Illustrasies Dominic Wienand

Jy kan net sowel jou kop in ’n byenes druk as jy beweer een vervaardiger se bande is die beste. Daar is selfs argumente oor watter sóórt band die beste is.

Kom ons vermy dié netelige sakie en fokus eerder op ’n paar interessante feite: Van watter soort bande op jou voertuig aard tot wat die 10-jarige Johnny Dunlop vir Kersfees gekry het...

Watter wiele?

Padbande kan in vier subkategorieë ingedeel word: Somerbande (1 hieronder) is wat jy tipies in Suid-Afrika kry as gevolg van ons matige klimaat.

Winterbande (2) is gewild in plekke soos Noord-Europa en Kanada in die Noordelike Halfrond waar dit selfs in laagliggende streke sneeu.

Vierseisoenebande (3) lyk baie soos winterbande, maar hulle raas minder op teerpaaie en het dikwels ’n langer lewensduur.

Hoëverrigtingbande (4) sal jy op sportmotors sien – hulle is glad nie geskik om naby ’n grondpad te kom nie.

Met die uitsondering van vierseisoenebande soos Goodyear se Vector 4Season-bande hoort ’n padband nie eintlik op ’n ernstige veldryvoertuig nie.

Veelterreinbande is geskik vir feitlik alle oppervlakke.

As jy ’n nuwe sportnutsvoertuig of bakkie koop, gaan hy waarskynlik in veelterreinbande geskoei wees. Sommige veelterreinbande is meer geskik vir grondpad as vir teer, terwyl ander weer jubel op teer.

Die spasies tussen die rubberknoppe bepaal gewoonlik hoe “aggressief” so ’n band is. Hoe aggressiewer die loopvlak, hoe beter presteer hy in die bos, maar aggressiewe bande is dikwels raserig op ’n teerpad, het ’n langer remafstand en ’n korter lewensduur.

Veelterreinbande is ’n kompromie tussen pad- en modderbande. Dis die logiese keuse as jy ewe veel tyd in die stad as in die bos deurbring.

Modderbande het vier subkategorieë:

Gewone modderbande is nie beperk tot modderpaaie nie en hulle werk ook lekker op rotse, klippe en sand – én teer as dit moet.

Sandbande is bedoel vir duine. Jy kan hulle uitken aan die ribbes of spane oor die breedte van die loopvlak wat deur die sand “roei”.

Moerasbande is ’n ander ekstreme vorm van modderbande – soos die naam aandui, is hulle geskik vir meer as net ’n hierjy-moddergat.

Radikale bande is bedoel vir uiterste hindernisse waar selfs bobbejane ’n kierie nodig het. Geeneen van die laaste drie ekstreme modderbande hoort op ’n teerpad nie. ’n Snelweg sal hulle aan flarde ruk.

Nommers

Wat beteken die nommers?

Kom ons kyk na ’n gewilde band onder veldry-entoesiaste: Die BF Goodrich 265/ 65 R17 All Terrain T/A KO2 120S. Die eerste syfer-en-lettergroep op die bandwand is die afmetings van die band. Die 265 beteken die band is 265 mm breed; 65 is die dikte van die wand as ’n persentasie van die breedte, met ander woorde die dikte is 65% van 265 mm (265 mm x 65% = 172 mm).

Die R17 verwys na die binneradius van die band (in duim), met ander woorde dié band pas op ’n 17”-wielvelling.

Waarom gebruik bandvervaardigers millimeters én duime? Dis ’n lang storie, maar kortom bemoei Ameri- kaanse wetgewing hom met die binneradius (in duim) terwyl Europese bandevervaardigers ook fokus op bandbreedte (in millimeter).

Aangesien Amerika ’n belangrike mark is vir bandevervaardigers – en Amerika een van slegs twee lande is wat nog duim gebruik (die ander is Liberië) – word vervaardigers gedwing om die duimafmeting te behou.

