Spaar sonkrag

Citizen Eco-Drive BM7390-14E

Gewig 67 g Kassiegrootte 42 mm

Dié klassieke vlieënier-styl kwartshorlosie werk met sonkrag en het nooit ’n nuwe battery nodig nie. Dis akkuraat, uitstekend gemaak en kan ses maande lank werk indien die son nooit skyn nie.

Die kassie word gemaak van vlekvrye staal en die bandjie van nylon. Albei is liggewig, duursaam, pas gemaklik, en is waterwerend tot ’n diepte van 100 m. Dié horlosie is mooi genoeg vir ’n formele dinee, maar kan elke dag se stampe en stote hanteer.

R3 000; citizenwatchshop.co.za

Die oorpresteerder

Apple Watch Series 4

Gewig 40 g Kassiegrootte 40/44 mm 

Die vyfde inkarnasie van die Apple-horlosie is tans beskikbaar, maar die vierde reeks is R3 000 goedkoper en bied beter waarde vir geld. Albei het ’n goeie verskeidenheid apps, is veeldoelig en alles werk seepglad.

Die Apple-horlosie staan kop en skouers uit bo ander slimhorlosies. Verlede jaar is wêreldwyd meer Apple-horlosies verkoop as alle Switserse horlosies sáám.

Die Series 4-horlosie monitor jou hartklop, meet hoeveel meter jy geklim, afstand afgelê en kalorieë verbrand het. Daarby is dit stof- en waterbestand tot 50 m diep. Dit verskaf wel nie soveel verrigtingsdata soos die Garmin Fenix nie, maar is steeds ’n indrukwekkende stuk toerusting. Dis net die kort batterylewe wat pla. Series 4 vaar beter as Series 5, want dié se skerm bly heeltyd aan.

Kry die Nike+-bandjie met gaatjies vir ventilasie en gemak.

Vanaf R5 000 (40 mm); myistore.co.za

WINSKOPIE

Timex Expedition Ranger

Gewig 54 g  Kassiegrootte 43 mm

Hierdie elegante kwartshorlosie gebruik sonkrag en het ’n kragreserwe wat tot vier maande kan hou én dis waterbestand tot ’n diepte van 50 m. Die klassieke kombinasie van die taankleurige leerbandjie en blou gesiggie maak dit geskik vir werk en kerk.

Dis ’n goeie horlosie, maar ’n mens mis Timex se Indiglo-lig wat die gesig sigbaar maak in die donker. Die Expedition PIO teen dieselfde prys het die Indiglo-lig, maar is nie songedrewe nie.

R2 350; bellaluna.co.za   

BOMBESTANDE PADVINDER

Casio G-Shock Mudman G-9300-1DR

Gewig 68 g Kassiegrootte 50 mm

  Die G-Shock-reeks is bonkige horlosies wat wêreldwyd ’n ongeëwenaarde aanhang geniet. Die stilering is dalk nie sag op die oog nie, maar dié horlosies is so taai soos kan kom.

Die reeks bied verskillende horlosies met verskillende eienskappe teen verskillende pryse. Ons hou van dié songedrewe een, want dit bied ook ’n digitale kompas en rigtingsensor, asook ’n termometer. Daarby is dit skok-, modder- en waterbestand tot op 200 m diep. Hierdie horlosie gaan jóú waarskynlik oorleef.

R4 500; thecasioshop.co.za

VIR DIE REISIGER

Luminox Space Series S.X.C. Carbon GMT

Gewig 64 g  Kassiegrootte 46 mm

Hierdie horlosies word in Switserland vervaardig en is gewild onder Amerikaanse Marine-soldate, wat getuig hoe betroubaar en taai dié horlosie is.

Hierdie een uit die Space Series is nogal bonkig, maar heel lig danksy die koolstofveselpolimere wat die kassie van vlekvrye staal versterk. Luminox vervaardig uitstekende duikhorlosies, maar ons het dié gekies omdat dit ’n tweede tydsone wys (Seker as jy in Irak diens doen. – Red.) en tot 200 m onder water werk.

Die aanwysers en uurstrepies is behandel met slim ligtegnologie wat verseker dat die gesiggie tot 25 jaar lank in die donker gloei. R6 300; luminoxwatches.co.za

WATERSTRYDER

Seiko Solar 200 Prospex 

Gewig 138 g  Kassiegrootte 44 mm

’n Mens kry twee soorte duikhorlosies: Ingewikkelde digitale nommers wat deur skubaduikers gebruik word en duur meganiese horlosies wat net mooi lyk.

Hierdie songedrewe kwartshorlosie is glad nie goedkoop nie, maar gebou om te hou en kan inderdaad tot op 200 m diep werk. Daar is ander Prospex-duikhorlosies in die reeks met beter eienskappe (ook duurder), maar hierdie een is mooi én doen wat hy moet.

R7 500; seikoboutique.co.za

SUPERSOLDAAT

Victorinox I.N.O.X. Titanium

Gewig 93 g Kassiegrootte 37/43/45 mm

Wat vakmanskap en bougehalte betref, is dié horlosie tops. Met die maak daarvan word dit aan verskeie taai toetse onderwerp – altesame 130 daarvan! Dit sluit in val van ’n drieverdiepinggebou af en ’n 64 ton-lorrie wat oor die horlosie ry...

Daar is verskeie horlosies in die reeks, onder meer een met ’n valskermtou as bandjie. Die liggewig titaniummodel is ons keuse, want dis mooi genoeg vir die raadsaal en taai genoeg vir die berg.

R10 000; wolfbros.co.za

WERKVERRIGTINGSVENNOOT

Garmin Fenix 6

Gewig 83 g  Kassiegrootte 42/47/51 mm

Goed, jy het genoeg geld en jy soek die beste slimhorlosie vir buite-avonture – dan is hierdie jou keuse.

Garmin verkoop wel duurder horlosies (sien die M.A.R.Q.-reeks), maar die Fenix 6 is beter waarde vir geld. As jy egter ’n paar rand wil spaar, is die Fenix 5 en die nuwe Garmin Instinct albei goeie kopies.

Die Fenix monitor jou hartklop, bied Pulse Ox-sensors, ’n barometriese hoogtemeter, hardloop- en fietssensors, ’n drie-as- elektroniese kompas, uitstekende GPS-tegnologie en baie meer. Dit versamel dieselfde soort data wat die Garmin Connect-app inwin, verwerk en vertoon die inligting.

Jy kan die Pro-vlak aanskaf wat vir jou musiek, Wi-Fi en ’n kraptrae Sapphire-lens gee. Die horlosie is beskikbaar in verskillende polsgroottes, én daar is een wat met son werk.

Vanaf R10 000;

Mode aan jou pols

Gee ’n ou horlose nuwe lewe met’n nuwe bandjie. Jy kort net ’n veerstaaf (spring bar tool, R220, watchstrapssa.co.za).

NATO-bandjie 

Duursame, gestikte seilband wat gewoonlik van nylon gemaak is. Dis bonkig, relatief goedkooop en beskikbaar in verskeie patrone en kleure.

Vanaf R300; watchstrapssa.co.za

Rubber of silikoon 

Waterbestand, hipo-allergenies en beskikbaar met gaatjies vir ventilasie. Dié bande sal nie verdof van van die son nie; en vergaar nie stof nie.

Vanaf R300; mywatchstore.co.za

Leer

Dis ’n klassieke keuse en tydloos. Die wedren-weergawe het gaatjies vir ventilasie.

Vanaf R500; trendhim.co.za