As jy destyds die fliek The Gods Must be Crazy gekyk het, sal jy moontlik die skreeusnaakse toneel onthou waarin Marius Weyers sy Land Rover in ’n boom ophys.

Dié toneel het waarskynlik ’n gros jong kykers mateloos beïndruk en gesorg vir drome om ook eendag ’n ryding met ’n wenas te hê.

Voeg daarby die SAUK se uitsending van die Camel-trofee wat ongetwyfeld dié toestel verder in jong psiges ingeëts het. Daardie hardebaard manne wat kniediep deur modder beur met wenaskabels oor hulle skouers was heldemateriaal. As jy egter ’n wenas op jou eerste veldryer laat monteer het sonder om twee keer daaroor te dink, het jy dalk die ironie beleef dat dit 99% van die tyd ’n nuttelose katoeter is, maar een waaroor jy innig dankbaar is die dag as jy hom wel nodig kry.

Lees eers hier voor jy een koop.

Vóór jy koop

Hoe sterk?

Die basiese reël is dat ’n elektriese wenas minstens 1½ keer die brutovoertuigmassa (BVM) van jou voertuig moet kan sleep.

’n Jeep Wrangler het ’n BVM van nagenoeg 2 500 kg. Maal dit met 1½ en jy kry 3 750 kg. Aangesien ’n wenas se trekvermoë in pond aangegee word, moet jy die metrieke getal omskakel na pond (lb); in dié geval 8 267 lb.

’n T-MAX 8500LBS XPOWER wat 8 500 lb kan trek, sal dus deug. As jy ’n boswoonwa na die Epupavalle toe sleep – met kos en kamptoerusting – moet jou wenas eerder sterk genoeg wees om 1½ keer jou voertuig se brutokombinasiemassa (BKM) te sleep.

’n Nuwe Nissan Patrol het ’n BKM van 7 000 kg, wat beteken jy gaan ’n bul van ’n wenas soos die Warn Series 15-S Spydura ProMax moet vasbout as jy dié Patrol met ’n swaargelaaide Aloe Lebombo op die haak uit ’n sloot wil herwin. Maak dus die som vóór jy ’n wenas koop.

Staal of sinteties?

’n Wenas is tradisioneel toegerus met staalkabels, maar deesdae word dit toenemend vervang met sintetiese tou (of plasmatou). Dit is ligter as staal, dit roes nie, dit is meer buigsaam, dryf op water en is sterker as staal – en as dit wel breek, is dit taamlik maklik om te herstel.

Die belangrikste van alles is dat tou nie kinetiese energie berg nie. Dit beteken ’n sintetiese tou sal nie soos ’n sweep klap en lyfhoogte na jou toe aangevlieg kom wanneer hy breek nie – iets wat dikwels met staalkabels gebeur.

Dit val eerder bloot slap op die grond.

Waarom dan ’n staalkabel kies as sintetiese tou só ’n wonderproduk is? Sintetiese tou is sensitief vir sonlig en chemikalieë, en raak geleidelik swakker, veral as jou trokkie vir lang tye buite staan. Dit rafel uit as bosse aanhoudend daarteen skuur.

Sintetiese tou is oor die algemeen beter as staalkabels, maar dit is allermins ’n uitgemaakte saak.

Sleeptaktiek

Hier is ’n paar truuks wat jy gerus kan aanleer om die meeste uit jou wenas te haal.

Sterk, sterker, sterkste

Meganiese voordeel is ’n beginsel wat bepaal dat jy krag kan vermeerder deur hefbome, ratte of katrolle in te span om die werklas te verminder.

Meganiese voordeel is die hoeksteen van 4x4’s en ons pas dit elke dag toe wanneer ons groter bande opsit om makliker oor rotse te klouter, banddruk verlaag om beter in sand te ry, en laestrekratte haak om berge te verower.

