Ek en my vrou, Elmarie, is ywerige kampeerders wat op ons gelukkigste is as ons die pad kan vat. Ons het baie lank met ons tent oor die weg gekom en dit baie geniet, maar ons het altyd geweet ons sal graag eendag ’n vorm van woonwa agterop ’n bakkie wil hê. Dit maak die lewe darem net baie makliker.

Omdat ons sulke kampentoesiaste is, woon ons gereeld buiteleweskoue by – daar het ons rondgestap en idees ‘geleen’ vir ons droomwa. Ons het gekyk na dít waarvan ons hou en nie hou nie, en alles wat ons gemeen het sou werk, in gedagte gehou. In 2011 het ons op ’n dag besluit die tyd is ryp en ek is na ’n maatskappytoe wat aluminium kan sweis om die kas vir ons droomwa te bou. Ek het vir die mense ’n skets gegee van wat ons wou hê en hulle het dit presies gebou soos ek dit in gedagte gehad het.

Vir die tente is ek metduidelike instruksies na ’n maatskappy toe wat dit ook nommerpas gemaak het.

Foto Jannie en Elmarie Oosthuizen
Foto’s Jannie en Elmarie Oosthuizen

Daarna het ek alles self gebou en geïnstalleer. In die wa is daar slaapplekvir twee op ’n uitvoubed, en daar is 220 V-elektrisiteit, 12 V-LED-ligte en ’n 12 Vbattery.

Ek het ook ’n 100 W-sonpaneel aangebring én binne teen die dak ’n klein verwarmer met ’n termostaat.

Verder is daar ’n water-en-dieseltenk van 45 liter elk. Elke glas, beker, mes en bord het sy eie plek, die wa is geïsoleer, en binne is hy met dun fineerhout afgewerk.

Hy is ook toegerus met ’n 60 liter-ysvrieskas en batterylaaier, én hy is groot genoeg dat ek regop kan staan as die dak opgeslaan is. Daar is pakplek vir my hout of houtskool, en dinge soos die graaf, byl, verlengkoord, gereedskap en gasbottel word buite die slaapplek in ’n aparte stoorplek gebêre.

Die gedoente weeg digby die 570 kg, en as hy op die Mazda 2.5 TD is, gee die bakkie my net meer as 11 l/100 km. Dit het my sowat vier maande gevat om hom klaar te bou. As ons by die huis kom, maak ons hom los en bêre hom dan op ’n staaltrollie.

Ons het al op baie plekke met hom gaan kamp – van Namibië tot in die Krugerwildtuin – en meer as 24 000 km met hom afgelê. Dit was nog net ’n plesier. Hy laat ook die koppe draai – ’n boer het ons selfs tussen Otjiwarongo en Tsumeb van die pad getrek sodat hy die wa van nader kon bekyk.


Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep #85 (Januarie-Februarie 2016) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.