Foto’s Leon Botha  

Net soos by die huis waar jy (of Boeta) moet grassny of ’n lekkende kraan vervang, is dit van tyd tot tyd nodig om ’n bietjie instandhouding aan jou wa te doen.

Party slepers deins nie daarvoor terug om self hulle wa se wiellaers na te gaan of selfs die koppelstuk te diens nie, maar sommige takies is selfs makliker as dit, soos om ’n gekraakte of stukkende venster te vervang.

Jou woonwa se Perspex-vensters kan bloot weens verwering begin kraak – veral by die knippe wat daarin vasgeskroef is.

Ons het aangeklop by Jan Swanepoel, direkteur van Worcester-woonwaens, wat stap vir stap vir ons verduidelik het hoe om self ’n venster te vervang. Dis só maklik –enigiemand wat ’n boor kan vashou en ’n skroewedraaier gebruik, kan dit doen.


Stap 1: Haal af

  • Die oopmaak-vensters aan jou wa skarnier aan twee gevormde aluminiumstroke wat aan die bokant van die venster loop. Die een strook is aan die wa vas en die ander een aan die venster. 
  • Die venster se strook gly in die een teen die wa op min of meer dieselfde manier as wat jou tent in daai groefie aan die rand van jou wa inryg, maar met genoeg speling sodat dit op en af kan beweeg wanneer jy die venster oopmaak. Om te sorg dat die venster nie rondskuif in dié gleuf nie, is daar ’n klinknael aan weerskante van die aluminiumstrook.
  • Verwyder die klinknael aan die kant waar jy die ruit wil uitskuif. 
  • Skroef die twee stutarms (wat die ruit oophou wanneer jy dit oopswaai) los en tel die ruit op sover as wat jy kan.
  • Skuif die venster terwyl jy dit opgetel hou, in die rigting waar jy die klinknael verwyder het. 

Stap 2: Skroef los

  • Sit die ruit op ’n plat oppervlak – verkieslik oorgetrek met materiaal sodat jy nie die nuwe ruit beskadig wanneer jy daaraan werk nie. 
  • Draai die skroefies van die vensterknippe uit die ou ruit.

  • Die knip het twee dele – ’n deel elk aan weerskante van die ruit waardeur die skroefies draai – asook ’n rubberseël aan elke kant om te sorg dat daar nie water lek nie . As die knippe beskadig is kan jy by enige goeie kampwinkel nuwes koop.

Stap 3: Besluit hoe

Die nuwe ruit het nie gaatjies waar die handvatsels weer moet vaskom nie – jy moet self op die ruit merk waar jy die gaatjies gaan boor.

Jy het twee keuses: Óf jy kan die ou ruit bo-oor die nuwe een pas en die gaatjies deur die ou gaatjies afmerk óf jy kan die nuwe een op sy plek hang en dan ooreenstemmend met die handvatsels die gaatjies merk. (Laasgenoemde metode is akkurater, meen Jan.)

  • Gly die nuwe venster in die groef. As dit effens stram is, gebruik ’n smeermiddel soos Q20.


  • Laat sak die ruit en kyk dat die buiterand daarvan eweredig pas oor die vensterrubber in die bakwerk daaragter, soos hieronder.
  • Laat iemand in die wa klim en die binnekantse gedeeltes van die knippe presies in plek hou – asof die knip toe is.
  • Merk die gaatjies van buite af met ’n kokipen op die ruit. 

Stap 4: Versigtig nou

  • Sit die gemerkte ruit terug op die werkbank om die gaatjies te boor. Gebruik ’n 6,5 mm-boorpunt, maar stel die boor se draairigting antikloksgewys – die teenoorgestelde rigting wat dit gewoonlik draai. Jy wil nie ’n gaatjie deur boor nie, maar as ’t ware deursmelt. (As jy die boor in sy gewone rigting laat draai, is die kans goed dat die boor in die perspeks vasbyt en dan die ruit seermaak of selfs kraak – veral as dit ’n skerp boortjie is.) 
  • Druk die boorpunt op die kokipenmerk en begin boor. Moenie die boor druk nie; die gewig van die boormasjien is goed genoeg. Wees net geduldig. Moet ook nie ophou boor voor die gaatjie heeltemal deur is nie. As jy halfpad stop, kry die gaatjie ’n oneweredigheid binne wat dit moeilik maak met die tweede probeerslag. 

Stap 5: Sit alles terug

  • Draai die skroefies van die knippe se kante weer terug – onthou om die twee seëls ook terug te sit. 

Stap 6: Maak klaar

  • Skuif die ruit terug in die aluminiumstrook.
  • Skroef die twee stutarms se knippe vas.
  • Sit ’n nuwe klinknael terug.
Weg Ry & Sleep sê
Dit behoort jou skaars ’n uur te neem om so ’n venster te vervang. Dit is wel ’n slim plan om hulp te kry met ’n groot ruit sodat jy nie die ruit (of jou rug!) met die insitslag buig of breek nie.