Foto’s James Garaghty

Gewoonlik koop ’n mens vir jou een van twee soorte kampstoele: Óf dis ’n goedkoop model wat jy elke jaar of twee moet vervang óf jy kry ’n ordentlike een wat jou ’n leeftyd kan hou as jy mooi na hom omsien. Ons glo in laasgenoemde benadering, en hoewel sommige van dié stoele jou nie ’n plaas se prys gaan kos nie, skort daar niks met hulle gehalte nie.

OZTRAIL REGAL-KAMPSTOEL

Pak maar in

Hierdie is ’n stoel vir iemand wat daarvan hou om te alle tye alles by hulle te hê. Hy word van trekvaste staal gemaak en kan ’n swaar gewig trotseer. Hy het ook plek vir jou tydskrif in die rugleuning, die grootste drankiehouer wat ons nog gesien het (in die regterarmstut – daar’s plek vir twee blikkies), ’n geïsoleerde sakkie links en ’n sak met nóg bêreplek in die ander armstut.

Prys: R750 by Takealot.

Dragewig: 200 kg

Ry & Sleep sê
Hy het ook ’n botteloopmaker op die raam. Gesondheid!

BUSHTEC- ULTRALIGTE SPINNEKOPSTOEL

Lig soos ’n veer

Hy word nie verniet ultralig genoem nie, maar omdat die raamwerk met poeierverf behandel is, beteken dit hy is ook duursaam en sterk. Omdat hy so min weeg, kon Bushtec ordentlike stoffering aanbring, wat beteken jy sit bitterlik gemaklik.

Prys: R1 100 by Loot.

Dragewig: 150 kg

Ry & Sleep sê
Dis ’n volgrootte stoel wat net 3,2 kg weeg.

IRONMAN 4x4 DELUXE-KAMPSTOEL

Eenvoudig en maklik

Sy kleure is sag op die oog, hy sit gemaklik en hy het ’n drankiehouer en bêreplek by die regterkantse armstut. Boonop het hy ’n klein reghoekige koelhouertjie in die linkerarmstut, kompleet met ’n ritssluiter.

Prys: R895 by 1st Outdoor & 4x4.

Dragewig: 150 kg.

Ry & Sleep sê
Daardie koelhourtjie kom heel handig te pas wanneer jy probeer keer dat jou sjokolade smelt.

NATURAL INSTINCTS-AVONTUURSTOEL

‘Oral om, om my heen, is dit blou...’

Dit is ’n eenvoudige spinnekopstoel met opgestopte panele in ’n skeurvrye materiaal. Hierdie een het egter plek vir jou foon in die linkerarmstut, wat beteken jy weet altyd waar jou foon is.

Prys: R600 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 120 kg

Ry & Sleep sê
Goedkoop en gaaf.
 

OZTRAIL GALAXY 3-RUSBANK

Langs mekaar

Jy kan nie julle rusbank van die huis af saam karwei wanneer julle gaan kamp nie, maar hier is die oplossing as Ma, Pa en Boetie verkies om altyd langs mekaar op dieselfde bank te sit. Dit is basies drie spinnekopstoele wat aan mekaar vas is, en hoewel hy nie juis lig is nie, is hy danksy die staalraam wat met poeierverf behandel is, lekker sterk.

Prys: R1 795 by Camp & Climb.

Dragewig: 330 kg (110 kg per sitplek)

Ry & Sleep sê
Jy kan ook ’n bank met sitplek vir twee koop vir R1 295.

AFRITRAIL-RYSTOEL

Heen-en-weer

In dié stoel kan jy jou behoorlik tuismaak wanneer dit tyd is om ’n uiltjie te knip. Die materiaal is van jou rug tot jou bene met rektou aan die raam vasgemaak, wat sorg vir hope gemak.

Prys: R930 by Takealot.

Dragewig: 150 kg

Ry & Sleep sê
Hy het selfs ’n ingeboude kussing om jou nek te stut wanneer jou ooglede swaar raak.

OZTRAIL COOLUM 5

Oupa se TV-stoel

Hierdie stoel het gleuwe in sy armstutte waarin pennetjies glip. Hoe verder terug hulle is, hoe verder sak die rugleuning. En dis ’n goeie ding, want met sy dik en gemaklike vulstof is dié meneer amper net so gemaklik soos jou gunstelingleunstoel by die huis.

Prys: R1 295 by Camp & Climb.

Dragewig: 150 kg

Ry & Sleep sê
Hy word van ’n dubbele laag skeurvrye poliëster gemaak.

NATURAL INSTINCTS- GESTOfFEERDE SOFASTOEL

Sagkens gestel

Hierdie een is beter gestoffeer as wat jy dink en gemakliker as wat hy lyk. Daar is ’n soortgelyke model op hierdie blaaie, maar op dié een gaan sit jy nie so diep nie.

Prys: R1 000 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 130 kg

Ry & Sleep sê
Dié stoel is iets tussen ’n spinnekopstoel en ’n gemaklike kuipstoel.