As jy nie ’n Warn Series 15-S Spydura ProMax kon bekostig nie en jou goedkoop Chinese 1 ton-wenas sukkel om jou uit ’n verknorsing te katrol kan jy dié beginsel gebruik om jou wenas se trekkrag te verdubbel deur ’n greepkatrol (snatch block) aan ’n ankerpunt vas te bind, jou kabel daardeur te spoel en terug te lei na jou voertuig.

Hoewel dit die trekkrag verdubbel, halveer dit ook die spoed waarteen jou voertuig uitgesleep word. As jy die trekkrag wil verdriedubbel, kan jy twee greepkatrolle gebruik – een by die ankerpunt en een by jou voertuig – maar dan gaan jy omtrént teen ’n slakkepas vorder.

Agterstevoor

Daar is ’n grappie wat lui dat ’n mens ’n wenas eerder op die agterbuffer moet vasbout, want jy wil jou mos nie dieper in die moeilikheid inkatrol nie.

Om ’n voertuig wat nie meer vorentoe kan beweeg nie, agtertoe uit te trek met ’n wenas wat voorlangs gemonteer is, is redelik eenvoudig. Al wat jy nodig het, is twee ankerpunte (verkieslik drie) en drie greepkatrolle.

Eerstens moet die ankerpunte op die regte plek in verhouding tot die voertuig wees. Een moet reg voor die voertuig wees (so ’n bietjie na ’n kant toe sal help); die ander twee moet agter die voertuig wees.

Die kabel word dan van die wenas deur die eerste greepkatrol na die volgende ankerpunt agter die voertuig gelei. By hierdie ankerpunt word dit deur die tweede greepkatrol na die agterkant van die voertuig herlei.

En hier word dit deur die derde en laaste greepkatrol wat aan die voertuig vas is, weer terugherlei na die agterste ankerpunt. Die voertuig gaan nie vinnig agtertoe beweeg nie, maar as jy geduldig genoeg is, sal jy jou uit ’n tameletjie kan kry.

Moets en moenies

’n Wenas is nie ’n speelding nie. Let op die volgende veiligheidsmaatreëls as jy wil hê niemand moet seerkry nie.

Verkeerd

Moenie wydsbeen oor die tou staan of oor dit klim terwyl dit onder spanning is nie. ’n Kabel wat dán breek, gaan jou erg beseer. Trouens, sodra die kabel onder spanning geplaas is, moet jy en jou maats ver wegstaan.

Reg

Maak die wenas se koppelaar los en trek die kabel met die hand uit eerder as wat jy die wenasmotor gebruik. Só spaar jy batterykrag én die wenasmotor. Probeer om amper die hele kabel uit te rol. 


Reg

Maak jou voertuig se enjinkap oop – dit sal ’n kabel keer wat terugskiet. Jou wenas se afstandbeheer het ’n lang koord wat jou in staat stel om agter die stuur te sit met jou voete op die pedale. Hou die toere hoog en wees gereed om te rem.

Verkeerd

Ja, dis vrekinteressant om ’n voertuig te herwin, maar moenie toelaat dat ’n skare langs die kabel vergader nie. Daar is soveel hartseerstories van toeskouers wat beseer is nadat ’n herwinningsproses verkeerd geloop het.


Reg

As daar nie ’n voertuig, rots of boom naby is om jou te anker nie, kan jy ’n gat grawe, die noodwiel ingooi, die kabel deur die naaf stuur en aan ’n hoëligdomkrag aan die ander kant haak. Hoe losser die sand, hoe dieper die gat.


Reg

’n Greepkatrol stel jou in staat om die rigting van die kabel te verander sodat jy óm ’n hoek kan herwin. Dit is veral nuttig as jy ’n maat uit ’n ongemaklike posisie wil katrol waar daar nie ruimte is om ’n plukstrop (snatch rope) te gebruik nie.

Verkeerd

’n Voertuig se sleephaak is nie ’n herwinningspunt nie. Moet nooit jou wenas se kabel daaraan haak nie – en beslis nie ’n plukstrop nie. As die bol afbreek, skiet hy soos ’n kanonkoeël deur die lug. En as daai ding iemand tref...