All Terrain T/A KO2 is bloot die naam en modelweergawe van die band. Die laaste syfers en nommer op ’n bandwand is die vrag- en spoedindeks. In hierdie geval bepaal die 120-vragindeks dat hierdie band ’n gewig van 1 400 kg per wiel kan dra en die S beteken dat die bande beperk is tot ’n veilige topsnelheid van 180 km/h. 

Getalle en nommers

Hoe wissel ek bande?

As jy die maksimum lewensduur uit jou bande wil kry, moet jy hulle gereeld wissel. As jy dit nie doen nie, gaan hulle oneweredig afloop en dan moet jy een van hulle vervang vóór die res.

Finansieel gesproke klink dit dalk na ’n aanvaarbare plan om hulle een op ’n slag te vervang, maar ’n nuwe band se omtrek is effens groter as ’n ou band s’n en dit kan onnodige spanning op jou voertuig se ewenaars plaas.

So wissel jy bande

As jou bande ’n rigtinglose loopvlak het (alkant selfkant) is dit goed dat jy hulle oorkruis roteer. Links voor na regs agter, regs agter na regs voor, regs voor na links agter en links agter na links voor. Dit is ’n goeie idee om jou noodwiel by die rotasie in te sluit, want hy gaan in elk geval nie vir ewig hou nie, selfs al gebruik jy hom nooit.

As jy ’n noodwiel ná 10 jaar die heel eerste keer uit sy bêreplek haal, gaan jy ontdek die rubber is bros en vol krake. Suurstof is rubber se grootste vyand. Selfs al word jou noodwiel deur ’n dop of seiltjie bedek, gaan die lug in die band hom geleidelik van binne af opvreet.

As jou bande ’n bepaalde rotasierigting het, kan jy hulle nie kruisroteer nie (tensy jy hulle van die wielvellings afhaal) en jy kan hulle slegs links voor na links agter, en regs voor na regs agter wissel. As jou sportnuts ’n Mariebeskuitjie-noodwiel het, kan hy uiteraard nie by die rotasie ingesluit word nie.

Wat’s fout met my loopvlak?

Die loopvlak

Hierdie band (A hierbo) loop meer teen die kante af as in die middel. Dit is ’n teken dat jy vir lang tydperke met ’n banddruk gery het wat té laag was. Pomp jou bande op, Piet. (B) In dié illustrasie loop die middel van die band meer af as aan die kante. Die rede hiervoor is dat die band té styf opgepomp is.

Verlaag die banddruk ’n slag, Boeta. As die loopvlak meer afgeloop is aan die een kant as ander kant (C en D), beteken dit die wielsporing is uit posisie gestamp toe jy gaan 4x4 het (of ’n sypaadjie geklim het). Jy moet jou trokkie na ’n diensentrum neem om dit in te stel, Sakkie.

Herstel van bande

’n Bietjie geskiedenis

Dit is onduidelik wie die eerste waens met wiele gebou het. Argeoloë glo dit is rondom 3300 v.C. op dieselfde tyd in Mesopotamië (Midde-Ooste) en die Kokkusse (Oos-Euro- pa) uitgevind. Die eerste wiele is van hout gebou en was gegrond op platgeplaaste pottebakkerswiele en meulstene van klip wat reeds sedert die Neolitiese era (10000 tot 4000 v.C.) in gebruik was.

Jy kan vandag die oudste fisieke voorbeeld van ’n antieke houtwiel in die Ljubljana-stadsmuseum, Slowenië, besigtig. Laboratoriumtoetse plaas die oorsprong van die “Ljubljana-wiel” in die jaar 3030 v.C. Die eerste rubberbuiteband is deur die Skotse veearts John Boyd Dunlop in 1887 ontwikkel.

Dunlop het die rubberbuiteband vir sy 10 jarige seun, Johnny, se driewielfiets (foto hiernaas) gemaak om die stamperige rit te versag. Die rubberbuiteband is egter reeds in 1847 deur ene Robert William Thomson gepatenteer, hoewel Thomson nooit ’n fisieke voorbeeld daarvan gemaak het nie