NATURAL INSTINCTS-PATIOSTOEL

Vou hom plat

Hierdie stoel lyk ewe tuis op jou stoep, in die agterplaas of in die kampterrein. Hy is stewig, en ondanks die grootte kan hy ’n aansienlike gewig dra. Dit help natuurlik ook dat hy so plat opvou en maklik wegbêre.

Prys: R700 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 115 kg

Ry & Sleep sê
Hierdie stoel bied uitstekende waarde vir geld.

NATURAL INSTINCTS-LEUNSTOEL

Om die swembad

In dié stoel kan jy jou langs die swembad tuismaak met jou boek terwyl jy sonbaai. Die rugleuning slaan amper 45º terug, terwyl die stoel jou bene lig vir hope gemak langs die swembad.

Prys: R1 300 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 120 kg

Ry & Sleep sê
Jy kan die kopkussing se hoogte verstel sodat jy ordentlik jou lê kan kry.

OZTRAIL MOON CHAIR JUMBO

Toegevou in gemak

Jy kry gemaklike stoele en dan kry jy dié outjie. Dit kan dalk ’n tydjie neem om jou sit te kry, veral as jy gewoond is daaraan om regop te sit, maar wanneer jy wegsak in die stoffering reg rondom jou, sal jy voel waarvan ons praat.

Prys: R1 495 by Takealot.

Dragewig: 150 kg

Ry & Sleep sê
Dit voel of daar kussings op die armstutte én agter jou kop is.

IRONMAN 4x4 DELUXE-GEMAKSTOEL

Sink weg

Dié gemaklike stoel van die Australiese handelsnaam hoef nie ’n aks terug te staan vir duurder modelle nie. Jy sit in hope gemak, en boonop bly jou rug en agterstewe warm as die luggie koel raak by die kampvuur.

Prys: R1 095 by 1st Outdoor and 4x4.

Dragewig: 150 kg.

Ry & Sleep sê
Jy sit effens dieper as in soortgelyke modelle en daar is plek vir jou drankie in die armstut. 

CAMPMOR OUTDOOR-REGISSEURSTOEL

Laai maar op

Hierdie stoel lyk dalk eenvoudig, maar hy is gebou vir selfs die swaarste onder die swaarstes. Selfs al sit Os op Beast se skoot, sal die stoel sy man staan. (Wie is die een wat verslank het? – Red.) Jou drankiehouer is deel van die staalraam en jy het ’n sakkie links vir jou blokraaiboek.

Prys: R950 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 250 kg

Ry & Sleep sê
Jy gaan ver moet soek vir nog so ’n sterk derduiwel.

TENTCO NO BOUNDARIES DELUXE-STOEL

Veelsydige Fanie

As jy sy prys in ag neem, bied hierdie stoel puik waarde. Hy is opgewasse vir ’n hoë dragewig en is boonop heel bekostigbaar. Hy het ook ’n groot sak aan die linkerkant vir goed soos jou foon, boek en karsleutels.

Prys: R640 by Camp & Climb.

Dragewig: 180 kg

Ry & Sleep sê
Hy het ook ’n tafeltjie aan die regterkant waar jy jou middagkoffie en beskuit kan staanmaak.

CAPE UNION-REGISSEURSTOEL

‘Chicken or beef?’

Hierdie Director 2-stoel van Cape Union Mart is uniek omdat sy uitvoutafel heeltemal uitswaai sodat jy dit as ’n skinkbord kan gebruik. Hy het ook ’n plek vir jou glas. En wanneer jy hom klaar gebruik het, vou hy uit die pad uit, nes die tafeltjie by jou vliegtuigsitplek.

Prys: R800 by Cape Union Mart.

Dragewig: 100 kg

Ry & Sleep sê
Die stoel is ook beskikbaar in swart en grys en ’n soliede blou kleur.

AFRITRAIL CAMO-REGISSEURSTOEL

Rambo se stoel

Hierdie een se materiaal sal goed pas by die uitrustings van ernstige jagters en voëlkykers. Die opvoutafel aan die regterkant het ’n plek vir jou drankie, kompleet met ’n gleufie vir jou koffiebeker se oor.

Prys: R600 by Takealot.

Dragewig: 130 kg

Ry & Sleep sê

Die tafel is so lank as wat die stoel diep is, wat beteken daar is meer as genoeg plek vir al jou goed.


BUSHTEC MEERKAT-REGISSEURSTOEL

Gebou om te hou

Hierdie is die grootmeneer in Bushtec se nuwe Meerkat-reeks. Jy sit op 600D-poliëstermateriaal wat deur ’n staalraam ondersteun word wat met poeierverf behandel is. Omdat hy vir grootseuns gemaak is, is dit verstaanbaar dat hy ’n volle 9 kg weeg.

Prys: R1 200 by Takealot.

Dragewig: 200 kg

Ry & Sleep sê

Die Meerkat-reeks word vir ’n gawe 5 jaar gewaarborg.