Verkeerd

Moet nooit ’n staalkabel óór ’n rots laat span nie. Die rots gaan hom laat uitrafel en dan is die kabel tot niet. Sintetiese toue met plastiekmoue vaar effens beter, maar verhinder eerder dat ’n kabel of tou aan iets skuur wat skerp of grof is. 

Wenke vir nadenke

Op- of afgerol?

Die doeltreffende krag waarmee die wenas trek, word beïnvloed deur die hoeveelheid lae van die kabel wat op die wenas se spoel is. Hoe minder kabel aan die spoel, hoe sterker die krag waarmee die wenas trek. Dus is dit voordelig om die kabel so ver as moontlik uit te rol voordat jy begin met die herwinningsproses.

Maak seker daar is darem so vyf draaie van die kabel op die spoel oor – jy wil nie hê die kabel moet van die spoel af loskom nie.

Dra swaar

’n Wenas met ’n staalkabel weeg ongeveer 40 kg (net ’n raps minder as die kabel met ’n sintetiese tou vervang word). Indien jy dit voor op jou voertuig monteer, moet jy in ag neem dat daar gewig verby die voorwiele gevoeg word; dus sal jou vering waarskynlik ook aangepas moet word om die ekstra gewig te hanteer.

Jy moet ongelukkig ook jou voertuig weegstasie toe neem en die nuwe tarragewig by die owerheid registreer.

Hou vas

Omdat die wenas baie trekkrag op die voertuig uitoefen, is dit belangrik om dit op ’n stewige staalplaat te monteer wat direk aan die onderstel vasgesweis is. Die meeste bosbrekers het ’n ingeboude wenasplaat, en die bosbrekers word ook direk aan die onderstel vasgebout. As jy nie jou luukse sportnuts se voorkoms wil verander nie, kan jy die wenas agter die standaard-plastiekbuffer op ’n plaat monteer, en net ’n gat deur die buffer sny vir die kabel.

Grawe oop en laai uit

Moenie lui wees en ál die verantwoordelikheid op die wenas plaas nie. Jy kan sy betroubaarheid verhoog en sy lewensduur aansienlik verleng as jy help waar jy kan.

Grawe die wiele oop voor jy begin met die herwinnigsproses, en as jou voertuig vol verveelde familielede sit, moet jy hulle vra om terstond uit te klim en solank ’n koffietjie en beskuit voor te lê as loon vir jou heldedaad. Jy kan gerus ook jou boswa afhaak – hom kan jy later nader sleep.

Pas hom op

Jy moet jou wenas minstens elke tweede maand gebruik – al is dit net in jou werf. Rol die kabel of tou uit en haak dit aan ’n boom. Katrol jou veldryer nader met die wenas. Die wenas se motor moet warm word sodat die olie kan sirkuleer.

/

Belangrike toerusting

Boombeskermers

’n Staalkabel wat om ’n onbeskermde boomstam trek, sal die bas sny (ring bark) en die boom sal mettertyd vrek. Draai ’n boombeskermer óm die stam, so na as moontlik aan die grond. Waardeer die natuur; moenie een van dáái ouens wees nie.

Herwinningskomberse

Om die gevolge te probeer demp van ’n kabel wat die gees gee, kan ’n herwinningsak, herwinningstou of herwinningskombers bo-oor die kabel gehang word. Dit sal die sweepslag van die kabel dramaties verminder en moontlik iemand se lewe red.

Boogskakels

Moenie boogskakels dwars draai nie, want hulle is nie ontwerp om sywaartse spanning te verduur nie. Haak die boog deur die herwinningspunt en haak die kabel aan die pen, anders kan die skakel buig en dan kry jy hom nie weer los nie.

Handskoene

Dra handskoene, veral as jy ’n staalkabel gebruik. Staalkabels rafel soms uit en as jou hande oor ’n beskadigde kabel gly, gaan hy jou lelik seermaak én dit gaan boonop ontsteek as jy nie dadelik ’n klem-in-die-kaakinspuiting kry nie