foto’s Kyle Kock

Die maatskappy het in 1991 sy deure geopen en aanvanklik sagte koelsakke in hulle klein fabriek in Maitland vervaardig.

Die Camp Cover-reeks soos ons hom vandag ken, het 20 jaar gelede die lig gesien en het dié familie-onderneming in staat gestel om sy groter fabriek van 2 000 m² in Blackheath te bekom. Vandag het hulle nie minder nie as 80 mense in diens. Die fabriek lewer gemiddeld 150-350 sakke per dag, afhangend van die item.

Wanneer iets soos ’n gewone inkopiesak vervaardig word, kan tot 1 200 per dag geproduseer word, maar met ’n meer komplekse item lewer die fabriek 60 produkte per dag.

Die fabriek is aanpasbaar by markomstandighede en kan vinnig van koers verander. Gestel ’n produk vaar nie besonder goed op die winkelrak nie, kan hulle die fokus verskuif, ’n nuwe item ontwikkel en dit binne twee maande op die rak hê. Dit gee hulle ’n groot voordeel bo handelsname uit die Verre-Ooste, wat elke ses maande groot vraghouers vol generiese items na Suid-Afrika verskeep.

Buiten die Camp Cover-reeks vervaardig die fabriek ook promosie- en korporatiewe items. Dié deel van die onderneming is nie net gemik op groter klante wat reusebestellings plaas nie, maar ook op Jan Alleman wat op soek is na verpersoonlikte items vir eie gebruik.

Selfs in vandag se moeilike ekonomiese klimaat kon Camp Cover daarin slaag om hulle volumes te verhoog. Dit is grootliks te danke aan hulle teenwoordigheid by buitelugskoue waar hulle direk met voornemende en huidige klante gesels. Hulle is gretig om na voorstelle te luister en het al ná gesprekke met mense wat hulle produkte elke dag gebruik, veranderinge aangebring.

Die Camp Cover-reeks bestaan op die oomblik uit 170 verskillende sakke, maar hulle probeer om minstens twee maal per jaar nuwe produkte te ontwikkel. Van hulle mees onlangse toevoegings sluit in sakke vir jaggewere en produkte wat gemik is op die groeiende fietsrymark in Suid-Afrika.

Camp Cover het ook begin om sy produkte na Australië en Europa uit te voer en dit wil voorkom of verbruikers daar ’n waardering vir Suid-Afrikaanse gehalte het. Soos dinge nou staan, gaan Camp Cover heel waarskynlik binne die volgende twee jaar meer as 200 verskillende sakke in hulle reeks hê.

Is alles hier?

Nadat die kantoor die bestelling ontvang het, word die voorraad rou materiaal nagegaan om te sien of dit voldoende is en of bykomende materiaal aangekoop moet word om die bestelling te voltooi. Daar is verskillende soorte materiaal om van te kies, waaronder skeurvrye seil, netmateriaal, katoensoorte en poliëster.

Daar is altesame sowat 30 soorte en hulle word in rolle van 500 m aangekoop. Dan moet dinge soos die ritssluiters en ander passtukke ook verkry word. Van hier af word ’n werkkaart geskep en die bestelling word na die fabrieksvloer gestuur.

Meet en pas

Van hier af word die rolle materiaal na die snykamer gestuur. Die werkkaart bevat ’n snylys en die personeel in die snykamer weet presies hoeveel lae materiaal hulle onder die guillotine moet sit.

Dié masjien word net vir die reguit kante gebruik; enigiets met ’n meer gedetailleerde profiel word met die hand gesny (met ’n skêr). Daar is ook spesifieke patrone wat gevolg word om seker te maak die vorm van die materiaal is reg. Die materiaal op die rol word in seksies verdeel om seker te maak vermorsing word tot die minimum beperk. 

’n Goeie naam

Volgende word die logo-en-handelsnaam op die materiaal aangebring. Dit word met ’n tipiese skermdrukopset gedoen met verskillende kleure wat met ink op die materiaal gedruk word. Hier is ook borduurmasjiene wat elk tot 12 kleure in ’n enkele ontwerp kan stik.

Deur die oog van ’n naald

Wanneer al die voorbereiding afgehandel is, word die materiaal na die stiksters gestuur om die finale produk aanmekaar te werk. In die vertrek is die muur oortrek met voorbeelde van die produkte om hulle te help om die sak op presies die regte manier te stik.

Elke stikster stik net ’n spesifieke deel van die sak en gee dit dan aan vir die volgende een vir die volgende stap. Hoe nader die sak aan die voorste ry stiksters beweeg, hoe ingewikkelder raak die stikwerk, met die heel voorstes wat dinge soos handvatsels en kantsakkies vasstik.

Gehaltebeheer

Wanneer die sak klaar gestik is, word dit na die skoonmaaktafel gestuur waar oortollige gare en merkplekke verwyder word. Die personeel gaan die produkte ’n laaste keer na en maak onder meer seker die ritssluiter werk behoorlik. Veral koelsakke word met ’n valkoog nagegaan.

Die binnevoering kan nie gestik word nie omdat die sak dan sal lek; dus word ’n spesiale soort sweismasjien gebruik om die nate te heg. Sodoende bly alles droog aan die buitekant van die sak.

Winkelrak toe

Wanneer die produk volledig vervaardig en nagegaan is, word dit verpak en geberg na gelang van die bestelling. Voubiljette word by elke sak ingesluit met vertoonstrokies in die verpakking, wat beteken die produkte is met die versending daarvan na kleinhandelaars gereed om nét so op die winkelrak geplaas te word