NATURAL INSTINCTS-REGISSEURSTOEL

Vir die tegnoslaaf

Hierdie stoel is nié geskik vir Luddiete nie: As jy verkies om van die tegnologie te ontsnap wanneer jy kamp, sal jy nie juis beïndruk wees met die gleuwe vir jou slimfoon en tablet in die tafel regs van jou nie. Daar is ook ’n sak aan die linkerkant waar jy jou hardeskyf en oorfone kan bêre.

Prys: R700 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 120 kg

Ry & Sleep sê
Dis ’n stoel vir kampeerders wat nie hulle katoeters by die huis kan los nie.

NATURAL INSTINCTS-KINDERSTOEL

Groenie, die drakie

Jou kinders of kleinkinders sal gaande wees oor die helder kleure (daar is ook drie ander keuses beskikbaar) en die vervaardiger het boonop ’n plek gemaak vir die sapbotteltjie.

Prys: R250 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 50 kg

Ry & Sleep sê

Dit lyk net soos Mamma en Pappa se stoel.

BUSHTEC MEERKAT-GEMAKSTOEL VIR KINDERS

Slapenstyd

Dis basies ’n mini-weergawe van ’n kuipstoel, en as Kleintjie aan die slaap raak langs die kampvuur, kan hy heel gemaklik raak. Die stoel het ’n waarborg van twee jaar.

Prys: R415 by Takealot.

Dragewig: 75 kg

Ry & Sleep sê

Kies hierdie een met sy donker kleure as jy kinders het wat maklik mors. 

TENTCO BUNDU-STOEL

Die geheim lê in eenvoud

Dié stoel is trots Suid-Afrikaans en het ’n eenvoudige ontwerp van skeurvrye seil en ’n staalraam wat met poeierverf behandel is. Hy is dus opgewasse vir oom Kleintjie wat desjare op stut gesak het. Die stoel staan breed vir meer stabiliteit en die rugleuning is ewe stewig.

Prys: R515 by Camp & Climb.

Dragewig: 150 kg

Ry & Sleep sê

Omdat hy deur ’n plaaslike vervaardiger gemaak word, is die namarkse diens minder van ’n kopseer.

NATURAL INSTINCTS- KOMPAKTE STOEL

G’n tierlantyntjies nie

Hierdie outjie vou amper heeltemal plat op en kom heel handig te pas wanneer jy nie baie pakplek het nie. Omdat hy ’n rugleuning het, is hy gemakliker as Natural Instincts se driepootstoel elders op hierdie blaaie, maar hulle dragewig is dieselfde.

Prys: R200 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 100 kg

Ry & Sleep sê

Hy is basies dog kompak en liggewig.

IRONMAN 4x4-MIDDELSLAGSTOEL

Nie net vir kinders nie

Dit lyk dalk of hierdie nommer vir kinders bedoel is omdat jy so laag in hom sit, maar hy is meer as opgewasse vir die gewigtiges onder ons. Hy slaan maklik genoeg oop en vou weer lekker klein op.

Prys: R550 by 1st Outdoor and 4x4.

Dragewig: 130 kg

Ry & Sleep sê
Die stoel het boonop ’n unieke ontwerp op die rugleuning – jy gaan beslis die oog tref in die kampterrein.

NATURAL INSTINCTS-DRIEPOOTSTOEL

Hou reg jou kamera!

Hierdie is die kleinste stoel wat ons getoets het. Sy drie pote word deur ’n middelring gevoer om die pote onder en die ondersteuning vir die sitplek bo te skep. Die stoel is nommerpas vir wanneer jy jou met jou kamera in die voëlskuiling tuismaak.

Prys: R150 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 100 kg

Ry & Sleep sê
Dié stoel is ook beskikbaar in rooi en groen.

BUSHTEC-SPORTSTOEL

Waarheen volgende?

Jy kan dié veeldoelige stoel saam karwei na so te sê enige geleentheid of byeenkoms toe. Hy weeg skaars 3 kg en het ’n band waarmee jy hom oor jou skouer dra... nes jou skootrekenaar se sak.

Prys: R410 by Loot.

Dragewig: 120 kg

Ry & Sleep sê
Hy is vir twee jaar gewaarborg en vou lekker klein op wanneer jy hom wil ronddra.

NATURAL INSTINCTS-FEESSTOEL

Kom ons hou partytjie!

Op hierdie een sit jy laag genoeg dat die mense agter jou ook vir Theuns op die verhoog kan sien. Hoewel jy laag sit, is hy gemaklik genoeg dat jou bene nie ná ’n rukkie begin slaap nie.

Prys: R500 by Outdoor Warehouse.

Dragewig: 120 kg

Ry & Sleep sê
Hierdie stoel is ewe tuis op die strand.


Inligting

1st Outdoor & 4x4: 1stoutdoor4x4.co.za

Camp & Climb: campandclimb.co.za

Cape Union Mart: capeunionmart.co.za

Loot: loot.co.za

Outdoor Warehouse: outdoorwarehouse.co.za

Takealot: takealot.com