AVONTUURLUSTIGE PAARTJIE

Hierdie items is klein en weeg byna niks – net die ding vir verliefdes wat daarvan hou om in die berg te stap en kamp.

K-Way Nerolite-driemantent

Die Nerolite is ’n vaartbelynde tent wat ’n windstorm langs die Weskus én woeste reën in die Drakensberg sal oorleef. Die tentnaam is egter misleidend – dis meer geskik vir ’n paartjie. (Die tweemanweergawe, wat ’n kilogram minder weeg, is ’n goeie enkeltent.)

Die grondseil en boseil is van taai, skeurbestande nylon, en daar is ’n redelike voorportaaltjie vir stewels en rugsakke. As jy iewers warm en droog is, los die boseil by die huis en slaap in ’n maaskokon wat vars lug deurlaat.

Gewig wanneer ingepak 3 kg

Afmetings 210 cm (l) x 130 cm (b) x 100 cm (h), ’n 100 cm-voorportaal

R2 800 by capeunionmart.co.za

Klymit Inertia X-frame-opblaasmatrassie

Dis een van die ligste kampmatrassies beskikbaar. Dit weeg soveel soos ’n halwe blok botter en is so groot soos ’n Coke-blikkie as jy dit oprol. Dit vra net ’n paar asemteue om hom op te blaas en die ontwerp bied goeie ondersteuning vir jou kop, skouers en heupe, met uitgesnyde dele op ander plekke om gewig te spaar. Dié oop stukke gee jou slaapsak die kans om onder jou op te pof, pleks van platgedruk te word – wat beteken hy kan jou warm hou.

Dit lyk dalk ’n bietjie vreemd, maar is heel gemaklik. Ondanks die weggesnyde dele raak geen deel van jou lyf aan die grond nie en jy kry ’n handpompie by as jy die matras nog fermer wil hê.

Gewig wanneer ingepak 260 g

Afmetings 198 cm (l) x 46 cm (b)

R1 300 by capeunionmart.co.za

Pack-kussing

Geen opblaaskussing wat ek al probeer het, was goed vir my nek nie. Hierdie is ’n goeie, bekostigbare alternatief. Dis basies net ’n kussingsloop van mikrovesel waarin jy klere prop.

Ek het dit met ’n K-Way-donsbaadjie getoets en dit was net so gemaklik soos my kussing by die huis. En dit het so te sê niks plek in my rugsak opgeneem nie.

Afmetings 50 cm (l) x 33 cm (w)

R155 by takealot.com

First Ascent Amplify 900-slaapsak

Hierdie is First Ascent se ligste en kleinste slaapsak, wat net minder as ’n kilogram weeg. Sy gemaksgradering is 7 ºC en hy is dus nie die slaapsak vir wanneer jy na Everest se basiskamp toe stap nie, maar dis ideaal vir stapavonture in die somer.

As jy die sak in kouer toestande wil gebruik, koop ’n Thermolite-verhittingsvoering teen R750, ook van First Ascent.Dié voering voeg nog 15 ºC by die slaapsak se temperatuurgradering sodat dit tot goed onder die vriespunt sal werk.

Die Amplify-tegnologie het elastiese stiksels rondom die heupe en bene, wat sorg vir minder lugholtes en baie beter isolasie.

Gewig wanneer ingepak 975 g

R1 500 by firstascent.co.za 


BEGINNER-GESINSTOERUSTING

Kinders is mal daaroor om te kamp – feit! En jy het nie veel nodig vir ’n lekker naweek weg nie.

Camp Master Instant 600-tent

Dié tent is groot, goedkoop en eenvoudig om te gebruik. Die ontwerp is soortgelyk aan dié van ’n gazebo: Die opvoupale is reeds waar hulle moet wees – jy stap net om die tent, klik hulle vas op hulle plek, span die boseil oor, en slaan ’n paar tentpenne in. Jy kan minder as 10 minute later wegspring met die braaivleisvuur.

Dit sal nie te goed vaar in sterk wind of swaar reën nie, maar is ideaal vir gesinsavonture en daai verpligte skoolkampuitstappie. Camp Master sê dis ’n tent met “slaapplek vir 6,” maar dis as julle sardientjies is. ’n Gesin van vier sal gerieflik daarin kamp. (Daar is ook ’n Instant 1000 met “slaapplek vir 10” vir ’n groter gesin.)

Gewig wanneer ingepak 11 kg

Afmetings 305 cm (l) x 274 cm (b) x 183 cm (h)

R2 000 by Makro

Intext Durabeam- koningingrootte matras

Die nuutste Intex-lugbeddens is versterk aan die binnekant met duisende sterk, ligte vesels wat by jou lyf se vorm aanpas en beter fermheid en ondersteuning bied.

Hierdie tegnologie maak dit ook moontlik om op die rand van die bed te sit, sonder om te voel asof jy op ’n springkasteel sit wat ineenstort.

Die basismateriaal is dik en voel duursaam. Maar pasop vir dorings en ander skerp goed – soos met enige lugmatras. Om dit met ’n handpomp op te pomp neem minstens tien minute en dis harde werk; ons beveel aan dat jy die 12 V-Intex-pomp (R250) of ’n kompressor gebruik.

