beskryf. Dit het 1 300 illustrasies en meer as 1 000 foto’s en jy kan na die roepgeluide van honderde spesies luister. Die app het ook slim maniere om jou soektog te fokus volgens streek, fisieke eienskappe of naam. Dis ook goedkoper as sy mededingers.

R290 by die Apple App Store of die Google Play-winkel

5.Weg Stories-podcast

Ons het al almal só ’n dag in ’n wildreservaat gehad: Die sonbesies skree, die eindelose mopanieveld rol verby, en daar is nie eens ’n rooibokkie in sig nie. Of dalk sit julle al ure lank by die watergat en die verveling is groot. Ons nuwe podcasts sal jonk én oud vermaak.

Die podcast het rubrieke uit ons argief, gewoonlik gelees deur die skrywer. Daar is op die oomblik 28 episodes, met nuwes wat gereeld uitgereik word. Die stories is snaaks en dikwels nogal aangrypend, en almal Suid-Afrikaans.

En dis gratis! Soek vir “Weg Stories” op enige podcast-webblad of -app. Luister daarna sommer na “Op reis met Weg,” ons nuutste podcast oor wat agter die skerms by ’n reistydskrif gebeur.

Toerusting: Wildrit

6. Atlasware-tweeliterfles

Ons het deur die jare al heelwat flesse getoets en Atlasware is altyd ’n wenner as dit by die temperatuurbehoudtoets kom. Dit maak nie saak of jy jou koffie warm of jou jenewer koud wil hou nie – dié fles werk.

Dié tweeliter-weergawe is die grootste in die reeks en ideaal vir ’n Kombi vol koffiedrinkers. Dis gemaak van vlekvrye staal en het ’n lewenslange waarborg teen fabrieksfoute. As die deksel of die seël binne-in die deksel ’n bietjie afgeleef raak, kan jy al twee teen ’n geringe koste vervang.

R900 by trappers.co.za

7. Garmin Dash Cam 55

Die meeste mense gebruik dié kameras vir veiligheids- en versekeringredes, maar hoekom nie op ’n wildrit ook nie? Amper almal van ons het al ’n dieredrama in die pad gesien afspeel en gewens ons was vinnig genoeg om ’n foto of video-materiaal te kry. Of dalk sien jy iemand wat vreemd optree of te vinnig ry, maar jy het nie bewyse om hulle by die owerhede aan te gee nie.

Hiermee sal jy nooit iets misloop nie. Dit neem deurlopend video teen 1 440 p HD, met GPS-data, en jy kan ’n foto of videosnit in ’n legger berg bloot deur “Oukei Garmin” te sê.

Nog ’n slim funksie word Travelapse genoem. Dit neem met gereelde tussenposes foto’s en stik daai foto’s dan saam om ’n hoëspoedvideo van jou road trip te maak. Al jou foto’s en video’s word na jou selfoon oorgeplaas deur middel van ingeboude Wi-Fi en die Garmin VIRB- mobiele app.

R2 649 by navworld.co.za

8. Nikon Monarch 5 8 x 42-verkyker

As jy ’n paar motors sien stilhou om na diere te kyk, is daar waarskynlik minstens een Nikon Monarch wat by ’n venster uitloer. Daar is geen ander verkyker op die mark wat dieselfde gehalte vir die prys bied nie. Die Monarch 5 is dalk die intreevlak-aanbod, maar die lense is helder en duidelik, die verkyker het ’n rubberige huls en hy sal nie vol water raak of toewasem as jy in ’n reënbui beland nie.

Die 8x-vergroting is goed vir voëlkykers – jy kry ’n mooi, breë sigveld wat dit makliker maak om die voël waarna jy kyk te vind as jy die verkyker tot voor jou oë lig. (Die “42” verwys na die deursnee van die objektiewe lens, gemeet in millimeter. Hoe groter die getal, hoe breër die lens – en hoe meer lig stroom die verkyker binne.)

Die 10 x 42-model is net effens duurder, indien jy ’n bietjie meer vergroting verkies.

R6 195 by outdoorphoto.co.za

9. Sigma Contemporary- 150-600 mm-lens

Hierdie zoemlens vir D-SLR-kameras het ’n ongelooflike omvang en ’n selfs meer ongelooflike prys, veral wanneer dit vergelyk word met professionele lense van maatskappye soos Nikon en Canon.

Dit sal die wêreld van wild- en voëlfotografie vir entoesiastiese amateurs ontsluit. Die uitstekende beeldstabiliteit verhoed kameraskud en jy kan die zoemlens op enige fokuslengte sluit om lenskruip te verhoed.

Daar is ook ’n handverstelskakel om die fokus self skerp in te stel.

Dis ’n kwessie van gee en neem en die zoemlens beïnvloed die verskillende lensopeninge. Teen volle zoem is die wydste lensopening wat jy kan gebruik, “net” f6.3.

Afhangend van jou kamera, kan dit dalk die lens se vermoë met vroegoggend- of laatmiddag-skemer beperk. (Onthou altyd, met so ’n lang lens moet jy ’n baie vinnige sluiterspoed gebruik om ’n mooi skerp foto te neem, wat beteken jy sal ook ’n baie hoë ISO moet gebruik.)

As jy egter meestal in helder toestande foto’s neem, sal die gehalte van jou foto’s jou verstom. Stuur jou beste foto vir ons en ons gebruik dit dalk in “Mense se lense”!

R13 495 by ormsdirect.co.za

10. Römer 45 liter-koelboks

Daar’s min dinge so lekker as om ná ’n bosveldwildrit op ’n bakkie se agterklap te sit en ’n skemerkelkie te drink.

Nes die Atlasware-fles vaar hierdie bombestande Suid-Afrikaanse koelboks altyd goed in ons toetse. Die een wat ons getoets het, het ys ’n week lank bevrore gehou! Dis so sterk dat jy ’n Land Rover daarop kan parkeer (kyk die video by romercoolerboxes.co.za), die touhandvatsels en rubberknippe is rateltaai en jy kan dit vasbind en steeds die deksel oopmaak. Dis die laaste koelboks wat jy ooit sal koop.

Die 45 l is groot genoeg om saam te vat op ’n daguitstappie na ’n wildreservaat; jy kan pak vir ontbyt en middagete by verskillende piekniekplekke. Plus drankies en ys.

Dis hoër eerder as plat, wat beteken jy kan ’n 2,25 liter-koeldrankbottel binne-in laat regop staan. Daar’s selfs ’n botteloopmaker in die deksel. Netjies!

R1 800 by takealot.com

11. Volcano-skottelpan

’n Piekniekontbyt ná ’n vroegoggendwildrit is ’n Suid-Afrikaanse instelling en die meeste mense het ’n skottel hiervoor.

Ons gaan nie ’n skottel kritiseer nie, maar as jy moeg is daarvoor dat alles in die middel opdam of om verbrande spek onder ’n koue kraan te staan en afkrap, oorweeg gerus dié alternatief.

Die Volcano is ’n breë, plat pan wat op sy beste werk op gas. Dis gemaak van geanodiseerde aluminium en bedek met Teflon.

Dis kinderspeletjies om eiers om te dop – én om die pan agterna te was. Danksy sy vorm vat hy minder plek in jou kattebak as ’n gewone skottel, al doen dit dieselfde. Sorg mooi daarvoor en dit sal jou jare diens gee.

R670 by takealot.com; R225 vir die drasak (ons beveel dit aan)