Gewig wanneer ingepak 4 kg

Maksimum-dravermoë 272 kg

Afmetings 203 cm (l) x 152 cm (b) x 25 cm (h)

R450 by capeunionmart.co.za

K-Way Kids Adventurer-slaapsak

Dié oulike poliësterslaapsak het ’n sagter voering van holvesel. Hy raak smaller na die voete toe en het ’n kappie, en ’n gradering van tot 15 ºC – goed vir kamp in die somer.

En teen 170 cm lank behoort dit ’n paar jaar te wees voordat Frikkie te lank is vir hom.

R350 by capeunionmart.co.za

Ticket to the Moon-hangmat

Hoe klink ’n middagslapie in ’n hangmat tussen twee bome langs ’n rivier?

Hierdie is die oorspronklike en beste valskermhangmat en ’n mens kry drie groottes: enkel, dubbel en koning. Hang hom op en kyk hoe die kinders speel. Luilekker.

Let wel: Dit het nie stroppe om dit om ’n boomtak of stoeppilaar vas te maak nie. Jy sal iets uit tou moet prakseer of ’n stel koop, soos die First Ascent Hammock Harness (R250).

Gewig wanneer ingepak (enkel): 470 g

Afmetings (enkel) 320 cm (l) x 155 cm (b)

Vanaf R650 by trappers.co.za


DIE VOLGENDE VLAK

Raak julle ernstig oor kamp? Gee ’n bietjie meer geld op gehalte-toerusting vir gewaarborgde gemak.

Tentco Junior Safari Bow-tent

’n Seildoektent is dalk swaarder en meer bonkig as ’n nylontent, maar dis meer duursaam, bied meer isolasie, is donker binne en maklik om reg te maak as dit skeur. Pas dit op en dit behoort vir ewig te hou.

’n Mens kan die gehalte voel as jy dié koepeltent opslaan: Die grondseil is dik en die pale is van trekvaste staal. Die Junior het teoreties plek vir vier mense, maar dis beter vir ’n paartjie wat kampweelde soek. (Oorweeg die Tentco Senior Safari as jy meer plek soek.)

Die boseil is ’n bonus; dit maak ’n netjiese sonskerm bo-oor die deur vir nog skaduwee.

Gewig wanneer ingepak (tent en raam) 24 kg

Afmetings 250 cm (l) x 250 cm (w) x 180 cm (h)

R4 350 by campandclimb.co.za

Carma Quip-selfopblaasmatras

Ons het dié wonderlike Suid-Afrikaanse produk getoets in die taaiste toestande waaraan jy kan dink, en dit het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Die matras is van digte skuimrubber wat vol lug word as jy dit ooprol – amper soos ’n spons. Anders as ’n gewone lugmatras, is dit onmoontlik om ’n gaatjie in dié een te kry. Dit werk op sy beste saam met ’n basis soos die OzTrail-kampbed wat ons hiernaas bespreek. Carma Quip verkoop ook ’n draagbare basis van houtplankies – dis meer ingewikkeld om op te slaan as ’n kampbed, maar die belegging werd (R1 850).

Die matras is beskikbaar in drie groottes en ’n mens kry stewige kompressiestroppe en ’n drasak by.

Gewig wanneer ingepak (middelslag) 3,5 kg

Afmetings (middelslag) 195 cm (l) x 65 cm (b) x 6 cm (h)

Vanaf R950 by carmaquip.co.za

OzTrail Easy Fold-kampbed

Om jou matras van die grond af te lig het heelwat voordele: Jy voel nie die hobbels en ongelykheid onder jou nie, jy is beter geïsoleer teen die koue, jy kan goed onder jou bêre én dit is ’n lekker sitplek in die tent.

Hierdie kampbed doen wat sy naam belowe – dit vat minder as 20 sekondes om hom oop te vou. Die materiaal-oppervlak is styfgespan en daar is nie irriterende dwarslatte by die kop of voetenent nie.

Dis net so maklik om hom op te pak: Vou die bene plat, vou die hele ding in die helfte en sit hom in sy drasak.

Gewig wanneer ingepak 11 kg

Afmetings 200 cm (l) x 80 cm (b) x 42 cm (h)

Maksimum-dravermoë 150 kg

R1 500 by takealot.com

Meerkat Gravity-stoel

Pluk dié outjie uit by Mahai en almal in die kampterrein sal groen wees van jaloesie. Die sitplek hang aan rek en dis belaglik gemaklik. Maar dis net die begin: Die Meerkat se geheime wapen is hoe dit kan terugslaan tot in ’n agteroorposisie. Daar’s hy nou waar hy wil wees!

Dit vou plat op, maar is steeds bonkig om te vervoer. As jy egter ’n sleepwa het, is daar nie ’n beter kampstoel vir jou agterent nie. En dit werk net so goed langs die swembad as in die kampterrein...

Gewig wanneer ingepak 8,7 kg

Maksimum-dravermoë 150 kg R1 020 by takealot.com